Andries Bezuidenhout. 2000: Die jaar toe ek begin sing het

Die jaar 2000 is ʼn skrikkeljaar. Ek en Irma woon in Brixton, Johannesburg. Ons huis, uit die 1920s, is kruipafstand van ʼn kroeg genaamd die Abelarde Sanction. Ons het eers gedink dis ʼn karateklub, maar by nadere ondersoek vind ons bottels bier en ʼn pooltafel. Ook ʼn kroegeienaar met ʼn geweer. Sy naam is Taz en later sou ons uitvind dat sy van Viljoen is.

In die Abelarde Sanction hang trade unionists en voormalige huursoldate uit. Sommige het gewere (nie die trade unionists nie). Een aand kom Kader Asmal met ʼn gevolg ook ʼn besoek aflê, die hemele alleen weet hoekom. Teen die mure hang koerante se lokplakkate, wat nuus aankondig soos: “Pastor drowns during baptism.”

Taz het ʼn klankstelsel en ʼn verhoog. Ek en ʼn vriendin, Liela Groenewald (wat ook in Brixton woon), begin om gigs daar te doen. Ons sing ons eie komposisies, meestal in Afrikaans. Net stem en kitaar.

Ek voel geïntimideerd op die verhoog, al is daar nooit honderde mense wat na die gigs toe kom nie. Ek dink ʼn naam vir ʼn denkbeeldige band uit – die Brixton Moord en Roof Orkes – en vra om verskoning dat hulle nie saam met my op die verhoog kan wees nie, aangesien hulle: sokker kyk/ dronk op die solder by die huis rondlê/ te moeg is om op te daag.

Min het ek geweet dat hulle een vir een sou aanmeld vir diens – in die Abelarde Sanction in Brixton.

In Februarie veroorsaak ʼn sikloon vloede in Mosambiek, waar my jonger broer Jan woon. Zimbabwe maak die Kariba-dam se sluise oop. In Maart tref nóg ʼn sikloon Mosambiek. Jan help met die pogings om hulp te verleen aan mense in nood. Ek en Liela neem ʼn show Oudtshoorn toe, vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Eeue in een teug. Om te beweer dat ons vir vol sale gespeel het, sou sake effe oordryf. Koos Kombuis kom luister darem wat ons aanvang. Ockert Greeff, ook van Brixton, speel djembe vir ons. Hy word die eerste lid wat by die Brixton Moord & Roof Orkes aansluit. Sy naam word Moord Greef en ek word Roof Bezuidenhout.

In April word Hansie Cronjé en ander daarvan beskuldig dat hulle krieketwedstryde gooi. In Junie sterf Mary Benson, wat onder andere ʼn biografie van Nelson Mandela geskryf het.

Ek werk aan ‘n digbundel oor Pretoria en Johannesburg.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •