Lente is aan ’t blom en die Engelse se “spring” is ge-“sprung”. Om Totius se mismoedigheid ’n bietjie aan te pas: Ek sien dit dan aan alle ding, wat in die oggend my omring, die lewe is die wêreld wel.
Terwyl ek vanoggend my oggendkoffie agter op die stoep drink – party mense sal dit ’n patio noem, maar ek val nie in daardie ghrênd kategorie nie – sien ek die twee kwikstertjies wat nes maak in die klimop wat van buurvrou se tuin agter oor die hoë skeidsmuur tuimel.
As ’n mens ’n lewende demonstrasie van die adjektief “kordaat” wil sien, moet jy ’n kwikstertjie dophou … daardie regop houdinkie, die uitgestote borsie, die flink passies, die wakker oë.
Die een kwikstertjie vlieg droë stingeltjies aan terwyl die ander een solank die nes uitprobeer. Ek wonder wat die werksverdeling is. Word die ou tradisies hier nog gehandhaaf: man sorg vir die dak oor die kop – oftewel ’n nes onder die lyf – vroutjie maak kinders groot?
Terwyl mannetjie boumateriaal versamel, trippel vroutjie hier voor my op die plaveistene rond, pik hier en wik en weeg daar. Toe sy haar een pootjie oplig, sien ek sy het geen tone nie, sy loop so op die stomp onderkant van die pootjie rond. Noudat ek beter kyk, sien ek sy loop effens kruppel. Toe wonder ek, die alewig wonderende mens: Maak dit vir ’n kwikstertjiemannetjie (of is dit nou ’n mannetjiekwikstertjie?) saak wanneer hy ’n vroutjie kies dat sy ’n gebreklike poot het? En andersom? In die mens se wêreld is voorkoms van die allergrootste belang, en dit word al hoe meer so. As die aftoon-kwikstertjie ’n mens was, watter kans het sy op ’n lewensmaat gehad?
Maar nou het die kwikstertjievroutjie – ek kan heeltemal verkeerd wees, dalk is dit die mannetjie – gelukkig ’n maatjie en ek gaan eersdaags ’n trotse peetma wees.
Intussen het my swart bure ook al teruggekom. Waar hulle was, weet ek nie, maar hulle is nou met die koms van die lente terug. Ek het hulle laasjaar toe hulle by my begin plak het, probeer uitmoor. (Intrek van geskokte asems. Hoop Desmond & Kie. drink nou dadelik hulle kalmeerpilletjies.) Dit het hulle net aangemoedig om in groter getalle as ooit aan te teel.
My onwelkome bure het sonder bekendstelling of uitnodiging by die ente van die riete van die afdak bo die stoep ingekruip en begin plak. Wrywing tussen twee oppervlakke veroorsaak ’n legio geluide van allerlei frekwensies. Ek kan baie van hierdie geluide nie beskryf nie – ek dink nie daar’s al woorde daarvoor uitgedink nie – maar van die beskryfbare geluide is kraak, boor, dreun en gons. Die desibelvlakke bring ’n gewelddadige streep in my na vore wanneer ek ’n dringende stuk skryfwerk moet afhandel – my werkstasie is by die oop deur na die stoep.
Wat die spul daar binne die riete doen, weet ek nie, maar ek dink hulle vergroot die akkommodasie om plek te maak vir die aantelende familie.
Hulle lyk soos grootboeties en -sussies van bye, maar is heeltemal swart en het harde kewerlywe, soos ek agtergekom het toe ek hulle laasjaar met ’n skerp stuk draad uit hul riethuise wou verwilder. Hulle is baie lief vir die stuifmeel van die blommetjies van die aartappelboompies (solanum rantonetti) en die laventels in my tuin.
Wanneer hulle huis skoonmaak, beland allerhande geel blertse op my plavleisel. Ook op my motor, want intussen het hulle ook al die riete by die motorafdak betrek.
’n Paar jaar terug was daar hommelbye in my tuin. Hulle het geel gestreepte rugbytruie gedra en was nogal komieklik wanneer hulle met hul swaar lywe op die dun stele van die Australiese laventel gaan sit het. Maar nou is hulle weg, ek sien nie eens meer ’n enkele een nie. Verjaag of uitgemoor deur die swart familie? Hoeveel verskriklike volksmoorde vind nie in ’n mens se tuin plaas terwyl jy oor jou eie klein ellendetjies ween nie?
Intussen wonder ek hoe geniet my loseerder in die rooi posbus by die tuinhekkie die lente. Maar ek gaan kyk liewer nie, want sy (dit kan ook ’n hy wees) het agt lang, harige pote en is van formidabele grootte en senuagtige geaardheid. Sedert ek een keer te veel my hand in die posbus gesteek en sy een keer te veel laat blyk het dat sy dit die ideale huisvesting vind, los ek alle advertensiepapiere en kennisgewings net daar. Gelukkig het ek ’n posbus by die poskantoor waarheen my prôpperse pos gaan. Af en toe kry ek ’n welmenende besoeker by die voordeur met ’n klompie pos in die hand, bewerig en asvaal geskrik. Terwyl hulle by die voorhekkie is, het hulle gereken, kan hulle net sowel die pos in die posbus vir my bring. Dit lei tot skokkende ontmoetings van die grillerige soort.
Die kransduifmannetjies het die lentekoors kwaai onder lede. Daardie katoolse geroep van hulle, wat minute lank volgehou kan word en al hoe hoër en dringender word, is genoeg om my al swetsend en handeklappend te laat uithardloop. Maar hulle flap net vir ’n paar minute weg na die dowe bure se dak, om weer terug te kom en dringend katools te raak.
My voëlliefhebbende vriendin laer af in die straat wil vreeslik graag kransduiwe in haar tuin hê, en ek doen my bes om hulle straat-af te jaag, maar die perversiteit van die lewe seëvier en hulle wil opsluit op my lilapers dak gehuisves word. Dalk doen lilapers dinge vir kransduiwe.
Ek groet met die soet gebabbel van ’n kolonie rooivlerkspreeue in my ore.
Ai, Pieter, hoe kan iemand wat “met die venyn van ‘n steekvlieg” dig, nou lentepoësie skryf? Wat van jou? Wil jy dit nie waag nie?
Ai, Jelleke, ek’s so bly dat dit wel lente is iewers in die land. Hier in my geweste klou die winter verbete vas(met wisselende sukses). Nogtans ‘n wonderlike stuk om te lees. Gegewe vir ‘n gedig, of is dit nie eintlik jou tipe inspirasie nie? 🙂