Volgens oorlewering het DJ Opperman glo graag verwys na ‘n digter se “poëtiese orgaan”; daardie instink wat jou as digter van die eerste gedagte af sekuur indryf op die gedig af. Nou is dit so dat ek heelwat digters (één spesifiek) ken wat met amper onfeilbare intuïsie ‘n vers net kan laat “gebeur”. Maar vir my, wat merendeels ‘n kopdigter is, is daardie bykans magiese aanvoeling helaas nie gegun nie; daarom is my kreatiewe momente maar meestal ‘n worstelstryd.
En jy kap, kap en buig. Versplinter, breek uitmekaar en probeer weer om skerwe aan mekaar te gom. Tot jy voel: goed, dit kan seker nou maar staan. En soms skryf jy per genade ‘n vers wat jou in die stilligheid ook droompies van grandeur laat droom; ‘n vers wat jy met ‘n huiwerige trots graag met ander wil deel.
Tot jy – en helaas, ook dít gebeur al hoe meer gereeld – jou vasloop in ‘n bundel wat jou tot stilstand ruk; ‘n bundel wat só goed is, so oorweldigend presíés in elke weefsel, dat jy onwillekeurig besef: Só sal jy nooit óóit kan skryf nie.
Presies dít was my ervaring toe ek enkele dae gelede Tom Gouws se nuwe bundel, Ligloop, klaar gelees het. Liewe hemel, wat ‘n bundel! Ek moet erken dat ek tot nou toe nog nie eintlik van Tom Gouws as digter kennis geneem het nie; ek kan dié bundel dus nie met sy voriges vergelyk nie … Maar kan dié man dig! Ten spyte daarvan dat gedigte met ‘n sterk Bybelse – en religieuse temas my meestal irriteer, kon ek hierdie bundel eenvoudig nie neersit nie. Die vakmanskap en geskakeerdheid van aanbod is vir my nie net oorompelend nie, maar eweneens intimiderend; wat Tom Gouws in hierdie gedigte vermag, is myns insiens iets enorm. Welgedaan!
En glo my, om één vers by wyse van illustrasie uit so ‘n diggeweefde bundel te selekteer, is ‘n onbegonne taak. Daarom plaas ek vanoggend twéé gedigte by wyse van toegif.
***
Soos gister beloof is daar heelwat nuwe inhoud vandag. Afgesien van die nuwe nuwe blogs deur Desmond Painter en Carina Stander is daar nuwe gedigte deur Joan Hambidge en Johann Lodewyk Marais, asook ‘n vertaling van ‘n Achmatova-gedig deur Zandra Bezuidenhout. Ten slotte fokus ek jou aandag op Wisselkaarten waar twee bydraes van Joris Cornelissen ontvang is: een oor Stef Bos as kampvegter vir Afrikaans en een oor onderhoude wat hy met Nederlandse parlementariërs gevoer het oor hul siening van Afrikaans.
Lekker lees.
Mooi bly.
LE
vrou met ‘n pêreloorring
He reached over and gently touched my earlobe.
– Tracy Chevalier: Girl with a pearl earring
sy asem is die deining van die ganse kosmos gekonvergeer.
die heelal wieg in ‘n oerkadans, praat in stiltes wat sag smoor.
ek is in veegsels realiteit van amber en loodwit gesuspendeer
tot ‘n vaag bekende herinnering op doek, ‘n ontblote metafoor
wat ons onuitgesproke begeertes klankloos moet kalibreer.
ek is gekamoefleer in die stof van gebreekte pêrels en ivoor.
haartjies van jou kwas begin ongesiens groei op die seemsleer
van my vel. ek is verrinneweerd versadig toe ek die bloedspoor
voel nog voor jy my geluidloos met ‘n witwarm naald penetreer,
toe jy my graveer in die sagte vleeslappie van my weerlose oor.
***
elia leer ligloop in afrika
die local elia vleg khoi en germaans
tot die knarsvars tongval van ‘n nuwe taal.
profeties is dié saad oor diep waters spartaans
vervoer in biesiewiegies, kontinentaal
verplaas, geplant in die wieging van ou ossewaens.
in die land van kus het die fetus diep asemgehaal
en uit die donker baarmoer ligvoets gedans.
soos die gees van elia vloei, ontvou die verhaal
van God se skeppingsdroom vir afrikaans.
© Tom Gouws (Uit: Ligloop, 2010: Human & Rousseau)