Publikasiegeleenthede in Nederland

Doen dit!

Doen dit!

Een van die uitgespelde doelwitte van hierdie webblad is om die prominensie van die Afrikaanse digkuns ook in die Nederlandstalige gebiede te verhoog. Pas het daar dan twee nuwe inisiatiewe vorendag gekom wat dit vir die Afrikaanse digter moontlik maak om sy of haar verse direk in die ander halfrond geplaas te kry …

Reeds is daar die onlangse uitnodiging deur Bernd Ebbo Visser wat Afrikaanse bydraes vra vir De Onbestemmeling, ‘n ‘benefietbundel’ oor huisloses. (Gaan lees gerus sy brief in die Brieweboks indien jy nog nie hiervan kennis geneem het nie.) Nou het De Contrabas ook bekend gemaak dat hulle vanaf 15 Oktober vanjaar begin met ‘n interaktiewe gedigteblad op hul webtuiste.

Dié blad sal deur Joris Miedema en Jürgen Smit bedryf word en bekend staan as die De Contrabas Gedichtenforum. Hulle beoog om elke twee weke twintig gedigte te plaas; elke week sal daar egter een vers uit dié groep gekies word as die “gedig van die week”. Aan die einde van die jaar sal dié 52 ‘weekgedigte’ deur De Contrabas in ‘n bloemlesing uitgegee word. Let wel: daar bestaan egter ‘n beperking van drie ten opsigte van die aantal gedigte wat per maand ingestuur mag word. Bydraes kan gestuur word na contrabasforum@live.nl.

Twee wonderlike inisiatiewe, inderdaad.

***

Sedert Vrydag het daar omtrent heelwat nuwe inhoud bygekom: by Wisselkaarten is daar bydraes deur Astrid Lampe en Ester Naomi Perquin; by Nuwe Stemme het Lewies Botha ‘n nuwe inskrywing geplaas en onder die vaste bloggers is daar bydraes deur Charl-Pierre Naudé en Carina Stander. Charl-Pierre se stuk is na aanleiding van die Nuuswekker oor Antwerpen wat ek verlede week geplaas het en bevat sowel sy gedig as Peter Holvoet-Hanssen s’n.

Lekker lees en mag die week vir jou opwindend verloop.

Mooi bly.

LE

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •