
Gustav S. Preller (1875–1943) en Eugène N. Marais het ’n besonder hegte verhouding gehad. Preller het op die platteland van die ZAR grootgeword, voltooi nie sy skoolopleiding nie en begin as staatsamptenaar by die Departement van Mynwese werk. In 1898 trou hy met Hannie Preller, afstammeling van ’n familie wat ’n groot rol tydens die negentiende eeu gespeel het. Tydens die Anglo-Boereoorlog veg hy as artilleris in Natal en later in Oos-Transvaal. Vier maande voor die vredesluiting word hy as krygsgevangene na Indiё gestuur. Na sy terugkeer word hy deur Marais oorreed om nie na Argentiniё te emigreer nie, maar as joernalis by Land en Volk aan te sluit. Kort hierna gaan werk hy by De Volksstem totdat hy in 1925 redakteur van Ons/Die Vaderland word. Hy tree in 1936 in hierdie pos af en vestig hom op sy plaas Pelindaba. Hy sit sy geskiedskrywing en insameling van historiese bronne vir die Staatsargiefdiens hier voort. Na sy dood op 6 Oktober 1943 word hy op sy plaas begrawe.
Preller het ’n belangrike rol op kulturele en politieke terrein gespeel. Deur bydraes op verskeie terreine beywer hy hom vir die bevordering van Afrikaans. Hy is onder meer betrokke by die stigting van die Afrikaanse Taalgenootskap en die Z.A. Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. In 1910 bring hy ’n Afrikaanse tydskrif, Die Brandwag, tot stand. Benewens sy joernalistieke bydrae, lewer hy ook beduidende werk as prosaïs (Oorlogsoormag en ander sketse en verhale, 1923, en Ons parool, 1938), literêre kritikus, historikus (studies oor Piet Retief, 1906, en Andries Pretorius, 1937) en vertaler. Hy beywer hom vir sowel natuur- as kultuurhistoriese bewaring, byvoorbeeld deur die versorging en uitgee van ou dagboeke soos dié van Louis Tregardt (1917). Hy neem ook aan die Afrikaanse toneel deel en skryf die draaiboek vir die rolprent De Voortrekkers (1916).