Beste Redaksie
My laaste brief aan Lucas Malan bevat informasie wat ook vir ander digters nuttig mag wees, en in dié gees bied ek dié brief vir Versindaba aan.
Hennie Aucamp
——————————
9 November 2009
Lucas, jy en Charl-Pierre Naudé het ‘n boeiende ding beet, rakende die verskille en ooreenkomste tussen prosa en poësie. Hoekom bou julle dit nie uit tot ‘n artikel nie, opgevolg deur ‘n bloemlesing prosa omgesit tot poësie? So iets is al gedoen, en raai, ek kon mý voorbeeld van dié praktyk in een van my ou Amerikaanse dagboeke opspoor. Ek sluit ‘n kopie van die aankondiging daarvan in. Dit gaan om die aanpassings van enkele inskrywings in Nathaniel Hawthorne se American Notebooks in. Walt Whitman se Specimen Days (prosa) leen hom selfs beter tot die omstelling van prosa na poësie, en van sy “prosas” is dan ook getoonset, o.a. deur Ned Rorem. Daaroor later.
Hoe is dit dat poësie – goeie poësie sowel as “sogenaamde” poësie – sig nie altyd leen tot omstelling na soliede, geritmeerde prosa nie? Onder sogenaamde poësie reken ek daardie soort poësie wat albei stoele missit, die prosastoel én die poësiestoel, ‘n hibried wat vroeër tereg skamper “proësie” genoem is. Die prosas van Jan Rabie slaag sowel as poësie en as prosa; op die koop toe kan jy ‘n paragraaf uit enige verhaal in 21 herhaal en dit speel-speel omsit in aanneemlike poësie.
Ek het ‘n baie bruikbare vertrekpunt vir jou/julle bespreking van dié kwessie, n.a.v. The Poetic Memoirs of Lady Daibu, c. 1174 – c.1232. Sy was ‘n hofdame van die Keiserin Tokuto, in Kyoto, Japan. Hofdames was uiteraard ook “gesellinne” vir hoë gaste. Die intelligente en beskaafde Lady Daibu het natuurlik besef dat sy nie verlief durf raak op een van haar “kliënte” nie, maar ja, daar gebeur dit toe tog, en só, sê sy, “I also came to know love’s miseries.”
Ek laat volg die res van haar inskrywing:
“Once, while this affair was causing me a great deal of heartache, I was at my home, lost in thought and gazing westward into the distance. The light of the evening sun was fading on the treetops and that filled me with melancholy. Then the sky darkened and the fitful winter ruin began to fall. As I looked out at this, I felt:
Caught in the last rays
Of the setting sun, the treetops
Darken in the chilling rain:
So too my heart is dimmed
And clouded over in its misery.
Bron: The Book of Life: A compendium of the best autobiographical and memoir writing, edited by Eve Claxton. Ebury Press, London, 2005.
Dié boek word voortdurend heruitgegee, en staan o.a. by Wordsworth, maar ook by Louis in Stellenbosch. Lady Daibu se inskrywing moet een van die min voorbeelde in die wêreldletterkunde wees waar ‘n identiese emosionele ervaring eers as prosa gegee word, daarna as poësie, beide mededelings getrou aan hul wesensaard. En nou laat ek aan jou en Charl-Pierre “die besonderhede en verdriet”.
As julle ernstig is, kan ek julle na wonderlike digte prosapassasies by Gustav Preller, Sangiro, Van Melle, Karel Schoeman, en ander lei. O, ja, ook by Cussons, Petra Müller, Rabie en Braam de Vries.
Hartlike groete
Hennie
NS Uit nuuskierigheid, maar ook as kontrole by myself, luister ek toe gisteraand na ‘n CD: Ned Rorem: War Scenes, Five Songs etc.
•(1) A Speciman Case
. . . Poor youth, so handsome, athletic, with profuse shining hair. One time, as I sat looking at him while he lay asleep, he suddenly, without the least start, awakenen’d, open’d his eyes, gave me a long steady look, turning his face very slightly to gaze easier – one long, clear, silent look – a slight sigh – then turne’d back and went into his doze again. Little he knew, poor death-stricken boy, the heart of the stranger that hover’d near.
•(2) Inauguration Ball
At the dance and supper room I could not help thinking what a different scene they presented to my view a while since, fill’d with a crowded mass of the worst wounded of the war. Tonight, beautiful women, perfumes, the violins’ sweetness, the polka and the waltz; then the amputation, the blue face, the groan, the glassy eye of the dying, the clotted rag, the odor of wounds and blood, and many a mother’s son amidst strangers, passing away untended there . . .
En net vir vergelyking: ‘n Walt Whitman-gedig, ook getoonset deur Ned Rorem:
Look down, fair moon
and bathe this scene,
Pour softly down night’s nimbus floods,
on faces, ghastly, swollen, purple;
On the dead, on their backs;
with arms tosse’d wide,
Pour down your unstinted
nimbus, sacred moon.
Die prosa en die poësie van Walt Whitman het ‘n intense emosionele lading, en ook die bykomstige spanning van ‘n verbode emosie: homoërotiek. En beide prosa en poësie werk met teenstellings, met markante ritmes.
Hubert du Plessis het een prosateks getoonset, Dawid se Klaaglied oor Jonathan, en dit byna matematies geskandeer voordat hy begin komponeer het.
Komponiste kan ons baie leer omtrent stiplees.
Hennie