Twee aspekte van die digkuns wat nog altyd vir my van groot belang was, is die kwessies van kontekstualisering en resonansie. Kontekstualisering verwys na daardie essensiële elemente van inligting wat nodig is om ‘n bepaalde gedig te kan visualiseer terwyl resonansie weer daardie “oop stukke” in die teks is waar die leser (of hoorder) haar eie ervarings, insigte of persepsie in spel moet bring.
Dit is dan juis as gevolg van laasgenoemde wat die hele aangeleentheid van “emosie” in ‘n gedig dikwels problematies is … ‘n Gedig is immers ‘n taalkonstruksie en taal is uiteraard ook emotief. Maar, die feit bly staan: hoe hoër die emosionele lading van ‘n vers, hoe minder “speelruimte” (of resonansie) is daar vir die leser of hoorder en dikwels word dit dan as ‘n swak vers afgemaak, synde té direk, eendimensioneel en té persoonlik.
En tog is dit dikwels juis dié verse wat onvergeetlik blyk te wees. Soos onderstaande vers van Charles Harper Webb wat ‘n gewaardeerde kollega enkele weke gelede vir my gestuur het. Wat is dit wat maak dat hierdie vers die onvergeetlike leeservaring is wat dit is? Die direkte, selfs blatante, uitdrukking van intense emosie? Die herhalende versugtings? Dalk selfs die wending aan die einde; ten spyte van die (onwaarskynlike) teenstrydigheid dat die persona homself in die doderyk in wens ter wille van die wraakneming?
Die punt is: hierdie vers sal waarskynlik deur die meeste lesers nie as ‘n “geslaagde” vers beskou word nie (ugh, daardie rammelrige middelstrofes!), en tog is dit ‘n hoendervelvers – soos ons kollega dit gestel het. Dit wil my mos lyk hoe meer voorskrifte daar is ten opsigte van die digkuns, hoe meer verskyn daar gedigte wat juis dié voorskrifte ondermyn.
Nietemin, ek plaas die vers onder aan die Nuuswekker. Oordeel maar self.
***
Sedert die langnaweek se stilte wil die webblad vanoggend omtrent uit sy nate bars met nuwe inhoud. By Wisselkaarten is daar Edwin Fagel se volgende aflewering (oor eiesinnigheid), Nuwe Stemme pronk weer met bydraes deur Francilié Hoek en Pieter Hugo, terwyl Charl-Pierre Naudé, Desmond Painter en Philip de Vos onder die vaste bloggers elkeen met ‘n besonderse bydrae vorendag gekom het: Charl-Pierre oor ‘n volgende aspek van ritmikaliteit en Philip oor Mozart as rympiesmaker. Desmond vertel weer van daardie foto wat hy nooit geneem het nie …
Ten slotte fokus ek graag jou aandag op die onderhoud wat met Martina Klopper gevoer is. Haar debuutbundel, Nadoodse ondersoek, het onlangs by Human & Rousseau verskyn.
Inderdaad ‘n magdom leeswerk om onder oog te kry. So – hê pret daarmee.
Mooi bly.
LE
Prayer for the Man Who Mugged My Father, 72
May there be an afterlife.
May you meet him there, the same age as you.
May the meeting take place in a small, locked room.
May the bushes where you hid be there again, leaves tipped with razor-
blades and acid.
May the rifle butt you bashed him with be in his hands.
May the glass in his car window, which you smashed as he sat stopped
at a red light, spike the rifle butt, and the concrete on which you’ll
fall.
May the needles the doctors used to close his eye, stab your pupils
every time you hit the wall and then the floor, which will be often.
May my father let you cower for a while, whimpering, “Please don’t
shoot me. Please.”
May he laugh, unload your gun, toss it away;
Then may he take you with bare hands.
May those hands, which taught his son to throw a curve and drive a nail
and hold a frog, feel like cannonballs against your jaw.
May his arms, which powered handstands and made their muscles jump
to please me, wrap your head and grind your face like stone.
May his chest, thick and hairy as a bear’s, feel like a bear’s snapping
your bones.
May his feet, which showed me the flutter kick and carried me miles
through the woods, feel like axes crushing your one claim to man-
hood as he chops you down.
And when you are down, and he’s done with you, which will be soon,
since, even one-eyed, with brain damage, he’s a merciful man,
May the door to the room open and let him stride away to the Valhalla
he deserves.
May you-bleeding, broken-drag yourself upright.
May you think the worst is over;
You’ve survived, and may still win.
Then may the door open once more, and let me in.
© Charles Harper Webb
Dankie vir die gedig Louis – dis ‘n ewe aangrypende vers hierdie. Ironiese inslag. Ek hou van die reël ‘kenners van smartbestuur’!
Inderdaad, Rita, inderdaad.
As verdere toegif plaas ek ‘n gedig uit Len Louw se bundel “aan’t stap” wat ek gister raakgelees het. Kyk veral na die skitterende hantering van ingehoue woede en frustrasie; ook die treffende gebruik van “names calling”.
Lekker lees.
Louis
ZOO TOE
(Hendrik, hou vir my die hokke toe.)
Deesdae begin hulle in groter getalle aankom
’n uitstappie zoo toe
iets iewers gehoor
moet darem self kom vergewis.
Kom klop hulle aan vir koffie.
Ná dertien jaar, nou toe nou, sowaar
kry hulle die kaart, die GPS, die boek
vind wragtig die pad na dié dieretuin toe.
Dertien jaar al borsel ek my tande
smeer deodorant aan
praat dieselfde klakkelose kak
hou my heilig en op hoogte
koop verskeie soorte koffie
vir die moontlike besoek.
Moet ek dalk vir die up-keep toegang vra?
Is dit hoe ’n mens jou teenoor born-free’s gedra?
Nou staar ons mekaar onbereikbaar aan:
hulle soek die opspraak, Die Dood op Hok.
Kyk, hy’s afgesper, veilig
al loop hy op en af en op en af
moedeloos, shame, man, shame.
Ek staar oer na die aankomelinge in my zoo
die tweegatjakkalse
die bobbejane, draadsitters
die nuuskierige agies
die slange in die gras
die heilige koeie.
Dit klets en kwetter dat wie weet hoor:
hoe hulle almal boeke ken oor alternatiewe benaderings
almal wil deel in die beheer van boedels
almal kenners van smartbestuur.
Hoe hulle gevoer en gekoffie moet word
hoe hulle vrees
hoe hulle hulle natpis van vrees
hoe hulle nie diere op hok kan verdra nie.
Jirre, Die Dood was al die jare tussen ons!
Kom ons gaan drink oulik koffie en kyk.
© Len S. Louw (Uit: aan’t stap, 2010: Hond Uitgewers)
Louis, dis vir my ‘n aangrypende vers hierdie wat die geweld in die samelewing met presisie uitlig en hoe ons daarop reageer. Dit kon net sowel duisende gevalle in ons eie Suid-Afrikaanse milieu uitbeeld – ons ken dit immers, elke detail daarvan word daagliks in die media uitgespel, of self ervaar. En ja, wraakgedagtes is eenvoudig deel van die menslike kondisie, selfs al word daar nie werklik iets aan gedoen nie. Die woorde word ‘n wensdenkery wat enige leser sal verstaan en mee kan identifiseer. Ek hoop meer Afrikaanse digters wil skryf oor ons misdaad- en geweldssituasie, dit oopskryf en ontgin, hoe banaal, kru of ontstellend ook al. Al sou dit niks verander aan enigiets nie, sal jy as leser ten minste daarmee kan identifiseer, en word dit ‘dokumente’ wat ons tyd hier en nou reflekteer, of hoe?