Ietsie oor ritmikaliteit en poësie

Een van die meer geheimsinnige aspekte van die digkuns is die aard van ritmikaliteit. Dis ook een van die mees misverstaande aspekte.

Die veranderende voorkoms van ritmikaliteit – ek gebruik die woord as ’n oorkoepelende term vir metrum, ritme, ensovoorts – het Poetry International, die groot jaarlikse poësiefees in Rotterdam genoop om vanjaar die tema “die prosagedig” te maak.    

Prosagedigte is gedigte wat die voorkoms van prosa het, maar in wese meer soos gedigte kommunikeer. Tot heel onlangs nog het jy onder sommige sektore in Suid-Afrika die opvatting gekry dat omtrent enige gedig wat nie in jambiese metrum geskryf is nie, ’n prosagedig is! (En ons praat nou van ruim dertig jaar nadat Breytenbach ’n bundel kort skryfsels die lig laat sien het, genaamd Katastrofes. In daardie bundel word die prosagedig in sy meer radikale vorm eintlik aan Afrikaans voorgestel.) Dis min of meer die beperkte opvatting wat ook bestaan het in Brittanje in die tyd toe Ted Hughes en Daniel Weischbort die tydskrif Poetry in Translation gestig het om Britse lesers aan Europese poesie voor te stel (die jare sestig).

Prosagedigte is maar slegs die uiterste vorm van ritmikaliteit.

Sommige mense mag wonder waarom die poësie dan met ritmikaliteit gemoeid is. Sommige sal antwoord: Dis omdat die poësie wesenlik musikaal is. Ek dink daardie antwoord is misleidend omdat dit slegs ’n spektrum van poësie sal dek.

In onlangser tye in Afrikaans word die verhouding tussen prosa en ritme in die Afrikaanse digkuns op allerlei maniere geproblematiseer soos nog nooit tevore by ons. Dis jammer die kritiek is nie ewe veel geproblemaiseer wat hierdie saak betref. Daar is klaarblyklik allerlei windmeulens op die Kaaps-Hollandse vlaktes wat eerder bestorm moet word. 🙂

Sulke verskynsels lyk of dit oornag plaasvind, maar dit broei gewoonlik vir dekades, in baie digters, en skielik gebeur die nuwe manifestasies.

Ritmikaliteit vorm ’n spektrum van voorkomste: vaste vers, vrye vers met vaste klankpatrone en emjambement, vrye vers met geen klankpatrone maar met emjambement, ensovoorts, ensovoorts. Bernard Odendaal wy tans welkome ruimte aan hierdie veld van fokus af op Versindaba.

Ek dink die antwoord is gewoon: Alle bestaansvorme is wesenlik ritmies, of dit nou jou hartklop is of die “musiek van die sterre”. Volgens die wetenskap gaan frekwensie materie vooraf. Materie is frekwensie. Ervaring is frekwensie. Dus: Ritme gaan alle voorkoms en alle vorms van beliggaming vooraf.

En die poësie, meer as enige ander letterkundige vorm, werk met die gelyktydige aanwesigstelling van beliggaming en ontliggaming. (In hierdie aspek is die poësie wesenlik spiritueel, selfs al probeer dit nie wees nie.) Dus is die aspek van ritmikaliteit van wesensbelang vir die poësie. Omdat dit gewoon in die algemeen van wesensbelang is, al sien mens dit nie so duidelik raak in die alledaagse lewe nie.

Meditasie en sommige ander vorms VAN spiritualiteit is soms daarop ingestel om die belewenis van bewussyn te verander, en dit word gedoen deur die ritme van asemhaling te wysig. Deur bloot die ritme van asemhaling te verander – met ander woorde, die “emjambement” van suurstofinname – kan jy letterlik jouself ontliggaam en herbeliggaam. Ja, letterlik.

En wat is meer letterlik as die poësie, al word dit soms bietjie metafisies? Wat is meer letterlik as die metafisika? 🙂 

Die faset van ritmikaliteit is tans in die poësie wêreldwyd in geweldige fluksie. Daar is kwasi-prosavorme wat veel meer veelsydig is wat ritmikaliteit betref as die tradisionele vaste vers. Ek dink hier aan ‘n digter soos C.K. Williams van die VSA. (Gaan lees van sy verse op die webwerf van Poetry International, Rotterdam.) 

Na regte behoort die kritiek rondom ritmikaliteit ook opnuut in fluksie te wees.

NASKRIF: iN EEN VAN DIE EERSKOMENDE UITGAWES VAN BY (BEELD EN DIE BURGER) BESPREEK EK DIE SOGENAAMDE KONKRETE GEDIG AS EIETYDSE VORM VAN RITMIKALITEIT IN DIE RUBRIEK, VERSLANGS.            

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Ietsie oor ritmikaliteit en poësie”

  1. Desmond Painter :

    Baie interessant. Waarom skryf jy: “Prosagedigte is maar slegs die uiterste vorm van ritmikaliteit.” Is dit noodwendig so? Ek kan sien dat dit die gedig vormgewys in die rigting van een soort uiterste stur, maar sou ‘n prosagedig nie ritmies baie konvensioneel kon wees nie? Of misverstaan ek jou?

