Andries Bezuidenhout. Beeldhouwerk vir die naweek

Hans Wilschut

Foto: Hans Wilschut

Ons vriendin Corina van der Spoel, wat aan die stuur van sake by die Boekehuis in Aucklandpark is, is een van daardie Johannesburgers wat na buite lewe. Ek is anders. As ek my sin kon kry, sou ek elke naweek by die woonstel gebly het om aan skilderye, gedigte, of ander projekte te werk.

Sondag ry ek en Irma, en ʼn paar ander vriende, op Corina se uitnodiging toe in die rigting van die Cradle of Humankind (die Mensdom se Wieg?) om beeldhouwerke by die Nirox Foundation se park te gaan besigtig.

Die Nirox Foundation se doel is om Suid-Afrikaanse beeldhouwerk aan die wêreld bekend te stel. Die tuine wys hoe mooi die Hoëveld selfs in die winter kan lyk. Water word vanuit ʼn rivier gekanaliseer om damme en strome te vorm, tussen oliewenhout-, witstinkhout-, populierbome en wilgers.

Op verskillende plekke in die tuine is beelhouwerke van mense soos Jane Alexander, Deborah Bell, Willie Bester, Willem Boshoff, Dumile Feni, Jackson Hlunwani (ek dog dis “Hlongwane”), Claudette Schreuders en William Kentridge staangemaak.

Die uitstalling se naam is “Twenty: South African Sculpture of the Last Two Decades”, en ʼn mens kan dit nog tot 15 Augustus gaan besigtig. Die maklikste manier om daar te kom is om met Hendrik Potgieterweg in die rigting van Tarlton te ry. Draai regs op die Kromdraaipad en die Nirox Foundation vind jy op linkerhand, ʼn kort entjie na die afdraai Maropeng toe.

Vat sommer ʼn piekniekmandjie – dis regtig die moeite werd. Mense buite Gauteng kan ʼn idee van die uitstalling hier en hier kry.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Beeldhouwerk vir die naweek”

  1. Desmond Painter :

    Ek hou daarvan om te s^e” “Wieg van die w^ereld”, al is dit nie ‘n goeie vertaling nie. Dit klink net vir my mooi.

  2. Bibi :

    Andries,
    Het jy Guy du Toit se ‘Hares at play’ daar gesien? Hy is een van my gunsteling beeldhouers – dis so lekker speels en dis HASE!

    Ek dink jy moet hom sommer gaan opsoek in die beeldhoustudio op kampus, terwyl jy jouself nou in Pretoria bevind. Dis oorkant die brug, aan die onderpunt van Suid-Kampus.

    Mooi bly.
    bibi

  3. Andries Bezuidenhout :

    Bibi, ek het dit nie gesien nie, helaas (heelhaas). Ek dink dit was dalk deel van ‘n vorige uitstalling. Maar ek sal uitkyk vir sy werk.
    A

  4. Wysneus :

    Wiegie van die mensekind.

  •