
Vandag is Nasionale Vrouedag en uiteraard word die vrou in haar volle geskakeerdheid gevier. Tradisioneel het hierdie dag, wat sedert 1994 elke jaar op 9 Augustus gevier word, ‘n sterk politieke kleur aangesien op dié dag in 1956 het ‘n groot groep vroue ‘n veldtog begin het om ‘n einde te bring aan die paswette wat deur die destydse regering afgedwing is.
Die veldtog het begin toe ongeveer 20 000 vroue in Pretoria na die Uniegebou te voet opgetrek het om beswaar te maak teen bepaalde voorgestelde wetswysigings rakende die paswette as onderdeel van die Stedelike Groepsgebiede Wet van 1950. ‘n Petisie met meer as 100,000 handtekeninge is aan die Eerste Minister van daardie jare, J G Strijdom, oorhandig.
Na die oorhandiging het die groep vir 30 minute in stilte buite die gebou gestaan waarna hulle ‘n lied begin sing het. Die woorde (vertaal) was “Noudat jy die vroue aangeraak het, het jy aan ‘n rots geslaan.” Die woorde het die durf en krag van hierdie vroue uitgedra.
Sedert 1994 dien die Nasionale Vrouedag vieringe enersyds as ‘n herinnering aan die belangrike bydraes van vroue in Suid-Afrika en andersyds is dit terselfdertyd ‘n geleentheid om opnuut te besin oor die regte (en vreugde) van vroue.
As huldeblyk plaas ek ‘n gedig van Petra Müller, wat enkele dae gelede haar 75ste verjaarsdag gevier het, onder aan vanoggend se Nuuswekker.
***
Gedurende die naweek het daar net twee nuwe plasings bygekom. In die Brieweboks is die laaste brief wat Hennie Aucamp aan sy vriend en mede-digter, wyle Lucas Malan, geskryf het. By die Wisselkaarten het Chris Coolsma die eerste in ‘n beoogde reeks oor wat Afrikaans vir hom as Nederlandssprekende beteken, geplaas.
Lekker lees en mag die nuwe week ‘n produktiewe een wees.
Mooi bly.
LE
Hulle, by die warmbad.
Die vrou is hernu in die modderbad.
Geliefdeste, onthul jouself! Jy is jonk vandag,
soos ‘n vroeperske, en jou vel is te teer om aan te raak.
Jy ruik soos ‘n boord vol druppels, ‘n goeie winter.
Het jy die aarde geniet, daarbinne?
Die modder maak dors, sê jy, en smak met jou tong.
Ek voer jou glase vol reën, helderversadig en wit.
Próé, sê ek, proe en word koel.
Die modder maak warm, sê jy.
Dis altyd warm waar daar herskep word, sê ek,
Skepping is vuur. Jy’t hierheen gekom vir die vuur.
Jy knik met jou kop, ‘n stadige op en ‘n af. En dan
sit jy skoongeskrop en stil in jou handdoek, die een
wat jou liggaam bedek soos ‘n tent.
Dis swaar op die hart, sê jy, kyk, ek beef, gee my iets
teen die beef, en jy reik ver af in jou longe na asem.
Ja, lewe is altyd op soek na die sterk hart,
iets wat nie die lawa vrees nie, of die hittebinneste
van die gewoonste ding. Soos dat een mens een-alleen
die ander een kan liefhê tot die grond self afkoel
rondom hulle …
Maar ek sê dit nie. Ek voer jou van die sterk wit pepermente
deur jou rittelende tande, in jou dieprooi mond.
© Petra Müller (Uit: Versindaba 2006, Protea Boekhuis)
Dit is seker goed dat jy ‘n Nuuswekker doen oor “Vrouedag”, Louis. Vanoggend is daar egter die volgende hartverskeurende berig in Beeld. Dit werp nogal ‘n ironiese blik op die hele kwessie van vrouedag.
Gaan kyk by: http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Ek-het-R30-se-7-jarige-vir-aanvaller-20100808