
Laat ek dit onomwonde stel: ek is nié aan ʼn uitgewery verbonde nie. Ek is wel ʼn boekhandelaar. Maar van tyd tot tyd pleeg ek ook ʼn vers wat (soms) in ʼn bundel neerslag mag vind, en dit is in dié hoedanigheid wat ek hierdie Nuuswekker skryf.
So sit ek enkele maande gelede en gesels met ʼn persoon wat na alle waarskynlikheid die mees ingeligte en kundige persoon oor die kwessie van publikasies en boekverkope is wat ek ken. Uiteraard begin ons praat oor die Afrikaanse poësieproduksie wat floreer ten spyte van onindrukwekkende verkope van digbundels. Hoe kan jy verwag dat die breë publiek, wat dikwels maar net ʼn terloopse belangstelling in die digkuns het, digbundels moet koop wanneer digters – wat immers ʼn geïnvesteerde belang by die digkuns het, nie eens nuwe bundels koop nie, word die vraag aan my gestel.
My onmiddellike reaksie was om dié vraag met skaamte te verwerp, want dat die digter as vakman nie sy lojaliteit jeens die uitbou en instandhouding van sy ambag waarmee hy gemoeid is, nakom nie, vind ek onverskoonbaar. (Ook jeens myself, aangesien ek eweneens nie alle bundels wat verskyn, koop nie …) Nietemin, sedert dié gesprek het ek subtiel by mede-digters gevis en wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, selfs hul boekrakke bekyk … Tot my teleurstelling moet ek na dese my ingeligte vriend gelyk gee, want die meeste digters (lyk dit my) koop maar by uitsondering ʼn nuwe bundel en dan ook net dié digters van wie se poësie hulle hou; of hulle kry meestal ʼn kopie gratis. ʼn Voor-die-voet-benadering ten opsigte van die aankoop van alle bundels wat verskyn, bestaan klaarblyklik nie. (Ek het maar één so ‘n digter geken en hy is onlangs oorlede.)
Is dit nie immers noodsaaklik dat ons as digters op hoogte moet bly van ons ambag nie? En beteken dié “op hoogte bly” dan dat ons maar net selektief en lukraak kennis hoef te neem van dit wat in ons vakgebied gebeur? Uiteraard gaan ʼn mens nie “hou” van alles wat verskyn nie; vir watter rede ook al. Maar maak dit enigsins saak of jy daarvan “hou” of nie?
Dieselfde argument geld egter ook enige poësieliefhebber; of jy ʼn digter is al dan nie. Daar verskyn maar tussen 15 en 20 bundels per jaar in Afrikaans teen ʼn gemiddelde verkoopsprys van R130 tans. Is dit te veel gevra om dan maar EEN bundel per maand aan te skaf?! En, indien jy nié van die bundel hou nie, kan jy dit mos as geskenk aan iemand gee wat normaalweg nie ‘n bundel sou koop nie, of hoe?
Die punt is dat bykans AL die probleme wat tans in ons digkuns ervaar word, uit die weg geruim sal word indien die verkope van bundels verbeter. Uitgewers mag dan meer vrymoedigheid hê om ander, meer avontuurlike, dog riskante, bundels te publiseer; verdermeer, ánder uitgewers mag dalk ook die uitgee van digbundels as ʼn haalbare opsie begin sien en tot die mark toetree; iets wat die “risiko-faktor” ten opsigte van verkope oor ʼn dikker sny brood sal smeer … Ensovoorts, ensovoorts. Die voordele is voor die hand liggend.
En hierdie webblad? Watter rol het hierdie webblad om te speel? Soos ek al vantevore laat blyk het, is die daaglikse besoekerstal maklik tweekeer soveel as die gemiddelde oplaag van ʼn digbundel wat verskyn. Statistiek dui ook op ʼn groeiende lojaliteit onder dié besoekers. So het 7.35% van die afgelope maand se besoekers die webblad meer as 200 keer in dié tydperk besoek … En weereens is dit die gedigte-bladsye wat die meeste gelees is met ʼn totaal van 973 besoeke. Nou, as dít nie dui op ʼn enorme belangstelling ín en passie vír die digkuns nie, weet ek waaragtig nie.
