Verlede week kyk ek en Marlise ‘n bietjie vooruit na die weervoorspelling vir die komende naweek en sien toe dat groot reën voorspel word. Aangesien ons albei enorme behoefte gehad het aan ‘n “wegbreek” besluit ek om ‘n dag of wat verlof te neem en ‘n bietjie see en rotse te gaan soek terwyl dit nog mooiweer is en so ry ons toe vir die dag uit na Bakoven wat een van ons gunsteling rotsplekke is.
Ter wille van die van julle wat nie weet nie: Bakoven is ‘n totaal afgesonderde stukkie see; jy kan nie eens met jou motor tot daar ry nie. Jy stap so tussen die huise deur en beland dan op hierdie allermooiste en reusagtig grote rotse. Geen swemplek; geen niks en niemand anders as jy, jou geliefde, see, son en rots nie.
Nietemin, op ‘n stadium maak Marlise ‘n doodgewone opmerking soos: “Daar’s ‘n skip op die horison” en ons besef dat dit net sowel ‘n reël in ‘n gedig kon gewees het. Later sê ek: “Van al die lekker dinge in die lewe / is die lekkerste / sekerlik ‘n varsgestopte pyp”. En ons begin praat oor die “ritmikaliteit” van dié gewoon-alledaagse sin en hoe poëties selfs die mees normale opmerkings in Afrikaans kan wees. Ook herinner ons ons aan Chris Coolsma, wat toe hy die eerste keer Afrikaans gehoor het, die opmerking gemaak het dat dit klink asof ons sing wanneer ons praat. (Ook ander besoekers van oorsee het al verwys na die melodieuse klanke en ritmes van Afrikaans.) En natuurlik, Gerrit Komrij, samesteller van die bloemlesing “Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte” (1999: Uitgewery Bert Bakker), wat by geleentheid opgemerk het dat dit is asof Afrikaans vir die poësie ontwerp is … Voeg ook nog daarby die ervaring wat ons die vorige dag gehad het toe ons toevallig by die Breytenbach-sentrum op Wellington aangedoen het terwyl ‘n letterskilder besig was om eg-Afrikaanse woorde teen ‘n muur te skryf. Woorde soos “koester”, “werfetter”, “klinkklaar”, “pampoen”, “blikslaer”, “koesnaatjie”, ensovoorts. En ai, hoeveel vreugde het ons en die ander omstanders nie gehad om woorde uit te roep nie.
Inderdaad is ons taal ‘n kragtige instrument en watter voorreg is dit nie om jou daarmee op ‘n kreatiewe manier te kan bemoei nie. (Terloops, net vinnig ‘n slotgedagte: miskien is die sogenaamde “praatvers” waaroor daar so dikwels gedebatteer word inderdaad uniek vir Afrikaans en verskil dit tóg wesenlik van parlando en ander soortgelyke variante wêreldwyd. Júís omrede doodgewone spreektaal in Afrikaans reeds soveel poësie bevat.)
Ter illustrasie plaas ek Len S. Louw se “aftelrympie” onder aan vanoggend se Nuuswekker: doodgewone woorde, dog pure poësie.
***
In aansluiting by bogenoemde plaas ons die onderhoud wat ek onlangs met einste Len S. Louw gevoer het, terwyl Andries Bezuidenhout eweneens ‘n besonderse gedig in sy blog geplaas het en Desmond Painter ‘n inskrywing lewer oor ‘n werkswinkel betreffende die Vrye Afrikaanse Universiteit wat hy enkele dae gelede in Kaapstad bygewoon het. In die Brieweboks is daar ook ‘n spesiale versoek (pleidooi?) deur Dries Cillers. Kan iemand hom help?
En dan is dit alweer naweek. Maak of jy mal is en doen alles.
Mooi bly.
LE
Te voet
pienkvoet
kaalvoet
voor die voet
katvoet, vlugvoet
koevoet
sleepvoet
sesvoet
© Len S. Louw (aan’t stap, 2010: Hond Uitgewers)
Op die hoef het ek net gou ingeloer by versindaba en weereens jou lekker nuuswekker raakgelees, Louis, met Desmond Painter se evokatiewe kommentaar ook daarby.
Snaaks, mense wat Portugees ken merk dikwels op dat Brasiliaanse Portugees meer ‘sing’ as Portugese Portugees. Ek sal nie weet nie, maar dit laat my nogtans wonder oor wat die kreoliserende en semi-kreoliserende invloed van koloniale en postkoloniale situasies op die “po”etiese aanleg” van tale is… Miskien het dit te make met die vermenging van ritmes, of die noodsaak van die koloniale taal om ‘n nuwe landskap en nuwe ervarings te verwoord? Miskien behou sulke tale in die postkoloniale konteks iets van ‘n ‘konkreetheid’ wat herleibaar is tot die feit dat die taal in die monde van tweede- en derdetaalsprekers vervorm en verkreoliseer is? Miskien word staatstale te staties vir po”esie? Want staatsafrikaans kon ook maar ondigterlik, onritmies en leweloos klink…