Francilié Hoek.Papierperd-ridder.
Ek wonder wat Freud sou gesê het oor my onvermoë om ‘n liefdesvers te skryf? Al rede waaroor ek enigsins oor Freud wonder, is omdat ek sielkunde geswot het en omdat Freud altyd ‘n goeie invalshoek vir enige stuk sinnelose, filosofiese skryfwerk (of te wel blog) is.
As ek sonder om te google of deur die groot verseboek te blaai ‘n mobiel van liefdesverse bo my bed moes hang. Watter verse sou geluidloos verbydryf, terwyl ek en my splinternuwe man skop-skop-skop om warm te word op ‘n yskoue hoëveldnag met Ponti ‘n verligte stalagmiet in die donker? Of terwyl ek teen hom opkrul soos die kat in die kinderboek wat uiteindelik ‘n huis gekry het en hy vir my lees van Odysseus en van Ariadne.
Ek is verslaaf aan my klein vrou
ek sal uit haar tong drink
ons sal soos klipsalmanders op die kooi klouter
van die vensterbank tot op die eerste blink nok van die maan
Laat my tog een maal deur die heinings van jou oë breek,
sodat ek kan weet of dit vir my is vir wie jy wit jasmyne kweek.
My hart is ‘n toring sodat ek jou van ver kan sien kom.
God, U wat U besig hou met sonnestelsels, planete en engele luister na my: ek het ‘n gewone mens eindeloos liefgekry.
Liefste, jy is my son wat deur die diepste donker priem dat ek alles in die lig kan sien.
Liefdesverse is so bietjie soos amateurfoto’s van die maan, dit laat nooit reg geskied aan die oorspronklike prentjie nie. Byvoorbeeld (met apologie aan die digter, toe sy verlore-verlief was in Londen op 23)
Foto in my Bybel
Ek wil jou so onthou
so klein seuntjie-opgewonde
by die Britse dokke
met die tydlose op en neer
van donker water
en die boognekke van siervoëls
so in ‘n Londonsomer
met die son op jou skouers
die verbygaan van Connex-treine
en speelgoedvliegtuigie-boeings
wat die blou lug streep streep
so wil ek jou onthou in groen parke
waar jy my onverwags soen
sonder pretensie
en jou kop so duifskeef hou
as jy luister na my sinne
net so wil ek jou vir God gee
want ek het jou liefgekry in drie seisoene
en ek verbeel my
dat die maan iewers
ook deur jou venster
klouter met lang kielietone.
Beslis te veel “telling” en te min “showing” sal die geleerdes sê. En miskien “clichématig met geykthede”. Tog was die maan op daardie spesifieke aand die tower van ‘n Harry Potter-Londen en die bloeiselboom deur my venster gloeiend van genot.
Selfs groter as die vrees om nie reg te laat geskied aan die gevoel, die oomblik, die ekstase nie, is die vrees vir óórdoen, opdollie en soppy-klink. Soos wanneer iemand vir jou foto’s bring van die troukoeke wat hulle vir ‘n stokperdjie oor naweke versier en dit herinner aan die spaartoiletrol-balrokstiksels van die toilet in die dorpsbiblioteek waar jy grootgeword het. “Less is more” sê Nataniël. Dit dan ook die rede waarom pronkertjies my gunsteling blomme is. Minder aansit, aanstellerigheid en uitsoek en meer aardse geurigheid en oorvloed-rank.
Tog is dit liefdesgedigte wat die maklikste vloei terwyl ek in die bad lê met ‘n bloekomboom deur die venster of skeef geskryf oor die profiele van IK toetse of op die piepklein skermpie van my Nokia in die middel van die nag met die duvet oor my kop getrek – ‘n tentjie van af-en-toe-lig en woorde.
“Woorde maak my meer weerloos” skryf ek een aand in die vensterbank van Affies Meisieskoshuis terwyl ek teelepel in die ander hand ‘n soet papino uithol. Selfs aspirant-digters kan in die regte bui multi-task, en ek verbeel my die verse wat ek eendag, broos en geurig soos katjiepieringkelke in my ridder se saalsak sal versteek.
Jare later, meer streetwise en sku vir ridders save ek ‘n paar sinne uit die onderstaande een aand op my selfoon net vir ingeval. Min wetend dat ek dit eendag – op my troudag impromptu sal voorlees, oor my ridder een sterreaand uit die bladsy gallop het en oor ek tydelik my fobie vir liefdesgedigte oorkom het.
Ek hou die meeste van jou want daar hang ‘n tolbos in jou huis
wat snags sterrewag word, waar ek
dom-handjie-oor-die-een-oog my drome bespied.
Jy ruik na oggendson op ‘n geelhouttafel
en Spar se appelsjampoe,
jy bêre vir my ‘n veldkrimpvarkie in jou badkamer
sodat ek my oor die lente – spitssnoetjie kan verwonder.
Jy lag met baie plooitjies
en maklik soos botter smelt op ‘n braaibroodjie,
jy’s sonder opsmuk en pretensie
‘n vanself-groei witstinkhout.
Jy’s ritme en vreemde klanke
jy slaan nuwe hoofstukke in my kop oop
jy noem my Vlegseltjie
en ek bind die klink daarvan
elke more soos klokkies om my enkel.
Ek hou daarvan.