Gerrit Komrij is natuurlik nie onbekend aan die Afrikaanse poësieliefhebber nie; veral vanweë die uiters suksesvolle bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte (1999: Uitgeverij Bert Bakker), waarvan hy die samesteller was, en die ewe indrukwekkende vertaling van sy gedigte deur Daniel Hugo (Die elektries gelaaide hand, 2005: Protea Boekhuis). Verdermeer was daar etlike jare gelede ook heelwat gewag gemaak van die feit dat hy die Ingrid Jonker-dokumentasie aangekoop het.
Nou wil dit luidens ‘n berig by De Papieren Man voorkom asof die Letterkundige Museum te Den Haag sommer ‘n groot slag geslaan het met die verkryging van Gerrit Komrij se omvattende argief. Aangesien Komrij bekend is as digter, kritikus, polemis, rubriekskrywer, dramaturg, vertaler, tydskrifredakteur, bloemleser en wat nog, is hierdie argief uitgebreid en van besonder groot waarde. Nie net bestaan dit uit handgeskrewe manuskripte (met annotasies) nie, maar ook uit korrespondensie, verbandhoudende dokumente en tekeninge.
Uiteraard wonder ‘n mens of die Ingrid Jonker-versameling deel uitmaak van dié oordrag. Op persoonlike navraag het Komrij egter laat weet dat dit nié deel vorm van die argiefstukke wat na Den Haag se Letterkunde Museum oorgedra word nie … Die Ingrid Jonker-dokumente is dus tans steeds “onaangetas” in sy veilige besit.
Nietemin, Komrij, wat in 1993 met die PC Hooft-prys bekroon is en van 2000 tot 2004 die Dichter des Vaderlands was, sal glo persoonlik teenwoordig wees in Den Haag tydens die feestelike oorhandiging hierdie naweek. Twee van sy gedigte, “Zelfportret” en “Solo” sal ook by dié geleentheid in handgeskrewe formaat tentoongestel word; daarom plaas ek vir jou leesplesier “Solo” onder aan vanoggend se Nuuswekker.
***
Die korrespondensie van nog een van ons literêre legendes, Uys Krige, het pas by Hemel & See Uitgewers verskyn onder die redakteurskap van Peet van Aardt. Die bekendstelling van Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje tydens die Woordfees se komende Versindaba gaan beslis een van die hoogtepunte op die program wees …
Nuwe toevoegings tot die webblad vanoggend is Jelleke Wierenga se pragtige beskrywing van die lente in haar dorp.
Lekker lees en laat hierdie dag punte tel. Dit is amper naweek.
Mooi bly.
LE
Solo
Geen mythe of wildwestverhaal
is het wat ik ditmaal opschrijf.
Ik klauter uit een krater, kaal –
de zon brandt op mijn dunne lijf.
Ik roep een zin. Het klinkt te schraal
in het omringende gewelf –
ik heb geen schim of filiaal –
ik ben vandaag alleen mezelf.
Ik kan mij niet beroepen op
een stand-in of een stijlfiguur,
een schuilnaam of een ledenpop.
Er is geen spoor van literatuur.
© Gerrit Komrij