Pieter Hugo. Stofsuiers, sokker, serendipity, Calvyn en Vrouedag

Toe ek Vrydagaand uiteindelik uit die immer omringende wolk van werkgedagtes ontsnap en besef dis ‘n langnaweek, was my eerste gedagte dat ek dus tyd sou kry om weer ‘n slag ‘n blog vir Versindaba te skryf. Maandag, besluit ek toe, op Vrouedag, gaan ek my man staan en ‘n BLOG van ‘n blog skryf.

Plaas gerus alle skuld vir my maandelange blogstilte op my werk. Nee, eerder op my aanslag tot my werk. Of, nog beter, op Calvyn. Dis baie makliker om van Calvyn se geloof ontslae te raak as van sy werksetiek. Ek moet eerlik wees (alweer Calvyn!) en darem gedeeltelike verantwoordelikheid aanvaar, in soverre dit my ego en beroepskeuse aangaan. My ego maak my wys dat niemand die werk so goed soos ek kan doen nie, en hoe meer nie-calvinistiese staatsdienskollegas aangestel word, hoe harder laat my ego my werk. Voeg daarby dat ek in my laat-dertigs eers my perfekte beroep gevind het en dit nou dubbel geniet om te hard te werk: eerstens vir hoe lekker ek werk en tweedens om in te haal op al die verlore jare wat ek nie bibliotekaris was nie.

Maar moet nou nie uit hierdie hele relaas die afleiding maak dat ek nie aanpasbaar is nie. Ek het byvoorbeeld myself verbaas deur besonder opgewonde te raak oor sokker tydens die Wêreldbeker. Dit het my ook geluk om voor die tyd al te besluit om die uiters oncalvinistiese Spanjaarde te ondersteun. Dus kon ek as patriotiese Suid-Afrikaner aanvanklik opgewonde en uiteindelik realisties aanvaardend wees oor Bafana-Bafana se vertonings, toe as egte Afrikaan met reg verontwaardig wees oor Ghana se onregverdige uitskakeling, maar deurentyd en enduit, sonder manteldraaiery, die wenspan se segetog met toenemende entoesiasme volg. En dit alles van iemand wat drie maande gelede niks van sokker geweet het nie.

Ek wou natuurlik daaroor blog, en oor die feit dat ek nie ‘n TV besit nie en dus die openingswedtryd met Tshabazela Vuvulala se onsterflike doel oor die radio gevolg het. Oor hoe ek in Langa gekyk het hoe Bafana teen Uruguay die wedstryd en die toernooi verloor. Hoe almal oomblikke na die eindfluitjie stil was, tot een sê: “Eish, we’ve lost. Lets dance!” En toe dans ons dat die vloer kreun. Hoe ek in Namibië saam met my ma en haar Herero huishulp gekyk het hoe Bafana die Franse in die grond in speel en Adelaide aanmekaar in haar pragtige Namibiese Afrikaans sê: “Hoekom speel óns span nou eers so mooi? Hoekom het Bafana nie van die begin af so gespeel nie?” Hoe ons die laaste “fan walk” in ‘n oranje Hollandse vloedgolf meegemaak het en ek, al vuvuzelablasend, vir ‘n oomblik oorweeg het om selfs dankbaar te wees vir jare gelede se beuelblaastegnieke in die verskriklike patriotiese Afrikaner Nasionalistiese skoolkadette. En, natuurlik, hoe die Katolieke Spanjaarde kruis oor die bors slanend die Lutherse Duitsers en die Calvinistiese Hollanders uiteindelik getroef het.

Maar ek was so besig met die Wêreldbeker en werk, en toe Wêreldbeker en ‘n Namibiese vakansietjie, en toe Wêreldbeker en post-vakansie werkinhalery, en toe post-Wêreldbekerblues en ‘n paar groot krisisse, ekskuus, lekker groot uitdagings, by die werk, dat ek nooit by die blog uitgekom het nie.

Saterdagoggende is dit altyd spanwerktyd met huisskoonmaak by ons. Toe nie dié Saterdag nie. Die stofsuier het die gees gegee. En nee, dit was nie ‘n sonnet wat die suigpyp verstop het nie. Uitmekaargeskroef lê my vermoede toe in bevestigende stukke voor my. Daardie kardinale partjie sal ek nie kan vaslym nie. Ons glo nie aan die eerste die beste nie, want dit is nooit so nie. Dus word dit toe ‘n Stofsuierkoopsaterdag.

Tussen die hoeveelste en soveelste plek ry ons verby ‘n ou Ford Sierra stasiewa sonder ‘n agterbuffer. En ek kry oombliklik die oplossing vir die stukkende stofsuier. Ek het net daar omgedraai na die naaste hardewarewinkel en glasveselmat, resin en verharder gekoop.

As jy teen hierdie tyd al wonder wat ‘n Ford sonder ‘n buffer met Versindaba blogs en serendipity te doen het, hier kom dit. As bibliotekaris behoort ek te weet. Serendipity beteken om wonderlike ontdekkings per toeval te maak. Soos in ‘n biblioteek. Jy kyk deur die rakke op soek na ‘n spesifieke boek, maar op pad na hom sien jy drie ander boeke raak waarvan jy glad nie geweet het nie, maar wat jy net móét lees.