Maar hoekom koop die mense dan nie die digbundels wat verskyn nie?! Elke bundel wat verskyn, is immers ʼn geloofsdaad en indien dit vir óns iets van belang is, behoort ons mos in dieselfde gesindheid daarop te antwoord, is dit nie? En die korrekte respons is om ons bereidwillig te verklaar om R130 per maand te spandeer aan iets wat géén rakleeftyd het nie …
Met apologie plaas ek vanoggend vir jou leesplesier ʼn ongepubliseerde impromptu-vers wat ek geskryf het by geleentheid van ʼn boekbekendstelling, toe van die mense gekla het oor die prys van ‘n betrokke boek.
***
Vanoggend is daar twee nuwe plasings om van kennis te neem. Eerstens is daar in Buiteblik ‘n nuwe bydrae deur Leon Retief oor oudword in Moose Jaw en onder die vaste bloggers ‘n besonder insiggewende stuk deur Johann Lodewyk Marais oor die Poeziecentrum in Gent waar die Ernst van Heerden-versameling gehuisves word.
Lekker lees aan alles en onthou om die ketel te stook! (Ons leef immers in opwindende tye.)
Mooi bly.
LE
Ken jy die boek …
(Met waardering aan Uys Krige se soortgelyke vers)
Ken jy die boek se ure, Meneer,
die ure deur sweet en wroeg verteer
wanneer die nag, slegs ‘n lamplig weg,
die skrywer met donker spooksels terg.
Dan sê jy nog, Meneer, die boek is duur.
Dié ure is drif, is doolgang en alleen,
is dae, jare selfs, ja, bykans ‘n lewe aaneen
waar die skrywer al skrywend spoor vind
in geskrifte om gedagte met woord te bind.
En jy sê nog, Meneer, die boek is duur.
En dan, die eerste produk, na uitgewer,
keurder en terug, alweer aan ure uitgelewer
om te hersien, herdink, weer en weer besleg
tot uiteindelik, almal besef: Nou is dit reg!
En jy sê nog, Meneer, die boek is duur.
Want nou is dit die ure van produksie,
die ure van redigeer, set en noukeurig lees
van ontwerp, verpakking en advertensie
vir hierdie gedrukte proewe van die gees.
Dan sê jy nog, Meneer, die boek is duur.
Was u al ooit in die ruimtes van rak en boek
waar verkopers u entoesiasties help soek
na daardie één eksemplaar wat u graag wil hê,
want jare terug het u dit glo iewers verlê.
Dan sê jy nog, Meneer, die boek is duur?
Weet u dat daar vir iedereen ‘n boek bestaan
wat u uitkyk kan verander, u kan laat verstaan
hoe heerlik die rykdom van gees kan wees,
en hoe plesierig hierdie ervaring van die lees.
Dan sê jy nog, Meneer, die boek is duur?
Maar hoe bepaal ‘n mens die waarde
van iets só raar, gevul met letsels en vuur
wanneer soveel mense ‘n lewe moet maak
uit hierdie afgekamde ambag van papier.
En steeds sê jy, Meneer, die boek is duur …
© Louis Esterhuizen
‘n Digbundeltjie lees jy ‘n 100 keer of meer, dis kort genoeg (een gedig) sodat jy ‘n hele iets ten volle kan geniet. Terwyl jy in die verkeer vassit, op die troon sit, iewers sit soos op jou gat, dalk staan soos in ‘n ry, op ‘n trein, tydens ‘n advertensiebreuk of as die hemele wil breek, op ‘n reëndag en op ‘n sonskyndag selfs as die skyn; uit jou gat. Jy kan hom oopmaak waar jy wil en lees. ‘n Roman is lywig en jy lees hom een keer en halfpad deur verloor jy die draad van inderdaad. Ek lees ‘n gedig halftyd tydens die eindstryd tussen die Bulle en die Haaie, terwyl ek leen teen die leer, verfkwas in die hand, en my vrou wat neul; die spaarkamer moet klaar die verfreuk maak haar naar. Ek dra ‘n digbundel in my gatsak, die blaaie krul om en by my gunsteling drinkgat lees ek ‘n gedig terwyl ek wag vir gelukkige uur. Die kroegmeisie vra my wat lees oom daar? ek sê; Poems my dear. Haai ek skryf ook se sy en stuur dadelik vir my ‘n status update op haar twitter mixit page; LOL @oOm g8t 2b al5e cul8ter /roses are red violets are blue I have yur name on my heart a tattoo so cool I love u.
Mense dink gewoonlik nie dat ‘n digbundel verskyn het voordat hulle in ‘n koerant ‘n resensie daaroor gelees het nie …
En alles in perspektief gesien: R130 is die prys van vier glase wyn …
@Louis – Wel, jy weet ons narkotiseerders is veelsydige mense! 🙂
Jammer, Leon. Ek het die werkwoord beet ipv die naamwoord. Natuurlik moet dit “narkotiseur” wees. Mmm, ek wou hoeka net gesê het “medikus”, toe dog ek jy sal dit interessant vind dat iemand uit jou bedryf ook gedigte (kan) skryf. 🙂
Louis, die “narkotiseer” was seker ‘n tikfout? Snaaks hoe dikwels mense daai woord nie kan uitspreek nie. In SA was ek dikwels die “narkotiseerder”, hier in Kanada is ek soms die “anesthesiest” 🙂
Louis, jy oortuig my! Die gesprek het draaie geloop, maar weereens: die waarde van ‘n goeie boek is soveel groter as die prys wat dit kos, dat dit baie jammer is meer mense koop nie boeke nie. Of digbundels nie. Toe ek aanvanklik geskryf het gedigte ‘moet veral weggegee word’, het ek ook bedoel mense moet dit gee as geskenke! Is daar iets beter as om nuwe musiek / letterkunde wat jy ontdek het te deel? Min dinge.
Ek’s bevrees dat die fokus van bogenoemde Nuuswekker effens skeefgetrek is ter wille van die humor en ligter aanslag. In wese bepleit ek hier ‘n meer ontvanklike benadering ten opsigte van poësie-aankope by alle belanghebbendes (hetsy leser of skrywer).
Neem byvoorbeeld die geval van Len Louw en sy bundel wat onlangs verskyn het. Hierdie bundel is weens omstandighede deur Len Louw se vriende saamgestel, professioneel versorg en uitgegee in beperkte oplaag. Die enigste boekwinkels waar dit beskikbaar is, is Protea Boekwinkel op Stellenbosch en Hatfield. Daarom kan ek met alle sekerheid sê dat, ten spyte van al die reklame rondom die boek op hierdie webblad en die winkel se infrastruktuur, daar tot op datum géén navraag óf belangstelling was nie.
Hoekom nie?
Want Len Louw is ‘n persoon in sy laat 50s wat as narkotiseer in nie-literêre kringe beweeg het. Na die beste van my wete ken hy dus niemand in “die bedryf” nie. Maar vir meer as 20 jaar het hy verbluffende gedigte geskryf en sy ambag deeglik onder die knie gekry. Die feit dat hy nie vroeër begin het met publikasie nie, is ‘n enorme verlies vir ons digkuns, want ek stel dit onomwonde: dié man kán dig …
Maar wie gaan van hierdie bundel kennis neem en byvoorbeeld toesien dat van die beste verse in bloemlesings opgeneem en vir die nageslagte behoue bly indien niemand bereid is om ‘n bundel wat nié deur die normale kanale tot stand gekom en nié die reklame-enjin daaragter het wat hoofstroompublikasies normaalweg het, koop nie?!
Len Louw se “aan’t stap” is myns insiens die voorbeeld van ‘n bundel wat gekoop moet word net omdat dit daar is om te koop. Laat ek dit selfs sterker stel: Hierdie is een van die mees aangrypende bundels wat ek in ‘n lang tyd onder oë gekry het en ek vind dit jammer dat daar na alle waarskynlikheid nêrens eens ‘n resensie of berig hieroor in die media gaan verskyn nie.
En dit is ons almal se verlies.
Wysneus, OK, ek verstaan wat jy bedoel. Ek dink soos jy ook nie die ‘privaatmark’ vir gedigte is groot genoeg om kommissies ‘n realistiese opsie te maak nie, maar as hulle popsterre kan kry om songs te komponeer vir sportbyeenkomste, kan hulle seker digters ook vra! Miskien moet digters die volgende doen: skryf waaroor hy of sy wil, maar dit dan tematies op ‘n webblad aanbied. Jy kan dan ‘n uittreksel van die gedig sien, maar as jy bv. ‘n liefdesgedig wil aflaai vir jou verlowing, moet jy ‘n paar rand met jou kreditkaart betaal… Die digter kan selfs met ‘n ontwerper saamwerk, en dan kan die koper ‘n gedig koop en dit op ‘n kaartjie laat druk, of so iets. Sien, ek stel myself nie verhewe voor ‘entrepeneuriese’ denke nie! 🙂
Wat die universiteite betref: ek dink nie hulle het enigsins links beweeg nie… maar ek wens hulle wou!!! Maar, om ernstig te wees, die politieke kultuur op SA kampusse is ‘n ander, langer gesprek. Kom ons laat dit maar eers daar.
Desmond, ek het nie gesê jy kyk neer op mense wat werk nie, ek het gesê jy moet oppas dat jy nie so word nie. Dit impliseer tog duidelik dat jy nie reeds ‘n “stereotipies akademikus” is nie. As ek adademici wou beledig sou ek sê “tipiese akademikus.”
Ek skat ook nie akademici gering nie. Van my beste vriende is akademici . Ek dink om die waarheid te sê akademici se inkomste in Suid-Afrika is te laag, in vergeleke met die eerste wêreld, om dit ‘n realistiese loopbaanopsie te maak. Hoe ‘n geesteswetenskaplike winsgewend moet wees sou ek nou nie kon sê nie.
‘n Groter bekommernis vir my is dat universiteite meer en meer linkse klieks word.
Aangaande professionele digkuns: Nee, ek dink nie gedigte op kommissie sou deel vorm van ‘n digter se oeuvre nie. Ek verbeel dat ‘n digter so die pot (darem nou nie dié pot nie, maar ‘n teepotjie op die stoof) aan die kook kon hou terwyl hy in parallel werk aan sy oeuvre. Een is ‘n oeuf en die ander ‘n oeuvre.
Die gesprek is waarskynlik irrelevant want ek weet eerlik nie of daar genoeg Afrikaners is wat letterkunde waardeer nie. Tog, as jy dink watter bedrae betaal word vir trourokke, wat almal dieselfde lyk behalwe vir my vrou s’n, hoeveel sou jy betaal vir ‘n Breytenbach gedig spesiaal vir jou troue.
Wysneus, op jou eerste vrae: natuurlik, ek stem saam met wat jy skryf oor argitekte en beeldhouers. Ook dat besigheid kreatief kan wees. Baie. Ook dat mense moet woeker! Digters sou ook sekerlik meer kon doen om hulle werk te bemark, soos vertonings en wat ook al. Baie hiervan gebeur reeds. Maar ‘n digterlike oeuvre, dink ek, is anders as ‘n argitek se ‘oeuvre’. Ek kan my nie indink dat ‘n digterlike oeuvre werklik by wyse van ‘kommissies’ kan ontwikkel en groei nie. Of is ek verkeerd?
Wysneus, ek kyk beslis nie neer op diegene wat geld maak of sukses smaak nie. Het ek so ges^e? Ek het dit oor diegene wat nie waarde kan sien in dinge wat minder winsgewend is nie, soos die po”esie.
Te dikwels word ‘meer winsgewend’ gelykgestel aan ‘meer waardevol’. Miskien moet jy liewer pasop om nie die stereotipe persoon te word wat so graag neerkyk op akademici en die ‘ivoortoring’ nie, maar tog vreugde en waarde put uit die produkte van allerlei vorme van intellektuele arbeid.
Ruimtes soos Versindaba sal ophou bestaan in ‘n w^reld waar die ‘onwinsgewende’ akademiese aktiwiteit van letterkundestudie bv. ophou bestaan. Dit is goed en wel om te woeker en geld te maak, maar wanneer die afwesigheid van wins as rede gebruik word om sekere kulturele ruimtes in te perk, het ons probleme. As dit my ‘n tipiese akademikus maak, so be it.
Marlise, nee, ek is met jou. Ek sal ook wil h^e 1,000 of 100,000 mense moet ‘n boek van my koop, omdat ek wil h^e dit moet mense raak, eerder as om geld te maak. Daar is makliker maniere om geld te maak as boeke skryf!!
En ja, beslis, boeke is vergelykenderwys beskou nie eintlik duur nie. R50 vir ‘n fliek, R140 vir ‘n bundel wat jou langer neem om te lees en wat jy weer en weer kan lees. As ek en Claire saam met vriende uitgaan op ‘n Vrydagaand sal ons R140 as ‘n goedkoop aand beskou, maar mens dink dikwels 2 of 3 keer om daai bedrag op ‘n bundel te spandeer.
So ek stem met jou saam. Mense moet koop. Ek het maar net bedoel: dit is wonderlik dat daar wel mense is wat sulke harde werk doen, sommer omdat hulle wil, of hulle nou geld maak of nie. Ek is nie anti-geld of anti-werk nie; ek vind dit maar net jammer dat so baie aktiwiteite as ‘irrelevant’ afgemaak word net omdat dit nie ‘geld maak’ nie. Dit is die idee onderliggend aan Wysneus se geringskattende opmerking oor akademici ook. Ons in die geesteswetenskappe moet ons bestaan toenemend in terme van ‘wins’ regverdig. Maar jy weet waarvan ek praat: mense bel^e miljoene in rugby, amper niks in letterkunde en ander kunsvorms.
