Lodewyk van den Balskopper maak toe sy verskyning. ‘n Maand lank was lewe as Lewies uitgeskuif na die donkerste hoekies van die onderbewuste, vergete tussen bros vergeelde gedigte, in lee gange van verlange. Enkele opmerkings is gemaak oor waargeneemde snaaksighede, die het later meer ernstige kommer geword en is daar gevrees vir die geestesgesondheid van die eens stil diep dog nugter digter. Sy vrou het tog beweer dat sy geweet het dat die waansin altyd naby die oppervlak gedreig het. Die waansinnige wat nou haar bed deel, het ‘n kanariegeel T-hempie werk toe (nogal) begin dra. (haar Lewies sou jy nooit in enige iets behalwe melankoliese verdrietige swart aantref nie) Die nou vreemde man het by sy huis se sitkamervenster uit gehang en vir die wis en onwis, tydig en ontydig kliphard op ‘n plastiek beuel getrompetter, tot die groot onsteltenis van sy buurvrou en die se skoothondjie wat dan onophoudelik bly kef het. “Ag, ten minste is hy gelukkig in sy eie wereld” is gese, of; “Hy is onskadelik, sal nie ‘n vlieg seermaak nie” gevolg deur bekommerde kyke en koppe wat wiggel. Hy het later sy motor beplak en behang met vlaggies en soos hy deur die buurt ry het die lappies dapper in die wind gewapper. Honde en kinders al hollende en blaffende agterna.
Soesji
met die stokkie tik
jy altyd te veel wasabi
op jou salm rosies
en snak jy van die mosterd brand.
–
jy hou daarvan so sê jy
–
Die shashimi
laat swem jy eers
in die brak swart water
–
stomp bamboes vingers
probeer jy die vissie vang
gly gly sukkel jy met
hom soos ‘n kat
–
en eindelik met ‘n vingerknyp
hou jy ‘n stukkie vir my uit
om sy kop af te byt.
–
daars ‘n plekkie in jou nek
net neffens die lelie van jou oor
–
daars ‘n plekkie onder die vou
van jou boud nader
aan die binnekant van die dy
–
daars die naeltjie
jou vingerhoed gaatjie
jou klein uitlek glasie
–
daars peusel-happies
oral op jou soesji bord.
–
Padkos
Ek toer al om die nek se kontoere
af in die kloof van jou tweeling heuwels
padlangs na die neut bruin newels
sirkel tong al om die spitsvondige kruine
soek ‘n rusplekkie voor die verder (v)ry
kyk hoe jou vel styf bibber lekker kry
knoppietjies skurwe hoendervleis
my vingers streel soos ruitveers
oor hygwarm wasem ruite vee
vertoef by jou naeltjie soos ‘n oase
volg die padpredikant N2 na Knysna
afdraend gly teen die binnekant van die dy
wie eerste die see sien sal roomys kry
gulsig uit die padkos tupperbak ry-loop
frikkadel en mayonaise
en skelmpies beginne kou eers met lippe
en dan met klein bytjies happies peusel
snoepighede van jou tuinroete kontrei.