Die bufferlose Ford wat vir my die herstelplan vir die stofsuier gegee het, is dalk nie suiwer serendipity nie. Daar is ‘n naby verwante denkproses wat ek ompadassosiasie noem. Die twee is nie altyd maklik van mekaar te skei nie. Dit werk so. Ons het net so ‘n Ford Sierra stasiewa gehad. Die swart plastiek agterbuffer is eendag in stukke verongeluk. Na ‘n landwye vrugtelose soektog vir ‘n vervangingbuffer, nuut of tweedehands, het ek noodgedwonge die ou een begin regmaak. Dit was ‘n wekelange moeisame proses van die stukke aanmekaar las met glasvesel en die ding weer netjies met stopverf afwerk en spuitverf. Die eindproduk het my amper laat oorweeg om duikklopwerk as stokperdjie te begin doen. Sonder om al hierdie tussenstappe van herinnering bewustelik te beleef, het my kop onmiddelik ‘n serendipitiuese sprong gemaak van “Ford” na “maak die stofsuier met glasvesel reg”.

Dit word toe Stofsuierherstelsondag in die Hugohuis. (Calvyn sou nie omgegee het nie. Hy het immers Sondae vir plesier op die Genevemeer gaan seil.) Juis omdat dit ‘n klein partjie was, met bewegende parte wat deur hom moet werk, was dit nogal ‘n ingewikkelde stukkie werk. Dis baie makliker om groot gate in ‘n kano toe te glasvesel. Terwyl ek met die stink taai resin probeer om plastiekies so groot soos legkaartstukkies in ‘n meganies korrekte patroon te heg, dink ek hoe kardinaal serendipity en ompadassosiasie in die menslike denke is. Einstein het gesê sy beste insigte was nie die gevolg van berekening nie, maar het hom as briljante ingewings getref. Die berekeninge het daarna gekom om die ingewings te toets. Dit is hoekom daar nooit iets soos ‘n werklik intelligente masjien kan wees nie. Selfs die grootste, beste, “slimste” rekenaars is steeds maar presies net dit: REKENAARS. Hulle kan die ingewikkeldste berekeninge ongelooflik vinnig doen, maar hulle kan nooit ‘n eie, vars, nuwe insig kry nie. Selfs met al die beskikbare inligting, sou ‘n rekenaar nooit van “Ford” tot by “glasvesel” gekom het nie. ‘n Rekenaar ken nie van serendipity nie. ‘n Rekenaar kan nie ‘n oorspronklike gedig skryf nie. Want juis in die digkuns speel serendipity en ompadassosiasie ‘n onmisbare, maar dikwels onbewuste, rol. Dit is juis die heerlikheid van die veelvlakkige betekenis- en assosiasiespel wat gedigte so uitdagend en soms frustrerend maak, vir die digter sowel as vir die leser. (Sien, liewe leser, ek het selfs by die digkuns uitgekom. Dit is immers ‘n VERSINDABA blog.)  

Teen Sondagaand skakel ek die stofsuier aan en, dank die hemel, ek wéét sommer ek het R1 000 op ‘n nuwe stofsuier gespaar. (Liewe leser, kyk hoe mooi bring ek die geloofsimboliek weer hier in, maar, in pas met die gees van ons tyd, is dit ineengestrengel met die materialistiese ekonomie.)

Maandag, Vrouedag, word toe ons huisskoonmaakdag. Al was die stofsuier sy ou effektiwiteit self, was ek teen die aand omring met ‘n wolk van toepaslike stof vir my groot BLOG. (Let op, liewe leser, hoe bring ek die simboliek van my openingsparagraaf weer hier in die vasknoopparagraaf in. Slim nê?) Maar, daar was net nie genoeg tyd oor nie. Dié dat ek nou eers, in ekstratyd, uiteindelik my doelwit bereik. (Gie-gie! Bietjie lomp, maar darem, bring ek op die ou end selfs die sokkersimboliek ook weer in.)

NS: Ek hoop jy het mooi opgelet dat ek, ten spyte van die gulde geleentheid wat Vrouedag daarvoor gebied het, veilig weggebly het van die debatspunt dat vroue beter is met serendipity as ons spul vervelige logiesdenkende mans…

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Pieter Hugo. Stofsuiers, sokker, serendipity, Calvyn en Vrouedag”

  1. Pieter Hugo :

    Pieter, hier is ‘n boodskap van jou muse:
    Jy stel my teleur, Pieter. Jy het in jou resin-en-stof “high” heeltemal van my, jou muse, vergeet. En dis wragtag duidelik sigbaar in hierdie stuk skryfsel wat soos ‘n klomp stukkende stukke gedagtes aanmekaar geglasvesel is met ‘n dun lagie kwasie-digterlike insig en knoeierig vasgeknoop is met ‘n paar gefraiingde kamma-simboliese drade. Nee wat, Pieter. Ruk jou reg. As jy so wil aangaan sal ek maar vir my ‘n ander skrywer moet gaan soek om my mee te aMUSEer.

  2. francois verster :

    Sjoe, die vorige kommentator is rof – soort van ‘n krtikasiese recce! Dalk moet jy nie elke keer as jy iets lees jou verwagtingshorison so hoog stel nie … Hugo het sekerlik nie probeer voorgee hy is ‘n verteenwoordiger van die ivoortoring waarvan jy skynbaar afgemoer het nie. Chill, broer, die lewe is te kort …

  3. Pieter Hugo :

    Francois, moet asseblief nie my muse as “broer” aanspreek nie. Ek weet nie van jou muse nie, maar myne is beslis vroulik. 🙂

  •