Ingrid Brunkhorst Hurrell. Leemtes.

Omring van lentegeel, herinner dié huis my aan Ouma se huis, destyds op Louwsburg...

Omring van lentegeel, herinner dié huis my aan Ouma se huis, destyds op Louwsburg...

leemtes.

wie sou nou kon dink dat om immigrant te wees in ‘n anderman se land, vul jou lewe met leemtes?

die ironie daarvan!

die onthou van dit wat was. en dit wat nou hier om jou lê.

ek woon in ‘n plaserige-area. langley word beskou as die “horse capital of bc!” dus maklik om by ‘n perd te gaan staan en huil oor die mooi van kindweesdae. die verlange. die pynlike-onthou van dit wat eens so eie aan my was.

ek leer my lewe bestaan nou uit refleksies van gister, wat dan, hoewêl knapseer op die hart; tog ‘n gevoel van identiteit, van behoort, van iemand-wees, bring. soos dié huis op 216th. hy staan so eenkant, halfsku, weg van die pad. omring met geel lente en perde wat knibbel aan die sappige blommetjies. ek is weer by ouma babes. drink haar moerkoffie in emaljebekers, knus by die swart houtstoof. nou lê louwsburg uitgestrek hier in my kontrei. soos ‘n lewende begraafplaas.

ek leer van pyngedigte. souttrane wat woorde laat plons. vir iemand anders om te lees.

my onthou loop diep, elke dag. ek skryf my skryf op houtkrale waar onkel ewald se beeste rondmaal. swart-en-wit. frieslandertjies. vreedsaam in die groen ruig van kanada. die kyk is goed. die kyk help my onthou, herleef, beleef. onthou ek so kleintyd in hermannsburg. hooibale op die plaas. pa wat vir my pienk teesuikerlekkers aan toutjies koop.

ek onthou die soet.

leer so, ek kan hiér ook groei. my takke wyd oopmaak, die bloue hemel inlaat.

die boom is groeiend. op louwsburg. in langley.

28 julie 2010 – my eerste “hallo-sê” vanuit kanada!

———————————————————————————– 

Ingrid Hurrell

Ingrid Hurrell

Ingrid Brunkhorst Hurrell se spore loop wyd.  Kindweesdae vereenselwig sy met verbeeldingryke speeltye in die dennebosse van Ahrens en Hermannsburg, die Duitse gemeenskap waar sy grootgeword het. Dan kring dit uit na Hibberdene, waar sy ure alleen strandlangs of in piesangplantasies gespeel het. Sy behaal haar graad in Maatskaplike Werk aan die Universiteit van Pretoria in die vroeë tagtigs. Tans woon sy in Kanada met ‘n passie vir fotografie,  Afrikaans en perde. Sy is tans ook besig met ‘n diploma in Grafiese Ontwerp. Ingrid het in 2009 ‘n digbundel, Maplantas, self uitgegee (Red Maple Publishing) wat handel oor die wroeging en uitdagings wat sy as Suid-Afrikaanse expat deurgegaan het, die pyn oor dit wat agtergelaat word.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Ingrid Brunkhorst Hurrell. Leemtes.”

  1. Lynette Crathorne :

    wat n ongelooflike gedig Ingrid.
    smelt soos n tammeletjie in my mond –
    jou beskryf vermoeie is uitmuntend!

  2. Linda Van Reenen :

    Ingrid dit is so pragtig,jy maak my terugdink en verlang!

  •