Skokkende nuus wat ek volgens ‘n berig op De Papieren Man op die internet raaklees, is dat die boekkettingreus Barnes & Noble, wat met 777 boekwinkels in 50 state die grootste in die VSA is, op die randjie van bankrotskap staan. Klaarblyklik was die verliese wat die afgelope tien jaar gelei is, sodanig dat die onderneming nie voortgesit kan word nie. Luidens ‘n verklaring wat verlede week uitgereik is, word “alle strategische alternatieven onderzoekt, inclusief een mogelijke verkoop.”
Barnes & Noble is in 1873 as drukkery begin en het in 1917 sy eerste boekwinkel geopen. Hulle het hul winkels vinnig gevestig as unieke ondernemings deur middel van ‘n aggressiewe beleid ten opsigte van buitengewone kortings op blitsverkopers. Meer onlangs was daar die alliansie met Starbuck’s-koffiekafees wat aan dié winkels ‘n unieke en besonderse aanloklike atmosfeer verleen het.
‘n Verdere toevoeging tot dié onderneming was die e-Nook, Barnes & Noble se elektroniese boekformaat wat in kompetisie met Amazon se Kindle en Apple se iPad op die mark geplaas is. Ten spyte daarvan het Barnes & Noble se nettoverdienste die afgelope drie jaar afgeneem van 135,8 miljoen US dollar tot ‘n skamele 36,7 miljoen US dollar.
Volgens Michael Simba, markanalis by The New York Times, is die veranderende kooppatrone onder die Amerikaanse lesers een van die hoofredes: “Naar de boekhandel gaan, is in de VS allang geen doel meer op zich.” Ook het Barnes & Noble “onvoldoende op de digitale revolutie ingespeeld (hoewel het naar eigen zeggen ook 20 procent van de digitale boekenmarkt vertegenwoordigt). Vooral Amazon maait het gras voor de voeten weg van Barnes & Noble, zeker ook met de doorbraak van zijn Kindle. De Nook moest het e-readerantwoord worden van B & N op de Kindle en Apple’s iPad, maar de torenhoge ontwikkelingskosten en een moeizame marktpositionering zorgden voor kopbrekens.” (Soos aangehaal deur Dirk Leyman van De Papieren Man.)
En dan is die supermarkreuse soos Costco, Wal-Mart en Target verantwoordelik vir die afname in boekverkope by meer tradisionele boekwinkels aangesien hulle ook begin het met die verkoop van blitsverkopers teen uiters mededingende pryse.
Ai. Ter vertroosting plaas ek ‘n toepaslike gedig deur Loftus Marais onder aan vanoggend se Nuuswekker.
***
Vanoggend is daar twee nuwe bydraes om oor te berig: Carina van der Walt se bydrae oor kunsbelewenisse in Barcelona en Jo Prins wat vertel hoe hy sy skrywer in ‘n jeugherberg Avignon raakgeloop het …
Ten slotte – in die Brieweboks is daar ‘n versoek om bydraes deur Jeanette Ferreira vir ‘n bloemlesing wat sy besig is om saam te stel vir skoolgebruik.
Geniet die dag wat op hande is.
Mooi bly.
LE
Gedig vir my Seamus Heaney New Selected Poems 1966-1987
potloodnotas van ‘n vreemdeling wat blyk
katoliek te wees, ‘n koffievlek
‘n verdagte merk op “Digging” wat na ‘n snotkol lyk
‘n spinnekoppie platgedruk op bl. 203 –
o, dis poësie dié
die ganse wêreld is tweedehands te koop
die rug van die boek (isbn 0-571-14372-5)
is geplooi en daar val sand
uit die blaaie as ek skud
(god, van watter tuin of park of strand?)
kon ons maar woorde tussen vingertoppe vryf
soos swart stukkies turf
die boek in my hand sê woorde is restant –
die swart skeletjies van dooie idees
geperste memento’s van die eerstehandse dinge
meneer Heaney, u weet tog een van u moerasse
selfs vol subtiliteit en melodie
kan nie soos modder onder toonnaels vassit nie
ons kan jou plekname darem hoor
die wind in “Aarhus” en “Anahorish”
en in “Carrickfergus” die klank van oor nat turf stap
maar luister: die wêreld bars
uit alle metrum uit
‘n gedig bly slegs ‘n flou epitoom
meneer Heaney, voel:
selfs dié papier was eens ‘n boom
© Loftus Marais (Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters, 2008: Tafelberg Uitgewers)