Beste Hennie
Met die lees van jou gedigte vind ek dat ek telkens myself vrae in ‘n sekere volgorde vra. Is dit poësie? Indien wel, is dit goeie poësie? Hou ek daarvan? Gewoonlik maak ek eers die volgende waardebepalings by die lees van ‘n gedig. Gewoonlik nie op ‘n besliste manier nie. Hou ek daarvan? Daarna, Is dit goeie/of geslaagde poësie? Ek sal selde vra of dit poësie is of nie.
So jy slaag elke keer daarin om my as te ware in my spore te stuit. Dit sluit waarskynlik aan by wat Charl Pierre Naude in sy Volksblad artikel http://www.volksblad.com/By/Nuus/Poesie-kan-sonder-enige-woorde-wees-20100806 sê; “Hierdie digvorm laat ‘n mens nadink oor wat die aard van gedigte is.” Is dit hoofsaaklik die doel of aard van visuele poësie? Ek glo nie so nie en hoop nie so nie.
Ek wonder soms of die problematiek met die visuele poësie nie daarin lê dat dit eintlik net ten volle slaag as dit aangebied word soos die digter/kunstenaar dit oorspronklik wou vertoon nie. Indien dit gebundel word soos met bv. Nuwe Stemme 4 (ek verwys na jou Picasso sonder die kleure, ek was nie seker of die toewysings deel van die gedig was of ‘n kompromie om die gebrek aan kleur te oorkom nie? Die aksie van die werp van die papiervliegtuigie teenoor die gedrukte foto?) of soos dit hier op Versindaba aangebied word, glo ek gaan die kyk/leeservaring grotendeels verlore. Ek verbeel my die skoen sou ook soos ‘n ou pampoen geruik het, bv. die bruin leer en spykerskrif kerfies en die ander visuele sou dalk meer die skoen ‘n poem gemaak het. Ongelukkig het ek die prentjie van die skoen gesien en toe die versie, naamlik die swart lettertjies op die wit gelees. Die swart lettertjies op wit slaag na my oordeel ongelukkig nie as poem nie, trouens ek hou glad nie daarvan nie. Ek hou wel van die skoen en die skoen as gedig. Ek dink ek sou nogal so ‘n skoen wou dra selfs, soos ‘n logo. ‘n “Brandname” poet skoen.
In jou gedig; “onder die belt” laat Charl Pierre Naude die aap uit die mou deur die volgende te skryf; “Die boodskap wat ontsyfer word, is: Op soek na die GKOL.” Ek is effens vies, want sekerlik is dit tog nie ‘n raaisel wat opgelos moet word nie, maar steel hy eintlik die leeservaring of die genieting van die poem soortgelyk as ‘n fliek resensent wat die einde van die moewie uitlap. Dit is tog ‘n mite van poësie dat daar kwansuis ‘n verskuilde boodskap sou wees wat ontsluit moet word? Is dit een van die voorvereistes vir geslaagde visuele poësie? Dit wil my nogal so voorkom, dalk om die kyker te dwing om betrokke te raak? Bestaan die gevaar dalk dat ons later net slimmighede wil sien, “ek kon dit uitpluis”? Hoe slimmer die raaisel hoe beter die gedig, hoe lekkerder die speletjie.
My eie leeservaring van die gedig is dat die soeke na die ontwykende Gkol gepaard gaan met heelwat vingerbewegings (amper ‘n ginekologiese ondersoek met vingers, die gedig sou ‘n “hands on” hand/vingerleiding om die Gkol te vind wees. “Onder die belt” suggereer iets laag of gemeen soos ‘n lae hou in boks. Hieroor is ek iewat onseker, behalwe dat dit die algemene lokaliteit sou kon aandui.
