Philip de Vos. Die Wysies draai Om en Om

 

 

If music be the food of love, play on.” Soos almal behoort te weet, was dit woorde van die wyse William Shakespeare wat al 400 jaar gelede met ‘n gansveer neergepen is, voor die tyd van computers, en e-posse (behalwe dat een of twee van sy toneelstukke vir vandag se ore wel na eposse klink.) Dink maar aan Hamlet. Jy sit jou agterwêreld deur in die teater voordat die hele verhoog uiteindelik en byna drie uur later met lyke besaai lê. Maar sommer hier in die eerste paragraaf dwaal ek alreeds af, want dis eintlik oor musiek wat ek my sê wil sê en nie oor Heer Shakespeare nie. Maar ‘n beginparagraaf moet mos altyd die punch hê om jou te laat regopsit en hier in die vroeg een-en-twintigste eeu tot die einde te laat deurdruk, want vir sages van drie uur of boeke van 800 bladsye (behalwe as dit ’n skryfsel van Karel Schoeman is) het ons deesdae maar min tyd of lus.

Musiek? Vir my ore, wat in die veertigerjare na Lion’s Hits of the Week geluister het en die ore van tieners wat deesdae elke naweek gaan rave en mekaar so tussen die musiek deur betas, is daar alreeds ‘n kloof so groot soos die Grand Canyon (waarskynlik die grootste donga op aarde) As ek nou se dae praat oor How much is that Doggie in the window of dalkies van I went to your wedding waar, volgens die liedjie, byna die hele kerk gedurende die troudiens in trane was, dink vandag se jongmense ek is òf vreeslik naïef òf erger nog: stapelgek. En miskien is hulle reg. Maar hulle sal nooit verstaan nie, want tussen Die Antwoord en Die trein na Pretoria lê daar ten minste 40 jaar waar jongmense van vandag oud en sinies voor hulle tyd geword het en ons oues van dae naïef gebly het.

En kan ons hulle kwalik neem? Die dae van my jeug was werklik so ongekompliseerd as kon kom. Die ergste wat vir my in die in die jare vyftig kon gebeur, was dat James Dean en Marilyn Monroe veels te vroeg dood is.

Ek het nog in die tyd van die draadloos grootgeword, in die dae toe net die rykes gramofoonplate kon bekostig, en die ander maar ewe gedweë voor die draadloos moes sit en luister na musiek. En elke oggend na 7-uur was dit net musiek, musiek, musiek. Want in daardie dae was daar nie moord en doodslag soos vandag nie. Ek vergeet maar liewer van die Tweede Wêreldoorlog en sy nagevolge, want dit was êrens in Europa en vir my was dit eerder die dae van jo-jo’s en die hoelahoep.

En van die bestaan van klassieke musiek het ek nie eens geweet nie behalwe natuurlik op ‘n Saterdagaand as ek vasgenael gesit het voor die draadloos en geluister het na U eie Keuse. En dit was telkemale of Die Nonnekoor uit Casanova, of Tchaikovky se Italiaanse Caprice, en week na week na week was dit Dvorak se Humoresque totdat ek gevoel het ek gaan skree, maar vir Dvorak het ek darem intussen vergewe toe ek vir die heel eerste keer sy Nuwe Wêreld-simfonie gehoor het.

En toe – ‘n paar jaar gelede ontdek ek mos dat U eie Keuse na al die jare weer terug is. En skoon nostalgies hoor ek dat dit steeds nog na al die jare dieselfde kenwysie het. MAAR toe – en ek kon my ore nie glo nie, hoor ek: “En op versoek van Mevrou So-en-so van Kakamas speel ons ‘n opname van Dvorak se Humoresque.” En ek wou sommer oombliklik afskakel, maar het gefassineerd geluister. Ek wou nog steeds soos 50 jaar tevore skree as ek hierdie stuk luister, maar een ding het ek seker geweet: daar moet tog sekerlik mense in hierdie landjie van ons wees wat van hierdie simpele stuk musiek hou, maar nie ekke nie…

Dan is daar daardie wysies wat in in ’n mens se kop bly vassteek en waarvan jy met geen wil op aarde ontslae kan raak nie. Een insident onthou ek goed, en dié het my ampertjies tot raserny gedryf. Dit was in 1959 – sowaar 51 jaar gelede! Ek was steeds op universiteit en ek was besig om Staatsleer te swot vir die volgende dag se eksamen. En terwyl ek swoeg en sweet om my kop vol te prop met ‘n hele jaar se werk, kom daar skielik hierdie wysie in my kop. As dit nou ‘n mooi stuk werk was, sou ek dit seker nog kon verdra, maar soos die noodlot dit wou hê, was dit Adelaide’s Lament uit die musical Guys and Dolls. Ek het die rolprent ‘n ruk tevore gesien waarin Adelaide, die hoogs neurotiese karakter oor haar verkoue sing, en wat vererger word omdat sy nie ‘n man kan kry nie. En die ergste is, sy sing dit met ‘n hoë blikstemmetjie met ‘n Bronx-aksent. En daar kom steek dié wysie in my kop vas, met al die vrou se steminfleksies en ek kon nie met die grootste wil op aarde daarvan ontslae raak nie: The female remaining single, just in the legal sense, has a neurotic tendency to …..” Ek wou skree maar Adelaide was binne-in my kop en sy wou nie ophou sing nie. En die volgende dag was dit eksamentyd! Uiteindelik het ek desperaat vir my ma gesê ek gaan net vir tien minute dut, en daarna sou ek voortleer en hopelik vir Adelaide vergeet Maar toe ek 10 minute later wakkergeskud word, was Adelaide nog steeds in my kop met haar The female remaining single, just in the legal sense…

Luister maar self …

  http://www.youtube.com/watch?v=aGF8SDAj2YA

 

Ek het toe maar gaan slaap en geweet ek gaan dop, en toe die eksamenuitslae kom, sien ek ek het ‘n onverklaarbare onderskeiding vir Staatsleer. Dankie Adelaide, jy kan maar enige tyd weer in my kop kom rondkuier.

