Andries Bezuidenhout. Grepe uit die jaar 1997

In die jaar 1997 woon ek, Irma en ons vriend Wessel in Westdene, Johannesburg. Ons huur die huis aan die onderkant van Glasgowlaan. Ons het ʼn uitsig oor die rooi klippe van Melville se koppies. In die winter is daar misbanke. Ons is nie juis tuiniers nie, maar in die lente kom daar blomme in die voortuin op, omdat vorige huurders bolle geplant het. Kon dit renonkels wees? Ek ken nie blomme se name nie.

Wessel werk vir die Waarheids- en Versoeningskommissie. Hy is ʼn ondersoekbeampte en sy taak is om menseslagtings (“massacres”) in die Vaaldriehoek te ondersoek. Daar is ʼn formele definisie vir wat menseslagtings behels – meer as ʼn sekere aantal mense (ek kan nie onthou hoeveel nie) moet op een slag vermoor word.

Oor naweke rave Wessel. Ek gaan een aand saam, vir ʼn rave in die ou kragstasie in Newtown. Ek voel nie tuis nie, maar sien vir Michael Sachs tussen die mense dans. Sy pa se arm is deur ʼn briefbom afgeruk, destyds in Mosambiek. Een keer in Maputo het iemand my die gat in die sypaadjie gewys waar dit gebeur het. Ek weet nou nog nie hoekom hy die behoefte gehad om my die gat te wys nie. Ek gaan slaap in die kar en wag vir Wessel om klaar te dans. Ek dink ek sou ook so moes rave as ek menseslagtings ondersoek het.

Ek wonder baie keer oor misdaadverslaggewers, polisiebeamptes, selfs regsgeleerdes; mense wat boosheid intiem leer ken. Hoe lank neem dit om daarvan te herstel? Herstel ʼn mens ooit? Help dit om te rave, rave?

In Desember 1997 gaan ons Namibië toe. Ry deur Botswana tot in die Caprivi, dan verby Twyfelfontein en die Brandberg tot in Swakopmund. Ons huur ʼn huis by Langstrand – woestyn aan die een kant, see aan die ander kant. Ek teken prente. Skryf seker ook. Dink aan die weermag in die laat-1980s toe ek in Namibië was, in uniform. Dan ry ons suid, verby Sossusvlei tot in Lüderitz. Nuwejaar in die Kokerboomwoud naby Keetmanshoop.

Wessel bel vanoggend net toe ek aan hom dink – aan 1997. Dis sy Londennommer op my selfoon, maar hy’s in Suid-Afrika. Sy pa is in die hospitaal. Ek wonder of hy nou al Antjie Krog se Country of my skull gelees het. Destyds wou hy nog nie, moes eers afstand kry.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Andries Bezuidenhout. Grepe uit die jaar 1997”

  1. maretha laubscher :

    dalk sukkel mens lewenslank om te herstel, of leer jy om dit te kanaliseer. iets in Ariel Dorfman het die grens oorgesteek en sy gees, wel wat sê ‘n mens? dit skyn net. het gewonder of dit met skryf te make het?

  •