Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
3 August 201019 July 2024

Marius Swart. Die ding van drie kolletjies

Ek is onlangs voldoende opgerui deur beloofde loopbaanmoontlikhede in die Oosblok om ‘n stukkie navorsing in Nederlands te doen. Die onderwerp van my navorsing? Daardie rare simbool van ontreddering, beproewing of blatante aandagsoekery, die beletselteken. Volgens een van my gunstelingbronne, die webblad van Jager & Neyndorff (Google dit), het die beletselteken ‘n heel nederige fisiese voorkoms. Dit bestaan naamlik uit “drie puntjes”. Goed, hoor.

Dan het dié drie puntjies ook wel ‘n aantal funksies. Die een wat vir my doeleindes heel érg toepaslik is, is die volgende: die beletselteken dien “als teken dat de lezer zelf iets moet aanvullen”. Daar is ook nuttige riglyne vir of daar ‘n spasie voor die beletselteken kom, of slegs daarna.

‘n Tot nog toe betreklik onondersoekte arena waarin hierdie aspek van die krag en veelsydigheid van die beletselteken figureer en sigself toon, is op die nederige vlak van daardie lewensbelangrike stukkie korrespondensie waarvoor die skares daagliks onder andere die selfoon opneem: die Facebook-status update. Op hierdie forum word die beletselteken byvoorbeeld heel dikwels gebruik om afwagting te skep of aan te dui. Vergelyk: “Ek kan nie wag nie…”. Die leser kan hier viervoetig in die strik trap met daardie klinkklare, dog verwagte, antwoord: “waarvoor?” (op enige wyse gespel), terwyl dieselfde niksseggende stelling ewe min sou beteken, maar ten minste afgehandel sou gewees het, met ‘n punt.

Ook kan die beletselteken op Facebook skynbaar dui op onderdrukte irritasie: “Môre is die dag…”. Nogeens die antwoord: “waarvoor?” of (met skeiding) “vir wat?”, ensovoorts.

Die algemeenste funksie waarvoor ons drie puntjies gebruik word, is egter die skaamtelose soek van simpatie, meelewing, of aandag oor die algemeen. Hieronder ressorteer ‘n magdom voorbeelde, waaruit enkeles ter illustrasie vermeld word. Vergelyk byvoorbeeld: “Rowwe dag…” of “Nie al weer nie…” of “Ek leer ook nooit nie…”. Hierop kom die raarste reaksies. Dinge soos “Ai, vriendin, ons gedagtes is by julle…” of “Sterkte, man…”, ensovoorts.

Met alle respek gesê, hoesê? Wat gaan aan met hierdie mense? Van wanneer af is dit in die mode
om so blatant aandag te soek? Nee, man. Siesa. Of is dit om jou interessanter te laat klink as wat jy regtig is? Vergelyk die volgende drie voorbeelde: “Al weer geswig…”, “Al weer geswig.” en “Al weer geswig!”. Hierop kan, onderskeidelik, gereageer word met “Ai vriendin, ons is nog lief vir jou!”, “Nice.” en “Awesome, man, was sy hot?”. Die moontlikhede wat die drie puntjies ontsluit, is letterlik eindeloos. Die feit dat dit so klakkeloos gebruik word om ‘n reaksie uit te lok wat aan jou herbevestig dat daar iemand is wat (a) die goed wat jy sê, lees en (b) omgee, is betreurenswaardig en meestal ook taamlik irriterend.

Net een punt, indien enige. Asseblief. Dankie. Amen.

My persoonlike voorkeurantwoord op ‘n bebeletseltekende pennevruggie? Ek kry my inspirasie uit ‘n videogreep wat ek onlangs gesien het oor die stiksienigheid wat die massas oorval as dit by Apple-produkte kom:

Pippie Langkous al weer geswig…
Marius Swart I don’t care.

