Andries Bezuidenhout. My digterlike stem se byvoeglike naamwoorde

Ek kom nou die dag op ʼn artikel van Marius Crous af, waarin hy ʼn insiggewende oorsig gee oor Afrikaanse digters se debuutbundels wat sedert 2000 gepubliseer is. Lees dit hier.

Ek sien my bundel Retoer word onder “[w]hite heterosexual male voices” geklassifiseer. Ek waardeer nogal Marius se bespreking van die bundel en die feit dat hy een van my obsessies – sosiale klas – spesifiek noem en ʼn gedig aanhaal wat daarmee worstel. Aan die einde van die artikel word daar in die rigting van verdere navorsing gewys: “The voices of white heterosexual males and their phallic obsession with female sexuality need to be examined critically.”

Nou sit en wonder ek oor my gedigte.

Oor die “white” kan ek seker nie protesteer nie, al het ek byvoorbeeld ʼn voorouer wat ʼn slaaf was. Die son herinner my gereeld aan hoe sensitief my vel is en ek is immers as “wit” deur die apartheidstaat hanteer – pens en pootjies weermag toe gestuur in die tagtigs. Van my gedigte handel tog oor die weermag, iets wat Marius ook noem.

Oor manlikheid het ek nog nooit juis sterk gevoel nie, maar die mense wat Caster Semenya moes toets sou seker op biologiese grondslag kon beweer dat ek wel manlik is. Sekere van my meer manlike familielede sou dalk objeksies hê, gegewe die gebrek aan Pascal wat my handdruk genereer. Ek weet nie of hulle die woord “performativity” sal verstaan nie en dis onwaarskynlik dat hulle met Butler of Connell  se werk bekend is.

Oor “heterosexual” kan ek as individu egter luid protesteer, siende dat ek geen sterk seksuele voorkeure het as dit kom by dinge soos geslag en “ras” nie. Dit gaan vir my veel meer oor die individu, seker ook oor dinge soos tyd, plek en konteks. Maar ʼn digter of skrywer se eie identifikasie sê niks as die leser niks daarvan in die teks kan bespeur nie. Ek wonder tog hoe presies ʼn mens seksuele oriëntasie in tekste lees sonder om met harde opposisies te werk.

Dat die heteronormatiewe wêreld in stand gehou word deur stiltes sowel as simboliese geweld (en fisiese geweld) bevraagteken ek nie. Dalk is ek as digter deel daarvan. Maar stiltes word darem vreeslik ruim as ʼn mens al die staanplekke van hedendaagse identiteitspolitiek in ag moet neem.

Ek wonder soms hoeveel byvoeglike naamwoorde ons op die ou einde op mekaar sal moet stapel om vir elkeen se identiteitspolitiek plek te maak; hetsy as posisie van mag of protes.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. My digterlike stem se byvoeglike naamwoorde”

  1. Daniel Hugo :

    ‘n Netjies genuanseerde reaksie, Andries.

  2. Leon Retief :

    En ook baie diplomaties. “Phallic obsession with female sexuality” goeie grief! Weet nie wanneer laas ek so ‘n stereotiprende stelling gelees het nie.

  •