    Wat die musikaliteit van ‘n gedig betref: ek vermoed mense het dikwels “lied” in gedagte wanneer hulle gedigte aan “musiek” gelykstel; of na die “musikaliteit” van ‘n gedig verwys wanneer hulle eintlik bloot “singbaarheid” bedoel.

    Ek dink daareteenoor gedigte is soms musikaal in vorm, klank en ritmikaliteit (om jou woord te gebruik) sonder dat hulle die kenmerke van die lied vertoon, of op enige eenvoudige manier singbaar is. Die lied is maar een vorm van die musiek.

    In die twintigste-eeuse “klassieke” musiek, beginnende dalk met Stravinski maar ook ander (en onder invloed van musiektradisies buite Europa natuurlik), het daar dramatiese verskuiwings plaasgevind wat betref die ritmikaliteit van musiek; van wat ritmies moontlik is in ‘n komposisie. Tot so ‘n mate dat mense aanvanklik gesukkel het om iets soos Stravinski te eien as musiek…

    Miskien, wanneer mense tradisioneel praat oor ritmikaliteit en musikaliteit in die digkuns, dink hulle te gemaklik in terme van Mozart en Schubert, en te weinig in terme van Stravinski, Cage, Ligeti, ens…

    Of lieg ek nou weer?!

  2. Charl-Pierre Naude :

    Hallo Desmond,

    Interessante kontrapunte wat jy maak. Die ritmikalitiet van prosagedigte is myns insiens aan die “buitewyke” van digterlike ritmiese herkenbaarheid, vir die volgende redes: 1. Wanneer klankpatrone en emjambement voorkom (ja, in prosavorm ook) is dit meer versteek, daar is nie tipografiese leidrade nie.2. Die ritmes is dikwels eerder gedagte- en beeld- en redenasiespronge, met ander woorde dit gebeur in minder opsigtelike en meer abstrakte terme, nie soseer die gewone klank-agtigheid nie.

    Ek hou van jou beskrywing van die verskillende vorme van musiek. Ek dink gedigte word deur baie mense aan ‘n soort “lied-in-woorde” gelykgestel, maar soms, al word dit bietjie breer gesien, en gelykgestel aan onliedmatige ritmes, sou ek reken die woord musikaliteit is ‘n kombersterm wat nie alle poetiese ritmes, OF spirituele ritmes, dek nie.

    Is die Ohm-klank, soos in Boeddhisme, musikaal? Ek glo nie, dis wel ‘n ritmiese beswyming. Musiek, vir my, het oplaas die konnotasie van of melodie of dans of iets dergeliks.

    Maar, dan weer: Daardie frase “musiek van die sterre” weeg die kwessie af in jou argument se guns. Die musiek van die sterre was nog nooit ‘n musikale begrip nie, tog word dit musiek genoem. Selfs iets soos seks word soms “musiek” genoem. Wel, ja, no fine. 🙂

  3. Robard :

    Die problematisering van ritme kom dalk oorspronklik van Nietzsche af. Hy het geskryf dat die digkuns eintlik ‘n vorm van lieg is wat ons probeer oortuig van die waarheid daarvan omdat dit na ons toe aankom met ‘n goddelike “Hoppsasa”. Die moderne mens betrag iets wat ritmies is (en wat rym) eerder as kinderpret, nie iets om ernstig opgeneem te word nie. Die hedendaagse digter wat ons wil oortuig dat hy ‘n groter/dieper waarheid in pag het, moet as’t ware uit sy pad uit gaan om ritme (en rym) te vermy.

  4. Charl-Pierre Naude :

    Jy is heeltemal reg, Robard, om aan te neem dat die digkuns wegbeweeg van vertonerige of overte vorms van ritmikaliteit. Dit is om aan te pas by veranderde vereistes van lewensgetrouheid in die kuns. Soos ‘n Griekse digteres wat elders op hierdie webblad aangehaal word, laat blyk, het die hedendaagse film ‘n onteenseglike sterk invloed op die letterkunde, en ook op die digkuns.

    Maar, as jy mooi gaan kyk, sal jy sien dat selfs die mees lewensgetroue film werk met ritmikaliteit. Alle kuns werk daarmee. En al lyk dit of die poësie daarvan wegswaai, is dit steeds die wesenskenmerk van die digkuns, dat dit meer intiem met ritmiese patrone werk as ander kunsvorme. Nietzsche het waarskynlik verwys na die ouer tradisionele Duitse digkuns. ‘n Digter soos Rilke, ‘n tydgenoot van die groot Nolsie, het die idee van ritmikalitiet radikaal by die idee van lewensgetrouheid van daardie tyd aangepas. Digtersgenerasies doen dit elke dan en wan.

    Jy is verder reg as jy reken gewone lesers, veral jongeres, in Suid-Afrika is sat vir die meer overte ritmes.

  5. Wysneus :

    gedigte sonder ritme
    stories sonder sin
    gelowe sonder kerke
    kinders sonder perke
    sinne sonder sin
    musieke sonder tone
    ranke sonder bone
    lewe sonder sin
    kerke sonder gode
    mense sonder wese
    mense sonder sin

    imagine!

  •