Ek sou graag my visuele gedig https://versindaba.co.za/2010/08/09/lewies-botha-pot-sonder-deksel/ wou bespreek, miskien kan jy my sê wat jy daarvan dink. As ons die bloginskrywing beskou, m.a.w. die paragraaf wat die gedig (die twee prentjies) voorafgaan, sou die op sigself dalk ‘n gedig kon wees, immers rym ek twaalf keer die “oe” klanke en drie keer “nota” in twee sinne. Is dit egter wel ‘n gedig?
“‘n Poet in ‘n kroeg, swoeg, moeg, sonder sy notaboek…”
Ek ontken dat die skryfseltjie ‘n gedig is. Sou die woorde wat toegeskryf word aan Marcel Duchamp, kunstenaar en skaakspeler; “It’s art if I say it is” ook geld vir die digkuns? Dit is ‘n interessante samestelling: dig en kuns = digkuns.
Dit bring my by my eie gedig, Die twee prentjies.
‘n Skilder raak intens ingesteld op die visuele, kleure en lyne en perspektief en neem alles om hom waar in terme van moontlikhede wat die kwas en verf hom bied om die wêreld om hom te vertolk. So word die kleure helderder en skerper en sien hy vorm en perspektief. Hy fokus ook op elemente van lyn en vorm. Die Skilder sien nie meer die alledaagse vir die alledaagse aan nie, hy beskou dit anders. So sit ek dan, woordkunstenaar in die donker kroeg en die omgewing om my word woorde wat poësie word. Die biermat met die anti-rook waarskuwing word meer as wat dit op die oog af is. Die letters en lettergrepe word deur my onderbewussyn herrangskik, ek sien verby die waarskuwingslagspreuk, verby die Engels. Woorde en sinne kristalliseer uit die biermat. Die beperking wat die beperkte aantal letters my bied (as jy mooi sou oplet sou jy kon sien dat nie al die letters verteenwoordig is nie, maar daarin lê juis die uitdaging, die spel, die digterlike speletjie. Die raaisel.). Die volgende grepe maal in my kop:”Happy hour”, “shooter glasie” en “bierbottel”. “Ek lek jou naeltjie soos ‘n tong verdwaal in ‘n shooterglasie.” Die kroeg ruik na ou bier, daar heers ‘n euforie van happy hour en daar is ringvlekmerke op die biermat voor my. ‘n Gedig maal so helder en duidelik in my kop maar ek het net my selfoonkamera by my.
Om my gedig heeltemal te laat slaag, sou ek die volgende installasie wou maak eerder as die blogpoging; “Drie stasies”. Met die eerste installasie, naamlik die biermat wat tentoongestel word, sou ‘n mens die sigaretas, biervlekke, en ou bier kon ruik en waarneem en die letters van die anti-rook slagspreuk kon lees. Die tweede installasie sou die reeks selfoonfotos van naby skote van die biermat wees, die stukke lettergrepe, stukke letters en moontlik enkele kiekies van die kroegmeisie se tatoes. Die derde installasie sou dan die bymekaar gebringde dele self wees, die eindresultaat. Die reeks demonstreer dus die metamorfose van die waarskuwingslagspreuk tot iets meer visueel esteties, iets poetiës.‘n Gedig.
Beste groete
Lewies
Hier is nog iets om te bekyk; Kliek op die prentjie om dit duiderliker te maak.
Beste Lewies
Baie dankie vir jou belangstelling in my gedigte.Dit word waardeer.Maar Lewies.Jy lees seker my skoen verkeerd.Die werk is bedoel om ‘n mismaaksel te wees.Daarmee dan die verlepte ou skoen, die reël ” allermins skoon wat ruik na snoek ” die gebruik van die woorde ” verdoem ” en ” boem ” die rommelkas van rym en die verwringing van die engelse woord ” poem ” in afrikaans in.
Beste groete
Hennie Meyer
Hier is die skakel na Hennie se “onder die belt” gedig;
https://versindaba.co.za/2010/07/19/hennie-meyer-onder-die-belt/