Andries Bezuidenhout. Om kitaar te speel terwyl die stad brand

Die staatsdienswerkers se staking duur voort. Ek werk nog saam met die beeldende kunstenaar Jaco van den Heever aan ʼn opdragstuk wat ʼn gedig en ʼn houtskoolskets met mekaar laat praat. Die onderwerp wat ons gekies het, is JG Strijdom/Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg. Dis waar Jaco gebore is. Hy teken die hospitaal van agter, met ʼn verbrandingsoond in die voorgrond.

Die gedig waaraan ek werk om daarmee saam te gaan worstel met temas van geboorte, dood, en taal – woorde soos “elmboog” en “sjibbolet”.

Vrydagaand in die Centurion-teater opgetree, met Erika Strydom op agtergrondstem en kitaar. Saterdagoggend na ʼn bespreking van my kollega Sakhela Buhlungu se nuwe boek oor COSATU (“The Paradox of Victory”) by die Boekehuis in Aucklandpark gaan luister.

Daar’s ʼn aantal insidente wat by Helen Joseph-hospitaal afspeel. Stakers wat weier om pasiënte deur te laat. ʼn Dokter kruip onder ʼn draad deur om by die hospitaal in te kom. Die polisie skiet met rubberkoeëls. Stakers brand bande in die straat. Dit gee Jaco se skets ʼn heel ander spin.

Saterdagmiddag saam met Erika en Drikus Barnard (ook bekend as Brixton Barnard) in my dieseltrok geklim om Modimolle toe te ry; om vir die Nuwe Hervormers te gaan optree by ʼn naweekkamp by ʼn oord buite die dorp. Die tema van die Nuwe Hervormers se naweek is: “Hoe lewe ek voluit in hierdie land?”

Op pad stop ons by ʼn nedersetting bestaande uit ʼn truck stop en ʼn hotel, net van die N1 af, om Drikus se vloeibare verversings aan te vul. Luister na die countrysangeres Mary Gauthier terwyl ons ry:

Fish swim, birds fly
Daddys’ yell, mommas’ cry
Old men sit and think
I drink

Buite Modimolle lekker gesprekke om die braaivleisvure, ook vir Sakkie Spangenberg ontmoet en ʼn paar mense raakgeloop wat ek lank gelede geken het. Al neem ek nie aan georganiseerde religie deel nie, is hierdie my “kerk” se mense – mense wat dink, al is baie van hulle nie “old men” wat sit en d(r)ink nie.

Val om 11-uur die aand weer in die pad terug Johannesburg toe, want ek moet Sondagoggend 8-uur by die SAUK in Aucklandpark wees vir ʼn opname. Mary Gauthier sing:

Chicken T.V. dinner
Six minutes on defrost three on high
Beer to wash it down with then another
Some whiskey on the side

Ek hou van die halfrym – “high” met “side” en “dinner” met “another”. Ek hou ook van hoe sy die “high” beklemtoon deur dit op ‘n hoër noot te sing en dit uit te rek.

Ry Sondagmiddag weer Centurion-teater toe vir ʼn optrede oor die werk van Antjie Krog – saam met Coenie de Villiers, Jak de Priester en Herman van den Berg – deur Jannie Moolman georganiseer. Dis ʼn groot sukses – vol saal en nege splinternuwe toonsettings van Antjie Krog-gedigte.

ʼn Besige naweek dus. Dit neem ure se slaap om te herstel. Vanoggend bied die regering die stakers meer geld aan. Maar die bande buite Helen Joseph-hospitaal hou aan brand. En Mary Gauthier sing:

Fish swim, birds fly
Lovers leave, by and by
Old men sit and think
I drink…

Of is dit nou: I fiddle? Een van my studente kom sit in my kantoor om oor die staking te praat, oor die gevegte in die ANC: “The center isn’t holding,” sê hy. Onwillekeurig dink ek aan een van my eie lirieke van lank gelede: “‘n Stad wat brand lyk van ver af mooi.”

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •