Desmond Painter. Twee besonderse boekwinkels in Londen

Londen het groot boekwinkels, supermarke vir boeke eintlik, waarin jy maklik kan verdwaal. Soos die Waterstones ketting, of die beroemde Foyles in Charing Cross. Maar ek verkies die kleiner boekwinkels. Een so ‘n papier-oase van stilte in die besige stad, is die London Review Bookshop in Bloomsbury. Hulle is natuurlik geaffilieer aan die bekende London Review tydskrif en uitgewer. Hierdie winkel met sy goue houtvloere en sy aangrensende teekamer is ‘n moet vir enige boekliefhebber. Dit het ‘n uitgebreide katalogus van boeke oor geskiedenis en politiek, maar die filosofie en digkuns is ook baie goed verteenwoordig. Hulle verkoop ook ‘n hele klomp verskillende plaaslike ‘poetry magazines’. Die winkel is in Bury Place, net langs die Russel Cambers (‘n woonstelblok waarin Bertrand Russel vir ‘n paar jaar gewoon het) en net om die draai van die British Museum. Ek het, moeg gestap, moeg ge-browse, vir lank net daar gesit en gedigte uit Simon Armitage se jongste bundel gelees. (Terloops: ‘n vreemderige bundel…)

London Review Bookshop in Londen

London Review Bookshop in Londen

‘n Ander besonderse klein en onafhanklike boekwinkel in Londen is Bookmarks: The Socialist Bookshop. As ek die getye reg lees op hierdie webblad, is daar heelwat mense wat hierdie winkeltjie ‘n koue skouer sal gee! Maar dit is regtig ‘n besonderse plek — deels boekwinkel, deels gemeenskapsentrum. Hulle het werklik ‘n uitsonderlike goeie versameling boeke oor die sosialisme en oor die politiek vanuit ‘n sosialistiese perspektief. Ook goeie boeke oor en uit Afrika. Benewens boeke is Bookmarks ook die plek waar pamflette versprei word (bv. ‘n onlangse een oor die gevaarlike mites wat die konserwatiewe media oor immigrante aan die lewe hou) en waar inligting oor protesaksies en ander vorme van burgerlike deelname oorgedra word. Ek het hierdie week se uitgawe van Socialist Worker gekoop. Die hoofopskrif: RACIST THUGS OFF OUR STREETS. Dit handel oor ‘n protesoptog in Bradford hierdie naweek, teen die rassistiese English Defence League. Interessant is ook ‘n redelike lang artikel oor die stakings in Suid-Afrika. ‘n Heel ander perspektief as die van SABC nuus…

Bookmarks in Londen

Bookmarks in Londen

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Desmond Painter. Twee besonderse boekwinkels in Londen”

  1. Wysneus :

    Aan wie behoort die boeke in die Socialist Bookshop?

  2. Desmond Painter :

    My Sosialistiese Aanval op Wysneus

    Dit bly darem maar ironies hoe kapitaliste altyd kwasi-sosialistiese argumente wil gebruik (‘die boeke behoort nie regtig aan die mense nie, maar aan ‘n besigheidsman en dus ‘n kapitalis, hahaha…’) om pogings om verby die kapitalisme te dink, verdag te maak en as selfondermynend af te maak…

    Raak dit nie alleen out there nie? Selfs die jubelende kapitaliste en die ‘einde-van-die-geskiedenis’ ideoloee (ja, ook dit was ‘n ideologie) van die 90’s begin nou meer genuanseerd dink oor die verhouding tussen die individuele en die sosiale, die private en die openbare, tussen wins en waarde. Want die kapitalisme (‘n sekere soort kapitalisme) bedreig nou nie net meer die ‘underclasses’ nie, hulle wat maklik geignoreer kan word nie, maar ons almal — in die gedaante van ekologiese verval, onstabiele markte, bankrot banke, ens. In elk geval: watter arrogansie om te dink hoe dit nou is, is hoe dit altyd sal wees? Dink jy/julle regtig ons era is so spesiaal dat dit die enigste era ooit gaan wees wat in alle ewigheid sal bly staan?

    Hoe dit ook al sy, die Socialist Bookshop se boeke behoort aan die Socialist Workers Party van Britanje. Dis hulle nederige winkeltjie, en ja, hulle verdien geld deur die boeke te verkoop. En selfs al het dit aan ‘n individu behoort, wat sou dit saak maak? Die hedendaagse sosialisme het niks te make met die stereotipiese goed wat ons onderwysers ons oor ‘kommunisme’ wysgemaak het nie. Britse, en baie ander, sosialiste glo nie dat mense ‘niks mag besit nie’; of dat hulle nie goed mag verkoop en geld maak nie. Waar kry jy in elk geval so ‘n idee? Haal ‘n hedendaagse sosialis aan wat s^e mense mag nie goed besit of ‘n salaris verdien of ‘n winkel oopmaak nie.

    Die Socialist Bookshop is ‘n onafhanklike boekwinkel — daar is bitter min van hulle oor in die era van die kettingwinkels. (Die meeste sosialiste wat ek ken ondersteun in elk geval ten volle die reg van die ‘klein outjie’ om ‘n teewinkel of ‘n restaurant of ‘n boekwinkel oop te maak, en ‘n lewe te maak, sonder dat een of ander konglomeraat sy droom onder hom uitkoop…) Dit gaan oor die aftakeling en privaat toe-eiening van gedeelde ruimtes, die ‘commons’, nie oor kinderagtige argumente soos: jy besit ‘n huis of ‘n kar so hoe kan jy ‘n sosialis wees? Dit gaan oor hoe ons maatskaplike verhoudings, die samelewing, die ekonomie, die politiek, en die omgewing, o.a., verbeel — vanuit die perspektief van ‘kapitaal’; of vanuit die perspektief van ‘die sosiale’.

    Verder ondersteun die Socialist Bookshop sosialistiese aksies: soos om stelling in te neem en te mobiliseer teen die privatisering van busdienste in Londen, die aftakeling van openbare dienste soos biblioteke, en ander soortgelyke vergrype onder die mantel van die soort neo-liberale diskoerse waarvoor jy klaarblyklik so lief is.

    Met ander woorde, die ‘sosialiste’ is nie grappige, idealistiese idiote van jou vooroordele nie, maar mense wat die w^ereld probeer sien vanuit die perspektief van diegene en die dinge wat uitgesluit word en geminag word deur die ideologiese gif wat diegene soos jy as ‘pragmatiese noodsaaklikheid’, ‘rasionele beginsels’, ‘ekonomiese common sense’ en so meer in mense se kele probeer afdwing.

    Die sosialiste is die realiste wat in die naam van die uitgeslotenes stelling inneem teen die selfdienende, onmoontlike idealisme van ‘trickle down effects’ en die ‘einde van ideologie’ en so meer. Die sosialiste is diegene wat ten minste nog ‘n soort geloof in die herverbeelding van ons wereld aan die lewe hou, teen die siniese ‘no alternative’ van kapitaliste soos jy. Teen mense wat dink die verbeelding hoort tuis in die letterkunde en die kuns, maar dat die maatskaplike orde self en ons identiteite nie meer nuwe lewe gegee kan word deur die verbeelding nie.

    Eerder as om retoriese vrae te vra soos ‘aan wie behoort die boeke in die Socialist Bookshop?’, verduidelik eerder vir my waarom die mense, die kwessies en die inisiatiewe wat hulle met hulle bedrywighede ondersteun, verkeerd is?

    En terloops, jammer dat ek nou eers antwoord…

  3. Wysneus :

    Sjoe, dis ‘n bekvol. Was ek ‘n sosialis sou ek ‘n kwota op woorde voorstel want, jy weet, “woorde is almal s’n, nie net myne nie.” Maar ek’s vir vryheid, selfs joune.

    Ek bespreek graag elkeen van jou punte, maar verbaliseer asb eers vir my hoe die verbeelde sosialistiese toekoms waarheen julle ons almal wil sleep sou lyk. My wêreldbeskouiïng, waardestelsel, en gekose ekonomiese bestel het ‘n bewese, suksesvolle, dog onperfekte geskiedenis. Joune: not so much. So verduidelik vir my waarheen jy mik, dan kan ons dit bespreek in vergelyking met die werklikheid Wat om dinge beter te maak is nie maklik nie, maar enige Bob, Kim of Fidel kan dit slegter maak.

  4. Desmond :

    Wysneus, nee. Ek het niks ges^e van ‘n stelsel met ‘n bewese rekord nie; ek praat juis van pogings om die w^reld anders, hopelik beter, te verbeel — en nie vanuit die perspektief van Kapitaal nie, maar vanuit die perspektief van iets anders, die mense, die populis, die veelheid, die menigte, watookal. Die kapitalisme vandag is ‘n sisteem sonder ‘n (rigtinggewende) idee, juis omdat dit enige beroep op (nuwe) idees probeer vergruis met fasiele verwysings na ‘die werklikheid’ — soos jy hierbo ook doen. As jy voorgee om ‘die werklikheid’ te ken, of dat dit jou uitgangspunt is, gun jy jou gespreksgenoot van meet af aan geen ruimte om sinvol tot ‘n gesprek oor die wereld wat ons moet deel by te dra nie.

  5. Wysneus :

    Desmond, wat jy skryf is soveel wol. Kan jy nie jou visie meer konkreet verwoord as in soet nietighede soos ‘n toekoms verbeel vanuit die perspektief van die massas nie? Hoe gaan die massas hulle wil uitdruk? Seker maar ‘n menslike verteenwoordiger, of wag, wag!, ‘n party. Hoe gaan ons keer dat die mees ekstreme sosiopaat nie hierdie party oorneem nie? En wat gaan die perke wees op die mag van die massas se beliggaming? Nie papierperke nie; ware struikelblokke teen magsmisbruik. Dankie dat ons eiendom mag besit, maar ek seker dis net solank die massas nie dink ons ruk nou hande uit, of dat dit beter aangewend kan word vir hulle. Ek kan nie wag nie.

    Nou gaan jy sekerlik sê “nee dis nie wat ek verbeel nie,” maar sê dan in mensetaal vir ons wat dit is wat jy verbeel, want dit is gewis nie die Sowjet-unie, Sjina, Noord-Korea, Kambodja, Kuba, Venezuela, Oos-Duitsland, Swede, Frankryk of Duitsland nie. Anders was dit nie nodig om te verbeel nie. En anders is dit onmoontlik om ‘n gesprek te hê, want op enige kritiek sal jy sê “nee dis nie wat ek verbeel nie, jy het nog vierduisend-negehonderd-nege-en-negentig raaiskote oor (in die eerste rondte).”

    ‘n Paar verdere punte, erg afgekort:
    * Ons perspektief is nie Kapitaal nie, maar die individu met onvervreembare regte vanaf die Skepper, sodat geen mens of massa mense dit kan wegneem nie.
    * Die rigtinggewende idee van ‘n samelewing behoort die somtotaal van die idees van die lede van die samelewing te wees. ‘n Sentraal bepaalde rigtinggewende idee is ‘n resep vir ‘n enorme gemors.
    * Geen sisteem waarvan ons weet is meer kreatief as ‘n vrye ekonomiese bestel nie. Self wetenskapsfiksie van ‘n halfeeu gelede kon nie die Internet, iPhones, of komende biomediese revolusie voorsien. Kwantum rekenaars is binnekort hier. Meer mense is uit armoede gelig deur groter ekonomiese vryheid in die afgelope dertig jaar as in die geskiedenis van die mensdom. En jy vroulike hond waaroor nou weer?
    * Is daar so iets soos menslike natuur? Natuurlik, anders was psigologie en sosiologie voodoo-twak. Dit is die werklikheid waarvan ek praat. As jy jou verbeelde Niemandsland met mense wil bevolk, sal jy menslike natuur in ag moet neem. Neem in ag die persoonlike politiek, botsende belange en kleinlikhede wat selfs universiteitsfakulteit en digkunsprystoekenningspanele infesteer voordat jy ‘n wêreld verbeel waarin almal vrywillig, met oorgawe, dinamika, en kreatiwiteit saamwerk ten bate vir ‘n gesiglose massa.

    Soos die ouens sê oor Stalin se spesifieke weergawe van die Paradys: “We pretended to work and they pretended to pay us.”

  6. Wysneus :

    Kan jy glo, Mario Vargas Llosa het gebel. Hy sê:

    “Some governments are embarrassed to confess that [they have benefited from deregulating their economies], and others — including some real Tartuffes — cover their bases by spewing out volleys of rhetoric against neoliberalism. Nevertheless, they have no other recourse than to privatize businesses, liberalize prices, open markets, attempt to control inflation, and try to integrate their economies into international markets. They have come to learn — the hard way — that in today’s economic environment, the country that does not follow those guidelines commits suicide. Or, in less terrifying terms: That country condemns itself to poverty, decay, and even disintegration. Many sectors of the Latin American left have evolved from being bitter enemies of economic liberty to embracing the wise confession of Václav Havel: “Though my heart may be left of center, I have always known that the only economic system that works is a market economy….This is the only natural economy, the only kind that makes sense, the only one that can lead to prosperity, because it is the only one that reflects the nature of life itself.”

  •