Karlien van der Merwe. Lente.
Ook hier in Pretoria is tekens van lente. Dit was inspirasie vir my jongste gedig.
Lente op die skoolgrond.
Dis weer lente. Vlieswolke wind piets
wit granaatpitte fynhael.
In die parkeerterrein kry ingesemente latte
lewe. Hulle bros sulke wit botsels.
Jy weet nie hoe vlak die beskawing by my is nie.
Soms is ek so alleen tussen skooltasse
dat ek kan huil.
Dan weer kry ek jou jammerder.
Omdat jy nie `n benul het van wat jy mis nie.
As ek by jou is, luister ek net en
my dink lê dik soos koffiemoer onder in die kan;
dit los nie op in lou water nie.
Karlien van der Merwe