Herman Toerien. Barend J. Toerien – ‘n jaar later.

Net meer as ʼn jaar gelede is die Afrikaanse skrywer – digter, Barend J. Toerien, op 88-jarige leeftyd oorlede.

Hoewel hy nooit as een van die grotes gereken is nie, was hy met sy afsterwe kortstondig die doyen van Afrikaanse digters. In dieselfde jaar het die Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met ʼn toekenning vereer.

Sy dood is gevolg deur ʼn hele rits skrywers-huldeblyke.

En toe ʼn protes of twee omdat sy werk nie die erkenning kry wat dit verdien nie. Toe, min of meer niks nie. Of so lyk dit vir my.

Barend Toerien

Barend Toerien

Hoekom hieroor iets op skrif stel? Met Barend se afsterwe het ek ook die behoefte gehad om iets te skryf. Hy was immers my oorlede pa se neef, en ons het van kleintyd van dié oom geweet wat dig. Oom Barney, het ons mee grootgeword, en hom ook ʼn paar keer ontmoet terwyl ons gesin ʼn jaar in die VSA gewoon het -ek toe maar sewe jaar oud.

Maar na my pa se dood was my ma en Barend ʼn paar jaar getroud. Kortstondig het ek nouer kontak met hom gehad.

Met sy afsterwe het ons nie kontak gehad nie. Die laaste keer wat hy my gebel het, het hy op my geskree en gevloek, en toe hy ʼn dag of wat later weer bel, het ons nie geantwoord nie. Iewers moes ons ʼn gemeenskaplike voorouer met ʼn kort lont gedeel het. Met sy afsterwe was ek en my familie besig om die roudiens te reël van sy niggie, my tante, wat omtrent dieselfde tyd as hy gesterf het.

Tussenin het ek die behoefte gehad om iets oor Barend te skryf en dit het nogal plek-plek die pyp gerook. Oor my tannie SC ook, die kanniedood, iets geskryf.

Ek woon in ʼn woongebied, Langenhovenpark, waar bykans al die strate na Afrikaanse skrywers en digters vernoem is. Van Ingrid Jonkerstraat, tot Topsy Smith, en selfs Morkel van Tonder. Maar geen Barend Toerienstraat nie. Sy “aartsvyand” TT Cloete is ook onlangs vernoem, en Barend sou seker ʼn tikkie genoegdoening ervaar het dat die munisipaliteit droog gemaak het, en toe die straatnaam aanvanklik as JJ Cloete aangebring het.

Verdien enige mens om so ʼn lang, kleurvolle lewe te hê, en dan verder net op boekrakke en elektroniese argiewe voort te “leef?”

Wie, indien enige, se plig of roeping is dit om sy werk onder die stoflaag uit te hou?

Barend is stellig nie die eerste en die laaste wat miskien net-net nie sterk genoeg was om as ʼn historiese baken vergetelheid te oorleef nie. Sy enigste regstreekse nasaat, ʼn dogter, het as Yank grootgeword, woon kinderloos in die VSA en kon volgens Barend destyds nie ʼn woord Afrikaans praat nie.

ʼn Mens voel dik die onlogiese aan – gister se doyen wat onder die name “Barend Toerien” en “Barend J. Toerien” saam amper 50 000 trefslae op Google kry – ʼn skrywersnul soos ek met amper ʼn miljoen trefslae. ‘n Mens voel nogal skaapagtig hieroor. Die Toerien-stamregister wat hy opgestel het sal verseker dat hy darem nog lank by die Toeriens sentraal sal staan.

Barend het geskryf, daar is oor hom geskryf. Nou kan nog net oor hom geskryf word, en mag die penne en toetsborde nie gou stil word nie, mag iemand af en toe die lus hê om iewers een van sy bundels af te stof en by ʼn geleentheid uit sy werk voor te lees.

 

[Hierdie brief het ook op die webblad Woes verskyn, aldus die skrywer- Red. ]

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Herman Toerien. Barend J. Toerien – ‘n jaar later.”

  1. Johann Lodewyk Marais :

    Barend J.Toerien was ‘n “moeilike” man, maar sy werk verdien om lewendig gehou te word. Die Afrikaanse letterkunde is geneig om vorige generasies skrywers te vergeet. Ons historiese bewussyn kan gerus opgeskerp word.

  •