
Verlede week het die periode ten einde geloop vir skrywers om hul naam op die versoekskrif oor die beoogde mediawetgewing en appèl-tribunaalplanne van die ANC onderteken wat deur André Brink en Nadine Gordimer geïnisieer is, te voeg. Blykbaar is meer as 500 name ontvang en is dié versoekskrif reeds aan pres. Jacob Zuma se private assistent oorhandig. Volgens Die Burger se Boekeblok is daar egter komplikasies aangesien onderhandelinge wat met stakings verband hou, tans die oorhandiging van die versoekskrif belemmer. “Op die oomblik werk ons deur Achmat Dangor van die Mandela-stigting, wat toegang tot die presidensie het,” het André Brink glo gesê. “Die gedagte is dat Dangor die saak verder sal neem.”
Intussen het daar in The Guardian ‘n uitgebreide onderhoud wat Stephen Moss met Nadine Gordimer gevoer het, oor die aangeleentheid verskyn. Hiervolgens het sy haar soos volg uitgelaat: “It is more than an irony. People died in the freedom struggle, and to think that having gained freedom at such a cost, it is now indeed threatened again. All writers are threatened by censorship, and censorship is the reality lurking behind the words ‘media tribunal’. We are protesting against the institution of a media tribunal, which of course means ‘word police’, not merely on our own behalf. Writing presupposes an interaction with readers. If the work and the freedom of the writer are in jeopardy, the freedom of every reader in South Africa is too. Our protest is an action undertaken by South Africans for all South Africans, committing ourselves to a demand for our free country: freedom of thought expressed, freedom of dialogue, freedom from fear of the truth about ourselves.”
‘n Selfs nog meer skreiende ironie is egter die opmerking waarmee Gordimer dié uitgebreide onderhoud afsluit: “The government says that the basis on which these bills would be introduced is protection of information that would endanger the security of the state … We have no intention of endangering the security of the state. The muzzling of freedom of expression is in itself a threat to the security of the state, and as writers and as citizens our intention is to demonstrate that.”
Sela. Gaan lees gerus die omvattende onderhoud op The Guardian se webblad.
***
Sedert Vrydag het daar twee nuwe stukke op die webblad bygekom, naamlik Philip de Vos se vertelling van ‘n gedig wat hy vir Patrick Mynhardt geskryf het en Jelleke Wierenga wat vol versugtinge skryf oor die feit dat sy verkies om woorde te “proe” eerder as om dit soos kitskos te verslind. Nog opwindende nuus is dat Tom Gouws se nuutste bundel, Ligloop, Vrydag in die winkels in die winkels gearriveer het. Soos gebruiklik hoop ons om binne enkele dae ‘n onderhoud met die digter te kan plaas. Intussen kan jy meer oor dié besonderse werk lees by Publikasies.
Mag hierdie week vreugdevol verloop … Oor twee weke hou ons fees!
Mooi bly.
LE