1
Ek maak ‘n klompie gedigte bymekaar. Ek kliek en knip en plak en binne ‘n japtrap het ek een lang dokument op my rekenaar. Ek wonder oor ‘n titel. Dit moet tref, vasskop in die geheue soos van my gunstelinge; ” Zen and the art of..” Wat van iets soos; “Moenie in die water mors nie die ou mense wil dit drink” Dan die omslagontwerp; Hopper se “Night hawks” is my inspirasie. Ek dokter met ‘n rekenaarprogram een van my eie Vrystaatvlakte foto’s. ‘n Verlate plaashuis doer ver op die rand, destyds in die Engelse oorlog afgebrand en bewoon deur oupagrootjie. Dreigende laatmiddag donderstormwolke omraam die prentjie. “Prrt prrt prrt” druk ek die ding, een bladsy per minuut. Ek laat dit Saterdagoggend bind dit by die Postnet winkel; ‘n plastiek ringbinder. My eerste boek. Een uitgawe. Oplaag; een. Terug in die laai.
2
Dis Vrouedag, 9 Augustus. ‘n Bonusdag vir die lessenaarlaai skrywers. Ek hoor vroulief veraf in die woonkamer die stemme van; “Big Brother”, “Idols” en ander valse realiteite. Ek het my “holy pants” aan, die ou ingeleefde sweetpakbroek, die ene vol gaaitjies. Ek trek my studeerkamer se deur toe. ‘n Glasie Port, Mozart se Requim vul die kamer. Vroulief loer in en vra; Coffee? en gee my ‘n soen sommer net uit pure verniet. Later is dit drie uur pikdonker as ek inkruip en vroulief haarself om my wikkel; nog ‘n vel aan my vasgroei.
3
Ek sit met die storie waarmee ek nou al die verste gevorder het. Elke nou en dan kliek ek op die “word count” ‘n paar duisend woorde. Die storielyn het nog nie eintlik verder as die plaaslike kroeg ontwikkel nie. Dalk die eerste kroegroman dink ek. Ek besef dat “in die kroeg sit” ‘n herhalende tema is in my stories. ‘n Goedige eensame hoofkarakter wat met die kroegmeisies flankeer.
4
Ek lees “How NOT to write a novel- 20 mistakes made…” Ek pleeg al 20 sondige sondes waarvan die eerste is Wie wil die mymeringe lees? Terug lessenaarlaai toe.
5
“Hoop nie jy gaan kwaad wees vir my nie.” sê my ma toe ek haar die volgende dag bel om haar goeie Vrouedag toe te wens wat gister was. Gaats wonder ek, wat nou? Het sy my gunsteling Bul, ou Lodewyk verkoop? My erf saaidbord toe vir my suster gegee wat nou al hoeka skimpe gooi ? Soos ‘n Ma nou maar ‘n ma is, sy is my grootste fan. My vrou, skepties versigtig vir die Afrikaanse dinge van my, is my tweede grootste fan. Ek het twee fans. My Ma het destyds toe ek haar vertel het van die Nuwe Stemme 4 dinge bly aandring; “Ag, gee nou vir my van jou gediggies, ‘n Ma mag maar mos ietsie kry” Ek het toe maar ‘n klompie bymekaar gemaak, die mees onskadelikes, sommiges mooi vir mooi wees, daardies veilig in my moeder se hande sou wees, dankie sê gedigte vir die moederhart. Die wat intussen lankal uit die lessenaarlaai in die asblik beland het.
Sy kom toe uiteindelik by die ontboeseming waarop sy my nou so voorberei het; ” Die haarkapster is so ‘n kunstige mens… ‘n jong geskeide vroutjie…net twee maande getroud gewees” vertel my ma. “Sy is besig om die salon bietjie op te vrolik, teen die een muur wil sy ‘n gediggie of twee sit. Sy is baie oulik en bied verftegniek klasse aan by die kwekery. Ek vertel haar toe mos maar my seun skryf mos gedigte” , “Haai tannie regtig!” en met die beland my gedigte in die hande van Ansie die kunstige geskeide vroutjie van Salon Angelique.
So iewers in die Oos-Vrystaat, nie te ver van Antjie Krog se Kroonstad, verder weg van Gilbert Gibson se Bloemfontein, nader aan die kunstenaarsdorp Clarens, is ‘n haarsalon op ‘n dorpie langs die Wilgerivier. Daar waar pensioenaristannies hul kapsels pers tint, teen die muur met die geskilderde Griekse suile en rosies en duifies en wolke met ‘n poeierblou Plascon agtergrond. Daar is ‘n gedig in groot letters geverf, dalk oor ‘n wilgerboom, dalk oor ‘n bokram, dalk oor moederliefde. En as tannies oor hul Huisgenote loer onder die haardroërs deur met silwerfoelie in hul hare, lees hulle oor en oor. ‘n Gedig van Tannie Dorothea se seun. “Nee hy boer mos nie, die een wat gedigte skryf.” sou hulle dalk sê.