Desmond, ek is seker jy verstaan my mos nou heel verkeerd? My punt is om saam met Louis te stem dat so min mense digbundels koop. Sekerlik hier veel minder as in Europa. Bedoelende gladnie dat die digter nou ryker moet word nie. Die digter skryf uiteraard hoegenaamd nie vir die jackpot nie. Hy/sy beoefen sy kunsvorm waarvoor hy lief is. Dis ‘n passie, ‘n moet of wat ook al. As ek my tantieme-state ontvang en ek sien daar het nou ongeveer 100 van my jongste digbundel verkoop, dan dink wel, hoe jammer daar staan nie 1000 nie – dan sou ek sommer baie opgewonde gewees het dat daar lesers is vir wie die lees van gedigte belangrik is, en dat my verse spesifiek vir hulle iets beteken het. Dis gaan hoegenaamd nie oor die ou bedraggie wat nou oorbetaal word in my rekening nie. Dis gewoonlik ‘n katspoegie wat ‘n sak of twee se blikkieskos sal dek, maar dit is nie die punt nie – die geld maak nie saak nie, dis dat ek graag sou wou sien dat die liefde en belangstelling vir digbundels moet toeneem en al hoe mens weet hoeveel mense jou lees of bundels koop is om na die syfers te kyk. Vir die digter wat dan ‘n 2de of 3de druk beleef – good for them! Dit wys hulle verse maak indruk, en word baie gelees. En dan, glo ek, as jy ernstig is met jou ‘vakmanskap’ as digter, sal jy ander se bundels aankoop, of jy daarvan hou of nie – maar merendeels om ook om op hoogte te bly met tendense en wat verskyn en miskien leer jy ook iets daardeur. In my twintigs het ek elke liewe nuwe digbundel aangekoop wat verskyn het. Ek was nuuskierig, ek wou leer. Ek wou geniet wat ander skryf en hoe hulle dit doen. Ek het daardie bundels nog steeds op my rak en na al die jare lees ek hulle ook nog af en toe! En ek het hulle gekoop met ‘n bitterklein salarissie toe ek pas begin werk het. Is digbundels vandag duur? Ek dink nie so nie. Gaan eet jou groot steak en drink ‘n glas wyn of twee en dis maklik sommer oor die R100. As mens dit vir maagplesiere uit die beursie kan dop, kan jy dit mos darem ook gemaklik op ‘n digbundel spandeer [vir kopplesiere].Jammer oor die lang kommentaar, maar ek wil nou seker maak dat jy my reg verstaan. 🙂 En ja ek weet, jy koop sommer baie boeke gedurig aan. Digbundels ook. Maar waar is die res?
Desmond, hoe sou ‘n professionele digter anders wees as ‘n argitek? Baie mense wat geldmaak met hulle werk is ook lief vir wat hulle doen. Werk baie beeldhouers nie ook gereeld op kommissie nie?
Om ‘n besigheid te bou is ook om skeppend te wees. En om suksesvol te wees moet jy klante gee wat hulle wil hê. Daar is geen skande in nie. Beskou geld as die waarde wat andere heg aan jou produkte/dienste.
Pasop om nie ‘n stereotipiese akademikus te word wat neerkyk op mense wat die wiele laat draai nie.
Daardie aspekte van die sogenaamde verbruikerskultuur wat jou aanstoot gee is meer te wyte aan die gemors wat mense wil hê as aan diegene wat die gemors verskaf. Maar dit is die gevolge van ‘n eeu se oorlog teen waarheid, goedheid, en skoonheid in die naam van ‘n goddelose progressiewe materialisme.
Afrikanersisboring: Inderdaad tel dit alles. Die poësie kom immers in vele vorme na jou toe. Maar raak nou avontuurlustig en koop sommer Jo Prins, Danie Marais, Stef Bos, Gert Vlok Nel en fokofpolisiekar se liriekebundel ook. (Vir Toast Coetzer s’n wag ons almal nou al blêrrie lank.) Gaan dan sommer oorboord en soek Johan van Wyk se bundels, want sy gedigte is eweneens wonderlike lirieke (en selfs meer!) Ongelukkig sal jy dit tweedehands iewers moet aanskaf, want weens gebrekkige verkope (vermoed ek) was hulle nooit herdruk nie. Of moan ek nou al weer?
