
In Engeland heers daar uiteraard groot belangstelling in Tony Blair se memoires wat onlangs verskyn het. Veral die uitlatings oor die oorlog teen Irak en die politieke storms rondom Gordon Brown en diesulke trawante laat die lesers druil van plesier. Regtig? Nee, darem nou nie …
Luidens ‘n onlangse berig op The Independent se webtuiste moes Blair ‘n boekbekendstelling by die Tate Modern kanselleer weens betogers wat alles behalwe ingenome is met die rol wat Blair en sy regering gespeel het in die oorlog teen Irak en gedreig het om die boekverrigtinge te ontwrig. Volgens die beriggewer het Blair soos volg reageer: “It is sad in a way because you should have the right to sign books or see your friends if you want to. But it was going to cause so much hassle. The people at the party are friends – and some of them are not political at all. I don’t mind going through protesters – I have lived with that all my political life. But for other people it can be a bit unpleasant and frightening.”
Nou ja, toe. En natuurlik was die skryf van die memoires maar net sy beskeie manier om dankie te sê vir al die mense wat hom tydens sy ampstermyn so gul op die hande gedra het; en om darem ook net seker te maak dat almal wat so uitermatig na aan sy hart lê, moet weet dat sy opvolger “maddening” en “strange” is met “zero emotional intelligence”.
En natuurlik het die gawe inkomste uit die verkope van hierdie omstrede boek absoluut níks te make met hierdie goedhartige “dankie sê” aan die Britse kiesers nie. Tot op datum het daar al meer as 100,000 kopieë van “A journey” verkoop en is dié boek reeds in sy sesde druk.
Nietemin, Lindsey German, sameroeper van die Stop the War Coalition, was uiteraard verheug oor die feit dat hulle Blair se partytjie so effektief bederf het: “It shows he is running scared.” het sy glo gesê. “The people who say we should not protest are denying us the right to persist in asking questions about the war and denying the rights of Iraqis who are still suffering because of Blair’s policies.”
***
Sedert my Nuuswekker Vrydagoggend het daar heelwat nuwe stof bygekom op die webblad. Andries Bezuidenhout het twee nuwe blogs geplaas: een oor sy boerskap in beton en een oor die winterwinde wat maar net nie wil ophou met waai nie; Desmond Painter skryf oor die Freuds van Londen en Charl-Pierre Naudé onderskei tussen vormvastheid en formalisme in die digkuns.
Graag fokus ek jou aandag op ‘n nuwe digstring: Johann Lodewyk Marais wat vertel oor die ontstaansgeskiedenis van sy vers “Richard E. Leakey“ wat in die onlangse bundel Diorama verskyn het. In die gedigtekamers is daar eweneens ‘n pragtige nuwe gedig, “Nelson Mandela” deur Johann Lodewyk Marais om te lees …
Ten slotte – Vrydagaand was natuurlik die ATKV Woordveertjie-toekennings en Gilbert Gibson was aangewys as die eerste ontvanger van die poësieprys vir sy bundel oogensiklopedie wat verlede jaar by Tafelberg verskyn het. Veels geluk, Gilbert! Dit is ‘n welverdiende bekroning. Marlise het tydens dié geleentheid ‘n paar foto’s geneem; jy kan hier daarna gaan kyk. (Nuuswekker hoop om môre-oggend meer volledig oor dié geleentheid te kan berig.)
Hê pret dié week; komende naweek vier ons fees. Dis immers Versindaba-tyd!
Mooi bly.
LE