Vorm veronderstel waarneembare vaste patrone in ’n gedig.
Met die woord “vormvastheid” word dikwels verwys na vorms soos die sonnet, die rymende gedig en die kwatryn. Maar ’n gedig hoef nie een van die name van vormvastigheid te dra ten einde vormvastigheid te besit nie.
Vrye verse verskil nie van vormverse en vormvastigheid daarin dat dit minder patroonmatig is nie. Dit bevat bloot patrone wat meer wisselend van aard is, terwyl by vormverse die waarneembare vormgewende elemente in ’n vaster ratio ten opsigte van mekaar en ten opsigte van die geheel van die gedig deurgaans voorkom. Die verhouding patroonmatigheid: wendings, weeg waarskynlik sterker in aan die kant van wendings as dit kom by vrye verse.
Vrye verse is dus nie armer in vorm as vormverse nie; as dit ’n goeie gedig is gaan daar vormmatigheid in voorkom, maar die soort vormmatigheid gaan verskil van die soort wat jy by vormvaste verse aantref. Dis patrone wat wissel, onderbreek word, weer hervat word, opsetlik afwyk, ensovoorts.
Wat vir my meer interessant is, is die verskil tussen vorm en formalisme. ’n Klem op vorm kan formalisme in die hand werk. My woordeboek beskryf formalisme as gevolg: ”Die heg van groot waarde aan die vorm, die letter, terwyl op die gees nie gelet word nie.” Dis ’n immerteenwoordige gevaar vir praktisyne van die vaster vers. Net soos wat gebrek aan vorm ’n immerteenwoordige gevaar inhou vir digters wat vryer te werk gaan.
Formalisme kan manifesteer as gedwonge vorm, of resepmatigheid, of vorm wat onvanpas is omdat dit nie die inhoud van die gedig of die eise vir vitaliteit of lewensgetrouheid van die historiese tydsgewrig waarin die gedig geskryf word, onderskraag nie.
Formalisme is wanneer die gedig hom tot konvensie wend maar steun op die “naklank” van allerlei effekte wat met daardie konvensie geassosieer word. By formalisme word die eggo en die geheue van die konvensie bo enige noodsaak wat uit die gedig self moet voortvloei, geplaas en die gedig volg in die vaarwater van daardie geheue.
By formalisme is daar nie genoeg noodwendigheid in die gebruik van die vorm of die konvensie nie. Die vorm kommunikeer dus nie, dit is nie wesenlik genoeg deel van die vers se semantiese leksikon nie, dit versier bloot.
Selfs die vryer vers kan formalisties word. Selfs afwyking en “oorspronklikheid” kan formalisties wees. Dit sal wees wanneer die uiterlike vorm van nuutheid of uniekheid vir effek nagejaag word, sonder enige substantiewe onderskraging van die gebruike wat ingespan word. Mense praat soms van “truuks” in sulke gevalle.
Daar is in Afrikaans, Engels en Nederlands nie ’n tekort aan formalisme nie. En praktisyne van die digkuns behoort daarop bedag te bly en ag op te slaan.
hallo Marlise, Dit sal beslis moontlik wees om praktiese voorbeelde van gedigte te noem, en verskille aan te dui. Dit gaan egter tyd neem wat ek nie nou het nie, hoewel dit waarskynlik interessant sou kon wees in terme van diskussie.
Ek het my bloginskrywing “oorsigtelik” getitel met ‘n baie goeie rede. Ek dink nie voorbeelde gaan ‘n bydrae maak aan die geldigheid al dan nie van die raamwerk van beskouing wat ek aanbied/aanhaal nie. Lesers gaan of die geldigheid van wat ek se, aanvoel of hulle gaan dit nie aanvoel nie.
My dank aan die eerste groep. 🙂
Kan jy dalk enige praktiese voorbeelde van gedigte noem om jou standpunte te onderskraag? Verskille aan te dui?