@Afrikanersisboring: Ek skat ek is dan ‘n ware Afrikaner omdat ek so op my CD’s moun? 🙂
Wysneus, selfs al sou Bob Dylan baie geld met daardie lied gemaak het, sou dit niks verander het aan die feit dat, in ons wereld, geld wel nie net praat nie, maar vloek. Jy behoort seker aan daardie denkskool wat glo mense met geld kan nie kritiek lewer op geldsug nie. Ek nie. Kritiek op die meer siniese en obsene aspekte van ‘n verbruikerskultuur is nie bloot die suur druiwe van diegene wat dit nie kon ‘regkry’ om self ryk te wees nie. En ek hou van atonale musiek!
Maar ja, miskien moet ek ‘n gedig by Breyten Breytenbach bestel vir ons jaareindfunksie by die werk. 🙂
Marlise, ek het dit nie teen die koop van boeke nie. Inteendeel! Ek koop hulle graag, en ek dink meer mense moet so maak. Niemand skryf egter gedigte in die eerste instansie om geld te maak nie; en dit, dink ek, is ‘n mooi ding. So baie goed word gedoen net om die pot aan die kook te hou, of om ryk te word, dat ‘n mens daardie aktiwiteite wat nog grotendeels ‘vir liefde’ (die betekenis van amateur, immers) gedoen word moet vier! Natuurlik, as ‘n boek goed verkoop en jy maak in die proses ook baie geld, geniet!
Moan moan moan. Al wat Afrikaners doen is moan. Jy hoor heeldag hoe hulle moan oor die kwaliteit van die kunste. Pleks gaan koop hulle Andries Bezuidenhout se bundel (of sommer enige cd waaraan hy sy hand geslaan het – dis beslis digkuns). Terloops Louis, ek besit al daai, tel dit?
Desmond, ek neem aan Dylan het die tantieme vir sy werk van die hand gewys. Nie so gedink nie.
Hou op om die donker te vloek en steek ‘n kers aan. Nee! nie so naby die gordyne nie.
Hoe sou dit nou ‘n slegte ding wees as meer geleenthede met goeie digkuns versier word, en as digters ‘n bietjie ekstra geld het sodat hulle kan bekostig om ander digters se bundels te koop?
En terloops, dit waarvoor niemand wil betaal nie is partykeer maar moeilik om weg te gee ook. Soos MS Vista en atonale musiek.
Desmond, TS Eliot seg: No honest poet can ever feel quite sure of the permanent value of what he has written: he may have wasted his time and messed up his life for nothing.
En tog, digters moet voortgaan om ‘weg te gee’. En om hulle te lees moet jy die boek koop & dis mos goedkoop? Een gedig kos ongeveer R2 – en jy kan hom oor en oor lees en oor en oor…:)
Om eerlik te wees, ja, natuurlik, die digter dig nie om geld nie. Maar dis darem lekker om te hoor iemand het jou boek gekoop.
Marlise, ons moet dankbaar wees daar is nog dinge wat nie geredelik aan die ‘geldmaak’-logika onderwerp kan word nie!! Gedigte, soos musiek, moet veral weggegee word. (M.a.w., dis op pad Louis, dis op pad!)
Ja wel, daar is geen geld te maak met die digkuns nie. “Poetry is like fish: if it’s fresh, it’s good; if it’s stale, it’s bad; and
if you’re not certain, try it on the cat.” {- Osbert Sitwell}
Of die koerantopskrif nadat Mzwakhe Mbuli, op sy dag the people’s poet, vir gewapende bankroof in 1997 gearresteer was: “Rhyme doesn’t pay.”
Wysneus, Bob Dylan had gelyk: ‘Money don’t talk, it swears.’
As jy wil hê ‘n ding moet goed verkoop,
gee vir kopers wat kopers wil koop.
Digters wat net vir digters dig,
se gedigte is gans en al te dig
vir digte kopers.
Ernstig:
Ek wonder hoeveel besigheid ‘n digter in Suid-Afrika kon doen op kommissie. Vir troues, verjaarsdae, ens.
Mens sal ‘n bietjie jou trots in jou sak moet steek, maar as Michelangelo, Rembrandt en Bach dit kon doen is dit seker nie so erg nie.
Aaaa, maar vir die Canyon was dit sekerlik ‘n onvergeetlike ervaring … 🙂
Louis, Don Marquis het gese: “Writing a book of poetry is like dropping a rose petal down the Grand Canyon and waiting for the echo”
Helaas! Hy was reg!