Philip de Vos. Die pittighede van W.S. Gilbert

 

 

 

Toe dit laas partytjietyd was by my vriend Deon se huis was dit Mahler se Kindertotenlieder wat as partytjiemusiek op die agtergrond gespeel het en ek is doodseker my vriend Bennie luister alreeds voor brekfis na elke liewe noot van Wagner se Tristan und Isolde om hom op te kikker voor hy met sy dagtaak begin.

 

 

Ek luister na Gilbert and Sullivan.

Dit het seker begin toe ek destyds my debuut as sanger gemaak het as seerower in Gilbert and Sullivan se Pirates of Penzance en my openingstoneel met ’n sjimpansee moes deel wat toe al die shine gevang het. Daarom sê ek steeds sjimpansees moet liewer aan takke in die oerwoud bly hang of soos Panyo, die tierwyfie, liewers in Bengale moet bly en so nou en dan ‘n Bengalees opvreet vir middagete in plaas van om in alle luuksheid in ’n Toyota-bakkie rondvervoer te word.

 

 

Maar luister net wat The Friend op 5 November 1962 oor daardie sjimpansee berig het:

 

I almost forgot to mention that Omella, the Bloemfontein Zoo’s new chimpanzee just about stole the first scene and certainly stole the last – the latter with a piece of unrehearsed simian informality.

 

 

Laasgenoemde sin verwys na Omella wat die verhoog papnat gepie het toe die gehoor entoesiasties begin handeklap het. Van my eie pragtige vertolking was daar helaas g’n enkele woord in die koerant nie.

Ek troos myself egter daaraan dat ek volgens die programfoto – en as seerower (met die hulp van eye-liner) nogal mooi gelyk het in daardie dae.

 

 

Maar nou dwaal ek mos af.

In 1982 het ek ’n wonderlike rolprent gesien van die Joseph Papp-produksie van Pirates met Kevin Kline, Angela Lansbury en Linda Ronstadt. Hierdie film vang vir my al die sjarme van Gilbert and Sullivan vas. Dit is vol pret, satiries, vermaaklik, verskriklik snaaks (alhoewel my vriend Roelof nie so dink nie) en boweal met die wonderlikste woordspel van W.S. Gilbert.

 

 

Baie mense word al vir meer as ’n honderd jaar vermaak (of word straks geïrriteer) deur die Major General se patter song:

 

“I am the very model of a modern Major-General,

I’ve information vegetable, animal and mineral,

I know the kings of England, and I quote the fights historical,

from Marathon to Waterloo, in order catagorical;

I’m very well acquainted too with matters mathematical,

I understand equations, both the simple and quadratical.

About binomial theorem I’m teeming with a lot o’ news

with many cheerful facts about the square of the hypotenuse.

 

Dan volg daar nog vyf versies van die mees ongelooflike woordspel, en hoe die arme sanger al hierdie woorde moet kan sing en memoriseer is natuurlik ’n ander vraag. Maar met Gilbert se wonderlike oor vir woorde word dit nooit ooit tongkopers nie.

 

En te midde van al die vrolikheid, na die Major General se lied is daar skielik ’n ode aan die poësie:

 

Although we live by strife,

we’re always sorry to begin it.

For what we ask is life

without a touch of Poetry in it?

Hail Poetry, thou heaven-born maid!

Thou gildest e’en the pirate’s trade:

Hail, flowing fount of sentiment!

All hail, Divine Emollient!

 

En hier dit kom weer die belangrikheid wat ek self by die skryf van rympies ervaar het. Wanneer jy iets geskryf het, móét jy daardie woorde hardop vir jouself voorlees, want as jy oor jou eie woorde struikel gaan jou leser dit beslis ook doen. Daarom moet jou uiteindelike produk perfek wees. Die klem moet van die begin op die regte lettergrepe val en ’n sin moet alreeds met die eerste deurlees perfek wees.

Partykeer lees ek versies wat ek lank gelede geskryf het, en dan skielik kom ek agter daar is êrens fout en met die byvoeging of weglating van ’n enkele woord of selfs lettergreep kan daardie versie perfek wees.

Hier is die beginreëls van ’n versie wat ek in 2001 vir Die Burger geskryf het oor aktuele dinge van daardie week. Dit was presies die week toe Allan Boesak uit die tronk vrygelaat is. Ek kom nou eers agter dat met die weglating van ’n woord by die een sin, en die byvoeging van ’n ander sou dié versie perfek gelees het.

 

 

HOMEWARD BOUND

O, getroue Elna Boesak –

Vreugde gaan weer op jou toesak.

Tyd van wag is gans verby

en jy hoef nie meer te ly.

Jy’s nou terug by liewe Allan

en glad nie meer die nare hel in

oor jou manlief in ’n sel

met ’n selfoon (weet ek wel).

Nou kan hy saans in jou oortjies fluister

en na Paul Simon Cd’s luister.

 

Die vierde reël moes liewers gelees het: En jy hoef GLAD nie meer te ly.En die negende: Nou kan hy in jou oortjies fluister.

Nou is dié versie metrumgewys heeltemal perfek, maar weereens dwaal ek af, want dis eintlik oor W.S. Gilbert se lirieke wat ek veronderstel is om te gesels.

Gilbert and Sullivan het in die laat negentiende eeu begin saamwerk aan hulle Savoy Operas en onmiddellik ’n gier begin wat tot vandag toe in Engelse lande voortduur. Party mense dink dit is wonderlik, ander kan dit nie verdra nie, maar nes Mozart se musiek móét dit perfek uitgevoer word of anders liewer met rus gelaat word.

Sullivan wat die musiek geskryf het, was die ekstrovert wat van al die publisiteit en aandag gehou het. Gilbert was die presiese teenoorgestelde. Die meeste mense het hom as nors en ongenaakbaar ervaar. Selfs die verhouding tussen dié twee here was formeel (dié dag as hulle nog met mekaar gepraat het.) Dan was die aanspreekvorms vir mekaar: Yes, Mr. Sullivan of No, Mr. Gilbert. Ten spyte van hierdie vreemde verhouding het dié twee se talente saamgesmelt tot die vrolikste musiek en die prettigste lawwe en satiriese lirieke.

In my eie skryfsels ervaar ek self dikwels dat die skieilike vreemde kombinasie van rymwoorde dikwels ’n suksesvolle versie tot gevolg het.

In een van my verveelde oomblikke toe ek destyds opera gesing het en gedurende repetisie-tyd moes sit en wag het ek begin dink wat rym met adder en dit het die volgende versie tot gevolg gehad:

 

As ’n adder

jou beswadder

en sy skinder

krap en hinder,

dan moet jy net

’n snoek gaan vloek.

Dan krap

die hinder

minder.

 

En hier was dit net die gevolg van sekere woorde wat met mekaar rym. Kyk net na die volgende rymkombinasies op die woord not, waar die middeljarige Ruth aan die begin van Pirates of Penzance haar lot bekla, en waar dié woorde in die verloop van die verhaal tog sin maak:

 

Frederick: You told me you were fair as gold!

Ruth: And, master am I not so?

Frederick: And now I see you’re plain and old!

Ruth: I’m sure I’m not a jot so.

Frederick: Upon my innocence you play.

Ruth: I’m not the one to plot so.

Frederick: Your face is lined, your hair is grey.

Ruth: It’s gradually got so.

 

Doodeenvoudige rymwoorde en op die ou end, snaaks én effektief.

 

Ek kyk ook na die volgende reëls wanneer die seerowers die jong meisies aanskou en besluit dit is nou tyd vir ontvoer en trou:

 

Here’s a first-rate opportunity

to get married with impunity,

and indulge in the felicity

of unbounded domesticity.

You shall quickly be parsonified

conjugally matrimonified,

by a doctor of divinity

who resides in this vicinity.

 

Wat kan lekkerder wees as hierdie vrolike en slim woorde?

Gilbert, wat deur sommiges beskou is as ’n norse, liefdelose man het uiteindelik tog gewys wat se tipe persoon hy werklik was:

Op 29 Mei 1911 het Gilbert swemlesse gegee aan twee jong dames by die meer van sy woning Grim’s Dyke. Een van die meisies het in die moeilikheid beland en toe Gilbert haar probeer red, het hy self verdrink.

Vandag lê hy begrawe by the Church of St John the Evangelist, by die dorpie Stanford. En daarenteen lê, Sullivan, die ekstroverte komponis, met wie hy niks in gemeen gehad het nie, maar saam met wie hy onvergeetlike werke geskep het, begrawe in St. Paul’s Katedraal in Londen.

Luister gerus op Youtube na George Rose se wonderlike vertolking van die Major-General se lied:        

 http://www.youtube.com/watch?v=iSloW2coCDQ&feature=related

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Philip de Vos. Die pittighede van W.S. Gilbert”

  1. Gerhard :

    Graag doen ek mee aan Louis se versoek om groter deelname dmv kommentare, want hierdie blog deur Philip de Vos onderstreep presies waarom hierdie webblad so spesiaal is. Nie net oor die moeite wat die deelnemers doen nie, maar die verskeidenheid daarvan. Dankie, Philip. Elkeen van jou blogs is ‘n hoogtepunt. Iets wat ‘n mens weer en weer wil lees.

  2. Philip de Vos :

    Dankie Gerhard – ek voel gevlei.

  •