Maar dan is daar weer dié wysies wat my altyd met nostalgie vervul. So was dit met Ketelbey se In a Persian market. Dit was vir my mooiste stuk musiek op aarde (alhoewel dit deesdae vir my ore ietwat kitcherig klink). Elke keer as ek by my oom en sy gesin in hulle huis langs die treinspoor gaan kuier, moes Sophie en Chrissie vir my plate speel. En natuurlik In a Persian Market. Aan die einde van die musiek is daar ‘n lang pouse en ‘n yslike klimaks van ‘n akkoord wat my laat wip het van die skrik.. Maar gelukkig het ek geweet dit kom, want die plaat het ‘n kraak gehad en daar was drie klikke voordat ek met kloppende hart ‘n gilletjie gee.. 

En die anderdag koop ek toe so skelmpies ‘n CD van Ketelbey se musiek en steek dit half gerieflik agter die ander CD’s weg, net sodat my intellektuele vriende nie moet dink ek het slegte smaak nie.

Maar – elke keer as ek alleen is, sit ek die CD op en wag ek vir daardie yslike akkoord. Maar CD’s het nie gerieflike krappe op nie, en ek moet met die grootste spanning sit , want ek weet nie presies wanneer dit kom nie.

En na ek uiteindelik klaar van die skok herstel het, sug ek behaaglik so op my eentjie. Ai, daardie ou dae was darem lekker…

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Philip de Vos. Die Wysies draai Om en Om”

  1. Marlise :

    Philip, nou wil ek sommer die volume van nostalgie [en romantiese naïwiteit dan] oor ou grammofoonplate uit my eie jeugjare so aksie hoër draai … ek het ook in die tyd van die draadloos grootgeword, maar daar was ook baie ou grammofoonplate en speler in die huis. Plate was nie net vir rykes nie, glo my, want my ouers was beslis arm onderwysers sover ek weet, maar hulle kon wel plate bekostig. Of dalk was dit ‘n passie waarop hulle maar die geldjies afgeknyp het. Vandag het ek steeds van hierdie Colombia & His Master’s Voice e.a. pikswart plate, in perfekte toestand! [Is dit iets werd vandag? Of is dit maar nou bedoel om handsakke van te maak of teen mure van restaurante as dekorasie op te plak…?]. My ouers was kranige dansers. Saterdae-aande het hulle by die Grand Hotel in die dorp gaan dans. Hulle het my nie alleen by die huis gelos nie, maar saamgeneem. Daar was genoeg ander kinders om mee te speel op die stoepe en in die gangetjies af. Ek onthou hoe ek die vroue se lieflike wye aandrokke bewonder het, die verliefde swewende pare oor die dansbaan. Soms het ek aan die kant met my oor op die houtvloer van die dansbaan gelê en die wippende vloer as gevolg van die ritmiese voetwerk geniet. Ek kyk nou na een van hierdie albums met die dikke bruinpapier omhulsels vir die plate. Hier is ʼn paar titels – dalk ken jy hulle? – :
    I don’t want anybody at all – quick step. Victor Silvester and his ballroom orchestra;
    In a golden couch – Waltz;
    Mandulinata di Napoli –Italian folk-song, Joseph Schmidt;
    Love Serenade, Richard Tauber;
    Don’t be cross, Richard Tauber;
    Coppelia – ballet music;
    Fascination waltz;
    A star falls from heaven;
    Because youre mine;
    Pretend, slow foxtrot;
    Capriced Italian;
    Minuet;
    Evening Bells;
    Hot Toddy;
    en vele ander…

  2. Marlise, daar is seker niks wat die jare so terugbring as die musiek van mens kinderjare nie. ‘n Paar dae gelede luister ek weer met groot genot na Tennessee Waltz en Singing in the Rain en Rose, Rose, I love you en al die ander lekker dinge. Toe dink ek: Lina Spies en John Kannemeyer en Breyten en Karel Schoeman is almal in dieselfde jaar as ek gebore. Ek wonder of hulle ook partykeer na Abbadabba Honeymoon luister.

  3. Desmond :

    Philip, al wat ek kan s^e is dat al vier se skryfwerk enorm daarby sal baat as hulle ook partykeer na Abbadabba Honeymoon wou luister! 😉

  4. Philip de Vos :

    Waarna moet ék dan luister om my skryfwerk te verbeter? Mahler se 9de Simfonie?

  5. Nee, vir jou speelsheid gaan jy moet swaarder dra as Mahler. Brahms en Schoenberg, afwisselend, heeldag.

  6. Dries Cilliers :

    Ek lees sopas Marlise se kommentaar op “Die wysies draai om en om” met die ou plate waarna sy verwys. Toe wonder ek maar net of iemand my kan help om in een of ander vorm weer die musiek van Dan Hill se “Sounds Electronic” in die hande te kry. As ek reg is was daar ‘n stuk of tien albums. Dan was in die sestiger jare betrokke by RPM en Gallo plate maatskappye maar ek is seker hoe nie.

    Veral die eerste drie albums was musiek waarop ons gedans het tot ounag toe. Kan iemand help asb want die jare stap nou aan en ek wil graag nog weer ‘n slag op Dan se musiek dans…..of dalk ‘n traantjie pik oor die lekker ou sorgelose dae.

    Dries Cilliers

    George

    082 925 7348

  •