Ek het pas Andries Bezuidenhout se blog oor Maputo gelees, ek was nog nooit in Mosambiek nie. Wel al in Portugal. Ek het my opnuut voorgeneem om te gaan. Hopelik nog binne die volgende jaar of twee.
Toe ek die kommentaar van Andries lees met die lirieke van die song Mozambique van Jack Hammer het ek op youtube weer daarna gaan luister.
Ek het al vergeet hoe mooi dit is.
Aan die regterkant waar youtube vir mens videos voorstel wat mens ook na moet kyk, is Bok van Blerk se Kaplyn. Ek weet nie hoe werk dit nie, want ek sien weinig ooreenkoms tussen die twee songs, maar ek klik op die Bok video en kyk vir die eerste keer daarna.
Die hele video gaan oor die Grensoorlog tussen 1966 en 1989. Dit is ‘n goeie video en ‘n song wat verseker daarin slaag om emosie wakker te maak. Die hele video bestaan uit oorspronklike beeldmateriaal van die oorlog en die troepe en oor die feit dat nie een van daardie troepe herdenk word op mure met name van slagoffers nie (hy praat natuurlik van Freedom Park in Pretoria).
My ma het my een keer vertel hoe sy in 1980 toe sy swanger was met my broer so baie gebid het dat hierdie seuntjie van haar tog net nie eendag sal hoef grens toe gaan nie.
Die ontstellendste greep in die video vir my is waar daar ‘n skoot van ‘n grafsteen is wat lees “Ons troepie en held – Johann” daar is ‘n fototjie regs bo van Johann. Hy lyk vir my soos Trompie.
Ek onthou toe ek agttien was, was ek verseker nie toe lus om dood te gaan nie.
Maar dis wat daardie oorlog gedoen het, hy het kinders doodgemaak en die res gedeeltelik gefok gelaat. Was daar al ooit ‘n oorlog in die wêreld wat werklik ‘n wenner gehad het, of is almal wat ooit by ‘n oorlog betrokke is maar verloorders?
Vroeg in die 90’s net na die einde van die oorlog het Kol. Jan Breytenbach (Breyten se broer as ek reg is) gesê hy is bevrees die vrede gaan erger wees as die oorlog.
Eergister aand het ek die TV aangesit en die laaste deel van ‘n onderhoud met Julius Malema gevang. Ek weet nie waaroor dit was nie, maar ek neem aan oor die Wes-Kaap. Sy laaste woorde was “we will work 24/7 to remove that racist woman, Hellen Zille.”
Soms ontken ek dat ek verstaan wat Kol. Jan Breytenbach bedoel het, soms wens ek dat almal wat elke dag hier sterf wie se dood nêrens herdenk word nie op die ou einde sal sterf vir ‘n beter land vir ons almal. Dat ons oor twintig jaar vir oulaas ‘n nuwe muur sal bou en almal se name daarop skryf met ‘n lyn onder wat ‘n werklike einde aan die moord en pyn en haat simboliseer. Dat ‘n tier wat ontsnap nie die grootste nuus sal wees nie, maar die enigste.
Of oorlog die antwoord is hang af van die vraag. As Serbiërs volksmoord pleeg teen moslem burgerlikes, dan is oorlog die antwoord. As jy militêr ingeval word, dan is oorlog die antwoord. As jy ‘n etniese minderheid is wat ‘n rassistiese bestel wil beskerm, dan is oorlog nie die antwoord nie.
Niel, ek verskil nie met jou nie my vriend, soos ek se ek verloor sommer soms kop oor die onderwerp.Oorlog is ‘n snaakse ding aan die eenkant walg die wreedheid daarvan en aan die anderkant word dit onthou en die helde vereer met ewe veel agting vir albei kante van ‘n stryd. Dis deel van die mensdom se psige. Oorlog is nie beperk tot ons land of nasie nie. Dis so werklik soos geboorte en doodgaan, nie iets uit Hollywood of History channel nie. Enige generasie wat dit vryspring is geseend.
Ek het sommer ‘n gedig gegooi na aanleiding van jou blog. Sluit dit aan by jou gedagtes? of miskien gee dit verdere insigte van die leegheid van oorlog.
Ek stem 100% met jou saam Lewies. Die feit dat ons soos jy sê relatief pynloos en bloedloos deur dit alles gekom het is merkwaardig. Daarvoor sal ek mense soos Nelson Mandela ewig dankbaar wees. My punt is net, dat ek 11 jaar oud was toe al hierdie goed gebeur het, ek was net eenkeer op ‘n Buffel en dit was tydens ‘n weermag expo by ons plaaslike hoërskool in 1993. Ek sê nie ons moet vergeet nie, ek sê nie ons moet hunker nie, ek voel bloot dat dit ‘n soveel mooier storie kan wees as ons dit end-uit kan vat. As ons die gevoel wat in die 5 weke tydens die sokker geheers het alledaags kan maak, as daar nie diktators-in-wording op TV kanale pryk nie, as ek weer van die kroeg kan huis toe loop sonder om die gevaar van ‘n gewapende roof te loop, dan sal dit mos nou die tipe ding wees waarvan ons movies kan maak… Maar eers dan voel ek!
Ai Niel , dit is een onderwerp wat my geweldig kan onstel. Oorlog is wreed.
Hierdie is seker nie die plek om politieke dinge op te haal nie, maar ek wens net altyd ‘n groot groot wens. Dat almal in hierdie land (hierdie land waarin alles nie noodwendig reg is nie, waar die oorlog van hongersnood en armmoede en selfsugtige vergrype, misdaad daagliks slagoffers eis)
Ek wens daar kan meer dankbaarheid en begrip wees vir die relatief bloedlose revolusie wat ons ervaar het. Ja duisende het gesterf vir ons demokrasie. Daarom maak die wat so ongeskonde daarvan afgekom het en hunker na die verlede voor 1994 my so woedend, want dieselfdes wat hul seuns oorlog toe gestuur het is nog steeds die grootste verkrampte slapgat rassiste. Ja en die sangers van masjien geweer liedjies en die wat aanhoudend tokkel op vryheidsliedere om gemoedere op te sweep maak my net so kwaad.
Voor die 1994 verkiesing was Constand Viljoen en die Weermag se Generaals gereed om ‘n Burgeroorlog te begin. Die Generaals was lojaal. Die troepe sou bevele uitvoer. (Ek het self deur townships op Buffels gery so ek weet) (Verwys na Herman Gillomee se monumentale boek “Die Afrikaners” oor die detail)
Die bloedbad wat sou volg, die moontlike militere ingryping deur die VSA die vernietiging en dood op massa skaal is net eenvoudig ondenkbaar.
Ek is danbaar dat ek en my familie die vrede ervaar wat ons het en daarom verwelkom ek die kans wat my gegun is om ‘n verskil te probeer maak en aan te bly in die land.
James Phillips: “Just when we thought it’s over, we found it’s only just begun/ Just when we thought it’s over, we’re still dying like flies underneath the sun…” Twee verskillende (maar ewe mooi) opnames daarvan – op “Sunny skies” en “Soul ou”.
http://rhythmmusicstore.com/music/5474/James-Phillips/Soul-Ou
http://rhythmmusicstore.com/music/5480/James-Phillips-&-The-Lurchers/Sunny-Skies
Dis uit “Fun’s not over”.