
Vanoggend, spesiaal vir al die musiekliefhebbers wat by hierdie webblad betrokke is, ‘n Nuuswekker oor ‘n besonderse opera. Volgens ‘n berig in die New York Daily News word daar tans afrondingswerk gedoen aan ‘n opera oor die lewe van Bill Clinton. Die musiek vir die opera word deur Bonnie Montgomery gekomponeer en die libretto deur Brit Barber, ‘n digter van Arkanses, geskryf. Die premièr word vir September by die White Water Tavern in Little Rock, Arkanses, beplan.
Volgens Montgomery is die naam van die opera, Billy Blyth, geneem van Clinton se doopname “William Jefferson Blythe” en sal die opera onder andere ook oor sy moeilike kinderjare handel. “Clinton’s life is very operatic, over the top, the perfect operatic vision,” het Montgomery aan die verslaggewer van NY Daily News gesê. “He paints this myth – it’s storytelling, beautiful and imaginative writing.”
Blykbaar was nóg Clinton nóg verteenwoordigers van sy kantoor beskikbaar vir kommentaar.
Mmmmmm, nou ja toe. Laat ek dit dan maar vra, want ek weet almal van julle sit en grimlag hieroor: Wat van ‘n opera oor onse eie geliefde JZ? Daar’s mos sommer héélwat hoë-oktaan materiaal hier, is dit nie? En soveel ooreenstemmende verwysings … Of is die verskil tussen ‘n sigaar en stortkop darem nou net te dik vir ‘n daalder?
Nietemin, vir jou leesplesier plaas ek die eerste strofes van die gedig wat Maya Angelou tydens Bill Clinton se inhuldiging as President van die VSA op 20 Januarie 1993 voorgelees het, hieronder. (Die volledige gedig kan hier gelees word.)
***

Fabeljante nuus vanoggend is dat Pietjan, die koningrooibekkie waaroor ek in ‘n Nuuswekker verlede jaar geskryf het, na ‘n afwesigheid van bykans 7 maande weer terug is voor my studeerkamervenster. Groter, meer gehawend, maar steeds versot op sy spieëltjie en Chopin se “Nocturnes“. En soos ek hier sit en tik, sit hy reg voor my op sy stokkie en kwetter saam met die fyn klanke van reëndruppeltjiemusiek terwyl hy my so skuinsweg beloer. En natuurlik, weer vol streke soos om die ander voëls met ‘n sierlike duikvlug van die saadbak te verwilder.
Wat ‘n vreugde! Ai, wat ‘n vreugde …
***
Op die webblad is daar ook heelwat nuwe leesstof vanoggend. Sos is daar ‘n nuwe digstring geplaas; een waarin Johannes Prins vertel van hoe die gedig “man diesel” ontstaan het. Aan die blogkant van sake lewer Bernard Odendaal ‘n volgende aflewering in sy reeks oor die versreël, Andries Bezuidenhout vertel van ‘n besoek aan Maputo en Desmond Painter reageer op die sluipskrywer Crito. In die gedigtekamers is daar ‘n nuwe gedig deur Daniel Hugo waaraan jy jou kan verlustig.
Hê ‘n plesierige dag.
Mooi bly.
LE
A Rock, A River, A Tree
Hosts to species long since departed,
Marked the mastodon.
The dinosaur, who left dry tokens
Of their sojourn here
On our planet floor,
Any broad alarm of their hastening doom
Is lost in the gloom of dust and ages.
But today, the Rock cries out to us, clearly, forcefully,
Come, you may stand upon my
Back and face your distant destiny,
But seek no haven in my shadow.
I will give you no more hiding place down here.
© Maya Angelou (Uit: Inaugural Poem, 3 January 1993)
Louis, snaaks genoeg, my kat is ook mal oor soloklaviermusiek, veral as daar baie note is en hulle ver aan die regterkant van die klawerbord gespeel word. Sy kry soms merkbaar rillings langs haar ruggraat af wanneer ek sekere Chopin, Debussy en veral sekere gedeeltes van die stadige beweging uit Beethoven se Hammerklaviersonata speel… Sy hou weer niks van Bartok en Sjostakovitsj se vioolmusiek nie. Te freneties en ‘ear piercing’, dink ek.
Ek het Baremboim se Nokturnes op rekenaar gehad, maar dit verloor — saam met die rekenaar. Nou het ek twee, nogal uiteenlopende vertolkings: Maurizio Pollini se koeler, meer afstandelike en analitiese interpretasie; en Claudio Arrau se meer hartstogtelike, ‘deklaratiewe’ interpretasie. Ek sal hulle ‘n slag vir jou leen.
Maar tans luister ek Martha Argerich se vertolking van die Chopin Preludes uit die vroee 70s. Beide ek en die kat dink DIT is nou iets om oor opgewonde te raak!
Pietjan is gek oor solo-klaviermusiek, Desmond. Die Chopin “Nocturnes” wat ek speel is die Barenboim-opname. Hy’s ook gek na Schubert se “Impromptus”. Wat my laat dink – sedert einde Oktober verlede jaar (toe hy laas by die ruit was) het ek Lizt & Rachmaninov se klavierwerke aangeskaf. Dalk gaan hy die vinniger (en meer) note selfs nog meer geniet … Mmmm, lyk my hy’s in vir ‘n musiekles vanaand. 🙂
Louis, ek kan nie help om te vra nie: van watter opname van Chopin se Nokturnes hou Pietjan?