Om kommentaar te lewer al dan nie …

Ron Silliman

Ron Silliman

Die kommentare op ‘n webblad is dikwels ‘n problematiese aangeleentheid; daarom dat die volgende stuk my oog gevang het. Vantevore het ek reeds oor Ron Silliman, wat beskou word as die Amerikaanse poet laureate van die internet, en sy volprese weblog, Silliman’s Blog, berig. Nie net word sy weblog as een van die gesaghebbendstes beskou nie, maar dit is ook (na bewering) een van die wat die meeste besoeke ontvang.

Verlede week het daar egter ‘n inskrywing deur die jong digter, Jessica Smith, op háár weblog verskyn waarin sy – te midde van waarderende kommentaar jeens Ron Silliman en dit wat hy vir die Amerikaanse digkuns, en meer spesifiek vir die jongeres, beteken – aandui in welke mate Silliman se blog tot nadeel is van die Amerikaanse digkuns as gevolg van die “losse benadering” ten opsigte van die kommentare: “The problems with Silliman’s blog and its effect on contemporary poetry are in the comment boxes. Now, as we all know, comment boxes are notorious for being a place where a few self-appointed “experts” on any subject can whack off listening to their own voices. Comment boxes are more often frequented by men, and they’re usually angry, aggressive men looking for an argument. This is true everywhere on the internet, not just on poetry blogs. A few years ago, Silliman’s comment boxes were especially poisonous; I’m not entirely sure what changed, but they seem to be less active now. However, when active, they are still poisonous,” het sy geskryf.

Ron Silliman het oombliklik hierop reageer en hom soos volg uitgelaat: “I have tried policing my comments stream over the past couple of years, and – as I noted the other day on Jessica Smith’s blog – I routinely reject a half dozen comments every day that are sexist, homophobic or anti-Semitic. Moderating the comments stream at times makes me want to take a shower. Worse yet, one of the consequences of my rejecting the more overtly vile submissions would appear to be that I have inured myself to the merely despicable level of chatter that can go on. I don’t mind debate, even vigorous debate, over fundamental issues. But it does seem clear to me that some people make a point of verbally attacking writers I praise on this blog simply because I’ve praised them.”

Die gevolg hiervan is dat Silliman nou besluit het om die kommentaar-fasiliteit op sy weblog heeltemal te sluit.

Ironies genoeg het ons op hierdie webblad met amper die teenoorgestelede probleem te make. Aanvanklik het ons ook met die probleme wat Silliman ondervind, gesukkel, maar sedert ek en Marlise besluit het om sterker as “redaksie” te funksioneer en bydraers tot hierdie webblad deur middel van ‘n kolofon teen ongewenste kommentare te beskerm, is dié probleem grotendeels tot niet. (Nie dat almal altyd hiermee akkoord gaan nie – ons is byvoorbeeld enkele maande gelede nog van sensuur beskuldig …)

Nietemin, ons probleem is dat besoekers aan die webblad klaarblyklik geïntimideer voel deur die “name” wat hier figureer en derhalwe nie die vrymoedigheid wil neem om aan gesprekke deel te neem of kommentaar te lewer nie. Statistiek dui daarop dat daar op die meeste dae meer as ‘n 1,000 besoekers is wat kom inloer; en tog is die aantal kommentare nie eens 10 per dag nie … En dit terwyl die bloggers júís kommentaar verwelkom; daarom dat die kommentaar-funksie geaktiveer is/word deur die bepaalde blogger. (Met elke plasing het hulle die keuse of hulle kommentare wil ontvang, al dan nie.)

En ai, mense. wat is meer ontmoedigend as om lank te werk aan ‘n besonderse blog en niemand reageer daarop nie? Daarom, asseblief: erken jou waardering jeens die moeite (en entoesiasme) waarmee iemand vir jóú leesplesier ‘n stuk geplaas het deur gewoon “dankie” te sê of wat ook al.

Hierdie is immers ‘n webblad wat nie aan “iemand” behoort nie. Nee, dit behoort inderdaad aan almal wat ‘n passie het vir en ‘n belang by die Afrikaanse digkuns. Of dit nou as digter, resensent, leser, blogger of wat ook al is.

So – laat kom daardie kommentare … Ons sien uit daarna.

***

Vanoggend is daar net een nuwe bydrae om te rapporteer en dit lé op die tafel by Wisselkaarten:  Luuk Gruwez het ‘n nuwe stuk geplaas oor die digter Tsead Bruinja. En ten slotte, nog ‘n besonderse toevoeging tot die gedigtekamers is Daniel Hugo se driedelige gedig “Hoor hoe waai die wind” wat gister ontvang en geplaas is.

Geniet dit alles. En dankie vir jou betrokkenheid.

Mooi bly.

LE

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Om kommentaar te lewer al dan nie …”

  1. Lewies Botha :

    Soms is die kommentare wat volg meer leesgenot as die blog inskrywing self. Ek moet die redaksie gelukwens met hul uitstekende werk. Hulle slaag daarin om ‘n blog ruimte en webtuiste vir die digkuns op een plek saam te bring. Die struikel blokke van ‘n blogruimte naamlik dat dit gewoonlik verval in ‘n klomp land en sand geselsies, kleinlikhede en groep vorminge word goed oorkom deur die redaksionele beleid en beperking tot genooide bloggers. Die bydraers hoef dus nie afgehaal te voel as daar nie stringe; “ag dis so mooi” kommentare volg nie. Daarvoor gebruik ek in elk geval ‘n ander plek waar ek vriend en vreemdeling kan “por” en vriendskap versoeke maak en nugter weet wie almal inlig oor my “status “; Moedeloos, alweer nie die lotto gewen nie.

  2. Gerhard :

    Ek kan ook nie anders as om met Lewies saam te stem nie, Louis. Volpunte aan die redaksie! Ook moet ek sê dat Daniel Hugo se nuutste gedig vir my besonder mooi is. Dankie daarvoor.
    Gerhard van Heerden

  3. Louis :

    Dit wil voorkom asof Ron Silliman se besluit om die kommentaar-funksie op sy webblad op te skort, sommer heelwat (teenstrydige) reaksie op die internet ontlok.
    Gaan lees gerus De Contrabas se oorsigberig by: http://www.decontrabas.com/de_contrabas/2010/08/commentaar-of-geen-commentaar.html

  •