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

Astrid Lampe. klein en ritselend →

4e gedagtes oor “Marius Swart. Die ding van drie kolletjies”

  1. Ivan Mocke says:
    4 August 2010 at 15:07

    Kostelik, Daniel. In my soeke na die teks van “Met apologie” om dit by Jan Pollet se inskrywing te kan plaas, het ek toevallig op Hennie Aucamp se artikel elders op hierdie webblad afgekom waarin hy soos volg na jou satiriese vers “Persoonlike korrespondensie” verwys: “Hierdie onderverkende satire is myns insiens op dieselfde hoë vlak as “Met apologie” van D.J. Opperman, en Hugo se skrywe is dan ook aan Opperman in die hemel, waar hy soos alle ander hemelinge nie meer ‘n opper- nie maar ‘n doodgewone man is.”
    Het toe weer die gedig in jou bundel “Vuurdoring” gaan lees; pure plesier. Dankie.

    Reply
  2. Daniel Hugo says:
    4 August 2010 at 13:53

    Beste Marius en Louis – die beletselteken kan ‘n verskrikking word in die hiernamaals!

    In memoriam die digter

    hy het geleef: kort maar hewig
    (op dertig is hy geblus)
    elke kan het hy geledig
    en geen malse maagd laat rus
    daarna het hy met rymrumoer berig
    oor al sy eskapades
    op sy kuns was hy hoogmoedig
    blasfemies soos ’n Faustus

    maar wie Middeleeus wil boer
    – wee hom! – moet dit enduit voer:
    in ’n ouderwetse hel
    word hy nou sonder beletsel
    of punt deur die drukkersduiwel
    tot in ewigheid gekwel

    (Daniel Hugo: Verse van die ongeloof, HAUM-Literêr, 1989)

    Reply
  3. Louis says:
    4 August 2010 at 10:02

    Askies, Marius – ek pleit skuldig … Ter versagting moet ek darem sê dat daardie liewe drie dotjies dieselfde effek op my het as die teug aan ‘n sigaret. Maw dit dien as snelleraksie vir die afskeiding van die een of ander hormoon in die brein. (Ek dink hulle noem dit dopamien, of so iets.)

    Reply
  4. Lewies Botha says:
    4 August 2010 at 06:30

    op daardie punt dan…ens.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Antjie Krog: ʼn  Ondersoekte lewe.  ʼn Huldiging" (Louise Viljoen, Red.)
  • Resensie: "Feesmaalgang" (Dietloff van der Berg)
  • Resensie: “De ontdekking van het eiland: breytenbachiana” (Yves T’Sjoen)
  • Resensie: "Asindeton" deur Joan Hambidge
  • Resensie: "Ontbloot" (Marthé McLoud)

Nuutste bydraes

  • Koos de Wet. kosmiese adres
  • Johann Lodewyk Marais. Rooibok
  • Paul Kloppers. buurt
  • ND Cronjé. seisoene in ‘n rei
  • Paul Kloppers. kwyn

Nuutste kommentaar

  1. Benita Hartman on ND Cronjé. seisoene in ‘n rei10 April 2026

    Vernuftig sikleer die digter seisoene in gestroopte taal,met alle sintuie fyn ingestel - atmosferies. Puik.

  2. Bernard Odendaal on Bernard Odendaal. Goed gaan8 April 2026

    Dankie, Paula. Ek waardeer die terugvoering.

  3. Joan Hambidge on Bernard Odendaal. Goed gaan8 April 2026

    'n Kragtige slot. 'n Pynlike lykdig wat 'n familieverbintenis verhaal teen die politieke agtergrond. En lyfseer aktiveer hartseer.

  4. André le Roux on Hennie Nortjé. Artemis 27 April 2026

    Die voorspelling word bevestig. Fyn opgemerk en saamgevat!

  5. Bernard Odendaal on Bernard Odendaal. Goed gaan7 April 2026

    Dankie, Daniel. Dié veertjie van jou af steek ek ingenome in my hoed!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d