1.
Een van kritici se gunsteling opmerking om te maak oor nuwe skrywers en skryfwerk is dat ons hier met `n eie stem of `n vars stem te make het. Onlangs lees ek weer Fernando Pessoa se A little larger than the entire universe (2006) wetende dat hy van sogenaamde heteronieme gebruik gemaak het. Dit kom daarop neer dat hy gedigte as verskillende personas geskryf het, waaronder Alberto Caeiro, Alvaro do Campos en Ricardo Reis. Net soos Alain de Botton in sy Kiss and tell het Pessoa selfs denkbeeldige biografieë vir elk van die heteronieme geskryf.
Zenith rubriseer sy vertalings van Pessoa ook onder die name van die drie genoemde heteronieme en in die slotgedeelte word gedigte wat onder die naam Pessoa geskryf is, ook ingesluit.
Wonder hoe die kritici oor Pessoa geskryf het? Seker iets in die trant van “Reis se gedigte toon `n sterk ooreenkoms met dié van Do Campos en daar is nog nie genoegsame sprake van `n eie stem nie.” Of dalk: “Caeiro word so oordonder deur die doelbewuste naskryf van Do Campos, Reis en selfs Pessoa dat die eie stem skaars hoorbaar is.”
Die speletjie wat Pessoa met die leser speel, word in die gedig wat deel uitmaak van die siklus “Autopsychography” soos volg verwoord:
The poet is a feigner
Who’s so good at his act
He even feigns the pain
Of pain he feels in fact.
And those who read his words
Will feel in his writing
Neither of the pains he has
But just the one they’re missing.
And so around its track
This thing called the heart winds,
A little clockwork train
To entertain our minds.
Maar dis veral die slotvers van die volgende gedig in die siklus wat sy ingesteldheid gepas verwoord:
Oneness is a prison.
To be myself is to not be.
I’ll live as a fugitive
But live really and truly.
2.
Van die mooiste musiek ter wêreld bly requiems en myns insiens verbeeld Verdi se “Dies irae” iets van die Calvinistiese God se wraaksug – al was Verdi tog geen Calvinis. Maar net soos Cherubini en Duruflé en Faure die doodsmusiek omtoor tot strelende vertroosting, so is ook Henning Pieterse se “Requiem vir `n reëndag” uit sy Alruin – om saam te lees saam met Mozart se afvaartsmusiek:
Hoe breek die druppels
vandag teen die ruit.
Voorspel skuif tot elegie uit.
Grafte sal nou modderig wees.
Op só `n dag, glo,
is Wolfgang onvoltooid
na sy graf gedra,
Constanze se trane gebreek
deur die reën.
`n Stoet sukkel af,
skuifel in die reën,
die priester laat val `n seën
haastig in die graf.
Tog: dié dag was eintlik mooiweer
spel weerkundiges nou terug,
en verbreek
met fyn noukeurigheid
die grys romantiek van `n reëndag.
3.
Onlangs ontdek ek op YOU TUBE die onderhoud wat Toni Morrison en Appiah met Marlene van Niekerk gevoer het oor Agaat. Hier sit Amerika se Nobel laureate en praat oor hierdie wonderlike dik boek wat sy gelees het en wat sy by almal kan aanbeveel. Nes dit vir my apartheidsgevoede brein moeilik was om te kop dat Antjie Krog met Adrienne Rich in gesprek tree by Columbia. Goed, ek weet Brink het pre-Mandela ook die wêreld oor gereis en Breyten Breytenbach is maar altyd met Frankryk geassosieer, maar dalk lei ek aan `n soort Amerika-kompleks? Sal weer Baudrillard en Julia Kristeva se “Why the United States?” (1977) moet gaan lees. (Wie gaan die eerste Afrikaanse Nobel laureate wees?)
4.
Met die lees van Johann de Lange se Judasoog vir `n resensie wonder ek wie was die eerste digter om die ampersand te gebruik? Blake? Sal moet google.
5.
Janacek se musiek is destyds in die kultusfilm The unbearable lightness of being gebruik en die slottoneel met sy toegegroeide pad speel trouens af wanneer Janacek se klavierstuk met dieselfde titel as klankbaan gebruik word. Maar daar is ook sy Glagolitiese mis en sy aangrypende Onse Vader in Tsjeggies – ek het dit een aand in die Endlersaal aangehoor en my stoel vasgeklem uit simpatie met die tenoor se stryd om die hoë note op Tsjeggies te haal. Fassinerend hoe Janacek die orrel inspan. In die Onse Vader subliem, maar in sy Glagolitiese mis, trek hy oop en blaas die gehoor se perms a la Marge Simpson in alle rigtings.
Naas Henning Pieterse is Johan Myburg ook `n digter oor die musiek. (Dalk moet iemand al die musiekstukke in Henning Pieterse se werk byeenbring op `n CD want dit sal musiek van Arvo Pärt tot Hildegard von Bingen tot Indiese sitermusiek insluit.)
Terug by Janacek – die titelgedig uit Johan Myburgh se bundel Kamermusiek (2008):
Dieselfde kamer. Dieselfde musiek.
Janacek se Intimate Letters op repeat.
Ek kyk ongelowig na myself. Is dit ek
wat op die bed lê, wat soveel plek
Opneem; been gestrek, hang af. Die ander
een dwars getrek oor die deken. Is ek
Vindbaar in dié lyf? Bewoon ék die huis,
is al dié dinge om my met my verweef?
Is daar `n lewe wat ek elders leef?
(Moet toegee, Johan, Intimate Letters, moet ek eers beter beluister.)
Of “Koda” uit dieselfde bundel:
Gedagtig aan `n engel
komponeer Alban Berg
sy Vioolkonsert van 1935
As gebed om te sterwe
siteer hy ten slotte
`n JS Bach-koraal
In my binnekamer resiteer
Perlman op laserskyf
ek en duisend engele
Es ist genug
Wat my dan weer terugvat na Henning Pieterse se gedig, “Alban Berg-Vioolkonsert” ook uit Alruin:
`n Silwer voël styg
soos `n ruimte-engel
uit die ewige kleure
van `n klinkende al.
Hy doop sy snawel
in `n silwer see
en rek `n druppel
ewig uit.
Klank is staalbitter
bitterstaal op die tong.
Rek dit uit soos verlange
na liefde en dood.
`n Silwer voël hang
soos `n silwer engel
en styg weer terug
stilte in.
Marius, ek het jou musiekverwysings geniet. Ek het onlangs eers begin kennis maak met Janacek, lank nadat ek The Unbearable Lightness of Being gesien het. Sal weer moet gaan kyk: het al die klankbaan vergeet en nie besef hulle gebruik Janacek nie. Dankie vir die verwysing!
Ek het ‘n tydjie terug fantastiese opname van Janacek se Intimate Letters gekoop, deur die Pavel Haas Quartet. Hulle is Tseggies en Gramophone noem hulle die beste jong strykkwartet in die wereld. Hulle het tot dusver 3 CD’s uitgegee, met musiek deur Janacek, Pavel Haas en, mees onlangs, Prokofiev. Die ander Janacek wat ek op CD het is ‘n lewendige opname van die wonderlike soloklavierstuk, In the mists, deur Piotr Anderszewski, van sy CD Live at Carnegie Hall. Hy speel op daardie CD ook Bach, Schumann, Beethoven en Bartok. Wonderlik.
Wat die Alban Berg vioolconcerto betref, ek gaan oor ‘n paar weke Londen toe en het ‘n kaartjie om dit “live” in die Royal Albert Hall te gaan luister (saam met Beethoven se 9de). Ek is in my noppies hoor!! 🙂