Andries Bezuidenhout. Ek ry iemand met ‘n beehive op die snelweg raak

Onder my dieseltrok se sitplek is ʼn kassie waarin ek agt CD’s kan inskuif. Dis ʼn bietjie van ʼn petalje om die kassie uit te haal om die CD’s weer te vervang. Só ry ek op en af, op en af, tussen Johannesburg (huis) en Pretoria (werk).

 Die klompie CD’s wat die afgelope paar weke daar sit, is elkeen seker al  ʼn slag of wat om die aarde gespin. Ek raak so stuk-stuk ʼn bietjie moeg vir elkeen van hulle. Eers sny ek enkele snitte uit – mik met my vinger vir die “skip”-knoppie. Later “skip” ek soveel dat ek dalk net een song per CD luister:

“Ek soek pille vir Kersfees, vir my gekerfde senuwees, iets wat ʼn tydjie by die see nie kan genees…”

Dan raak selfs daardie een song te veel vir my en vergeet ek weer van die CD, soos liefde wat te ver gaan woon het en ophou skryf of bel of Facebook. Miskien is die James Phillips CD (Soul ou) al een waarvoor ek nie moeg word nie. Ek skip net die eerste een – “Africa is dying” – dis darem te donker en skaaf te naby aan die vel, veral in hierdie dramatiese tye van petisies en stakings.

Vanoggend pootjie ʼn ou liefde my egter onverwags. Ek sit en luister nog so na die ontslape James Phillips, probeer uit die vragmotors se pad bly, en hier bars sy deur die kar se vooruit – beehive, kougom, mini, eye lashes en al. Amper soos ʼn wafferse drag queen met Judith Butler se gesig op haar panty. Geen air bags wat my teen haar aanslag kan beskerm nie:

They tried to make me go to rehab but I said ‘no, no, no’
Yes I’ve been black but when I come back you’ll know know know
I ain’t got the time and if my daddy thinks I’m fine
He’s tried to make me go to rehab but I won’t go go go

Dan sing sy iets oor wie ek aanneem Donny Hathaway en Ray Charles moet wees:

I’d rather be at home with Ray
I ain’t got seventy days
Cause there’s nothing
There’s nothing you can teach me
That I can’t learn from Mr Hathaway

Dankie tog vir die golden oldies, al is dit net van so ʼn paar jaar gelede. Amy Winehouse se beehive kikker enige vaal kantoorwerker se snelweg (snel?) op, iewers tussen Olifantsfonteinweg en Nelmapiuslaan.

I didn’t get a lot in class
But I know… it don’t come… in a shot glass

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •