Desmond Painter. Skuilskrywer Crito: ‘n Repliek

Dalk Crito?

Dalk Crito?

Soos gewoonlik word ek deur daardie gemaskerde metaresensent, Crito, tereggewys op die se blog oor my resensie van Hennie Aucamp se Oor en weer. So gaan dit maar; ‘n mens leer uit kritiek, al kom kritiek in die Afrikaanse openbare domein darem net te veel kere uit die oord van skuilskrywers, soos die Critos, die Wysneuse, en so aan… Mans wat hulleself voordoen as vroue, joernaliste wat hulleself voordoen as huisvroue, dis maar ‘n deurmekaar storie! Wys tog julle gesigte, mense!

Maar dit eers daar gelaat. Crito is heel korrek: in my poging om die resensie so kort moontlik te hou, het ek nagelaat om duidelik te maak dat hierdie ‘n bundel onderhoude met Aucamp is. My fout. My eerste poging het begin met ‘n beskrywing van die boek, waarin ek pertinent genoem het dat dit gaan oor ‘n versameling onderhoude wat verskillende Afrikaanse skrywers, joernaliste en akademici oor die jare heen met Hennie Aucamp gevoer het. Nie-Kapenaars wat die resensie dalk hier gelees het: nou weet julle!

Maar ek wil darem ook verskil van Crito op twee punte; nie wat wat betref die kwaliteit van my resensie nie, maar eerder oor Aucamp se bundel. Crito skryf: “Die feit dat hy [Desmond Painter] niks kon vind [om aan te haal] van iemand wie se aforistiese skryfwyse hy hoog aanslaan nie, is veelseggend.” Nee, dit is nie veelseggend nie. Daar is baie, baie te vind in Aucamp se boek wat aanhaalbaar is. Daar was gewoon nie plek vir aanhalings in die resensie nie. Deesdae is ‘n mens gelukkig as jy 900 woorde in ‘n koerant gegun word, so ‘n mens is geneig (ek, altans, is geneig) om van aanhalings ontslae te raak ten einde my draaie te kry. Hoe kan die feit dat ek niks aanhaal nie in elk geval beteken daar is niks om aan te haal nie, terwyl ek Aucamp se skryfstyl eksplisiet in die resensie komplimenteer? Dit is nogal ‘n hebbelikheid van Crito om “tussen die lyne” te wil lees, wanneer daar niks noemenswaardig tussen die lyne staan nie.

Tweedens, Crito skryf so oor sy uiteindelike besef dat dit in Oor en weer om onderhoude met Aucamp gaan: “ek moet erken dat ek gehoop het dat interessanter persone [as Aucamp self] die onderwerpe van die onderhoude sou wees.” Ek dink daar is genoeg mense wat Aucamp interessant vind, as mens en skrywer, om so ‘n boek te regverdig. En in elk geval: Crito is veronderstel om resensies te resenseer, nie die boek of skrywer onder bespreking nie. Want dan het ons immers ‘n Crito 2 nodig, wat vir Crito 1 kan teregwys dat “ek het gehoop dit is ‘n ander boek as die een wat dit is” nou nie juis goeie gronde vir ‘n negatiewe oordeel oor ‘n boek is nie. Wie gee in elk geval om of ‘n gemaskerde blogger met ‘n obsessie oor ander mense se resensies dink Aucamp is ‘n interessante onderwerp vir onderhoude of nie? Nee wat, Crito, hou jou by jou resensie-lees!

Laastens, ek is natuurlik baie ingenome daarmee dat Crito, ten spyte van die onverstaanbaarheid van my teks en sy irritasie by die lees daarvan, nogtans dink dit was ‘n “andersins baie goeie resensie”!!!! Crito is ‘n veel meer lankmoedige en vrygewige leser as wat ek ooit sou kon wees. Dankie!

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •