Verlede week was dit my verjaarsdag en my personeel het my verras met ‘n langbegeerde geskenk: die bloemlesing met hedendaagse Ierse digkuns waaroor ek al voorheen berig het. Uiteraard het ek summier begin lees in dié baksteen van ‘n boek en soos ek lees, besef ek opnuut hoeveel raakpunte daar tussen die Ierse digkuns en ons eie bestaan.
Neem byvoorbeeld die volgende uitspraak deur Patrick Kavanagh oor die kwessie van parogialisme – ‘n punt van kritiek wat dikwels teen die Ierse digkuns geopper word – wat die samesteller, Wes Davis, in sy inleiding aan die leser voorhou: “Parochialism and provinsialism are direct opposites. The provincial has no mind of his own; he does not trust what his eyes see until he has heard what the metropolis – towards which his eyes ae turned – has to say on any subject. This runs through all his activities. The parochial writer, on the other hand, keeps his eye on the local horizon and therefore is never in any doubt about the social and artistic validity of his parish.”
Is dit nie presíés hierdie aspek wat die Afrikaanse digkuns van die ander inheemse digkunste hier ter lande onderskei nie, het die gedagte meteens by my opgekom. Vanweë ons eiesoortige geskiedenis en die gepaardgaande stryd met die Britse “metropool” het die Afrikaanse digkuns hom van vroeg reeds daarteenoor opgestel en veeleer op die “eie” gegewe (en identiteit) gerig; net soos dit die geval is met die Iere en hul besondere stryd jeens verswelging.
Juis dáárin lê hul krag en ook hul dinamika. (En dalk ook ons s’n?)
Interessant genoeg beskou Wes Davis die volgende voor-oorlogse uitspraak van Louis MacNeice as die beginpunt van die moderne Ierse digkuns: “The poet’s first business is not rhetoric or style, but mentioning things.” Hierdeur is die aandag van die digter gefokus op dit wat sy onmiddellike omgewing en belewenis hom bied; vandaar die sterk teenwoordigheid van die sogenaamde “lokale” in (veral) ons eie vroeëre digkuns.
Sedert die 1960s het daar natuurlik heelwat tematiese verruiming plaasgevind en het dit ook in latere dekades nodig geword vir die digter om ‘n meer konfronterende posisie jeens sy of haar lesers in te neem. Maar is dit steeds geldig? Het dit nie weer tyd geword dat die Afrikaanse digter sy aandag op die hier en die nou moet begin vestig, en met sy of haar leser aan die hand te begin loop deur ‘n snelveranderende landskap met sy teenstrydige en verwarrende inhoud ten opsigte van skuld, identiteit en oorlewing nie?
Indien dit dan so is dat die digkuns onder andere ook die emosionele landskap van ‘n bepaalde groep mense verbeeld, het dit immers nodig geword dat ons júís gehoor moet gee aan die Danie Marais se oproep tot groter eerlikheid in ons digkuns, byvoorbeeld. En so ook die Kollokwium wat vir volgende naweek beplan word.
Dit is immers wat die begrip “parogialisme” behels, is dit nie?
En ek sou graag wou glo dat dit presies dié proses is wat hom tans in ons eie digkuns laat geld. En hiervan is Johann Lodewyk Marais se onlangse Diorama en ook Tom Gouws se pasverskene Ligloop skitterende voorbeelde.
Vir jou leesplesier plaas ek die 5de deel uit WB yeats se beroemde gedig, “Under Ben Bulbin“, onder aan die Nuuswekker. Volgens Wes Davis is dié gedig, en meer spesifiek dié reëls, die opdrag waaraan die Ierse digter dekades reeds gehoor gee.
Dan kan ek dit ook nie verhelp om dááronder die Afrikaanse digter se weergawe van dieselfde sentiment te plaas nie. Geniet dit …
***
Graag fokus ek vanoggend jou aandag op die persvrystelling betreffende die reeds genoemde Kollokwium wat vanjaar deel vorm van die US Woordfees se Versindaba volgende naweek. Verdermeer is daar ook nuwe bydraes deur Leon Retief, Hennie Meyer en Andries Bezuidenhout om jou aan te verlekker.
Mooi bly.
LE
Irish poets, learn your trade,
Sing whatever is well made,
Scorn the sort now growing up
All out of shape from toe to top,
Their unremembering hearts and heads
Base-born products of base beds.
Sing the peasantry, and then
Hard-riding country gentlemen,
The holiness of monks, and after
Porter-drinkers’ randy laughter;
Sing the lords and ladies gay
That were beaten into clay
Through seven heroic centuries;
Cast your mind on other days
That we in coming days may be
Still the indomitable Irishry.
© WB Yeats (Uit: Under Ben Bulbin)
***
Ons digters, en Ovidius veral
het die omskepping van die gees besing
met Daphne en Niobe in kristal,
in klippe of in bome vasgewring;
en ook waar berg en bos styg uit die see
met winde wat oor rots en denne fluit,
en as volksgenoot is dit my doel:
Ek moet my land, wat buite die hemele lê,
deur Sy genade en Sy meegevoel
bestendig in my volk se taal en sê
wat my aangryp; en in volstrekte
vereenselwiging met alles om my heen:
bloeisels, Alpe en viswyf, verlos ek
deur die gedig die engel uit die steen.
O God, waansinnig word die ritueel
waar ek in alles U verlos en loon:
o water, sout en doek van wit fluweel,
o kruis, wit dorings van ‘n doringkroon!
Laat ek dan waar die vyand in ons stede
en ons ruwe land wat berg op berg styg
uit die see, waar hulle ons verlede,
my hele menswees en my taal bedreig,
één voel selfs met prinse van die handel
en weet ons ganse volk hoort by mekaar,
soos van die olyf of die amandel
al die takke, twygies en die blare
uit en om één stam – en laat die bloeisels, soet
en fyn, verrimpel tot iets hards, gesonds,
en voortdurend tot ‘n skone groei gevoed
word deur ons, die penwortel ondergronds…
Laat ek dan waardig wees vir die bedryf
en vir my medemens en God eenkant
beurtelings notule en gedigte skryf.
Nou dat die ander slaap, laat hierdie hand…
1948
(c) DJ Opperman
Uit: “Scriba van die Carbonari” (Engel uit die klip, 1951: Tafelberg)
Rita, volgens die HAT is ‘n parogie ‘n kerklike gemeente. En ja, die assosiasie met die woord in Afrikaans is dikwels negatief vanweë die suggestie van bekrompe, benepe of engheid wat daarmee geassosieer word.Wes Davis gebruik dié term egter meer in die sin van “gemeenskaplikheid” of “gemeenplaas” wanneer na die Ierse digkuns gekyk word. Maw – volgens hulle het die Iere hul nog nooit as “gekolonialiseerd” deur die Britte gesien nie, maar hulle van meet af teenoor die metropool (Brittanje) opgestel en gefokus op die handhawing en uitbouing van hul eie, unieke kultuur wat vandag as tipes “Iers” gesien kan word. Ek vermoed dat dié argument net soveel op die Afrikaners van toepassing gemaak kan word. Binne konteks van die Afrikaanse kultuurbelewenis was daar nooit ‘n identifikasie met Engeland nie; veeleer met die Europese en meer spesifiek die Nederlandse. Daarom dat ons digkuns vandag nogal radikaal verskil van Britse; in styl, tema en aanbod.
Maak dit meer sin vir jou?
Die “parogiale” aspek het dus te make daarmee dat die Afrikaanse digter feitlik eksklusief kyk na “eie gegewe” tov omstandighede, identiteit en realisering. Dit probeer hoegenaamd nie om ‘n ander model na te skryf nie. Myns insiens lê die krag en dinamika van ons digkuns juis in dié gegewe …
Dis ‘n interessante waarneming wat jy hier gemaak het Louis! Ek hoop jy sal ook bietjie meer kan uitbrei hierop? Die begrip ‘parogialisme’ is nog ietwat onduidelik vir my. Gewoonlik het dit ‘n negatiewe konnotasie, maar jy gebruik dit as iets positiefs. Sou ons byvoorbeeld ‘n Breyten gehad het [praat nie eens van die Sestigers tov prosa nie] indien hy nie die Europese bodems, veral Frankryk, verken het tov hulle digkunste daar nie?