Persvrystelling: Nuwe Ingrid Jonkerprys-komitee

Danie Marais

Danie Marais

Nadat Rustum Kozain op Vrydag, 17 September, as sameroeper van die Ingrid Jonkerprys-komitee onttrek het, het Danie Marais en Gus Ferguson (die oorblywende lede) ‘n nuwe komitee saamgestel. Louis Esterhuizen, prof. Ronel Foster (de Goede) en Finuala Dowling is as nuwe lede bevestig.

Die nuwe komitee verseker die leserspubliek dat die kritiek op vanjaar se nie-toekenning van die prys ter harte geneem is. Daar word onderneem om die prys wel toe te ken indien daar onder die aanspraakmakers ‘n waardige wenner is. Die termyn vir beoordeling sal dus nie aangepas word nie en geen digters sal benadeel word nie.

Die nuwe komitee beoog om die Ingrid Jonkerprys in ‘n reglement te formaliseer en die werking van die komitee voortaan meer deursigtig en verantwoordbaar te maak. ‘n Tweetalige voorstel vir ‘n reglement sal teen middel-November aan die media gesirkuleer word. Enige voorstelle is welkom en kan na die Versindaba-brieweboks gestuur word by versindaba Die publiek sal ook ná die bekendmaking van die voorgestelde reglement twee maande hê om kritiek en kommentaar te lewer.

Marais en Ferguson sê hul twyfel geensins aan Kozain se bona fides nie. Die besluit om die prys te formaliseer en die werking van die komitee en beoordelingsproses meer transparant te maak, is juis geneem omdat Kozain baie sterk voel oor die tradisie en belang van die Ingrid Jonker-prys. Die idee was om die prys meer media-prominensie en prestige te gee. Die debat in die pers het die noodsaak vir formalisering onderstreep en die komitee sal daarvan werk maak.

Danie Marais

Voorlopige Sameroeper: Ingrid Jonkerprys-komitee

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Persvrystelling: Nuwe Ingrid Jonkerprys-komitee”

  1. Johann Lodewyk Marais :

    Sterkte met hierdie belangrike taak, Danie! Terloops, dit het tyd geword om die geskiedenis van die Ingrid Jonker-prys op te teken. Dit kan onder meer boeiende lig werp op byna vyftig jaar se (Suid-)Afrikaanse poësie sedert die venuwing van Sestig en die wyse waarop ’n “reglementlose prys” heel goed daarin geslaag het om te oorleef.

  2. Joan Hambidge :

    Jo Prins in Beeld

    Jonker-prys wel toegeken ná ’n ‘gehiefel, gefiefel’
    2010-09-20 21:38
    Jo Prins
    Die Ingrid Jonker-prys gaan nou tog toegeken word.

    Dít gaan gebeur ná die bohaai in letterkundige kringe toe die digter Rustum Kozain vroeër vandeesmaand aangekondig het dié gesogte prys gaan nie vanjaar toegeken word nie.

    Dit sou die eerste keer in meer as 40 jaar wees dat dié prys in die lug bly hang.

    Dit word jaarliks aan ’n debuutbundel toegeken, om die beurt vir poësie in Afrikaans en Engels.

    Die digter Danie Marais, voorlopige sameroeper van ’n nuwe komitee vir die prys wat eersdaags vergader, het in ’n verklaring gesê Kozain het intussen as sameroeper onttrek.

    Marais en Gus Ferguson (die oorblywende lede) vorm nou ’n nuwe komitee saam met Louis Esterhuizen, prof. Ronel Foster (de Goede) en Finuala Dowling as nuwe lede.

    “Die nuwe komitee verseker die leserspubliek dat die kritiek op vanjaar se nie-toekenning van die prys ter harte geneem is.

    “Daar word onderneem om die prys wel toe te ken indien daar onder die aanspraakmakers ’n waardige wenner is.

    “Die termyn vir beoordeling sal dus nie aangepas word nie en geen digters sal benadeel word nie.”

    Prof. Joan Hambidge, een van die digters wat fel kritiek teen die oorstaan van die prys gehad het, het die nuus verwelkom.

    “Dit is uitstekend dat daar ’n nuwe komitee saamgestel is.

    ’n Mens is veral dankbaar dat Louis Esterhuizen daar is om ten minste ’n infrastruktuur te bied vir die komiteelede.

    “Dit is goeie nuus om te verneem dat die prys wel hierdie jaar bekend gemaak sal word.”

    Hambidge meen wat die komitee ter harte moet neem, is dat hulle die prys moet administreer en nie moet herformuleer nie.

    “Die komitee se sloerstaking en gehiefel en gefiefel het bewys: Laat die tradisie van die prys met rus.”

    Die nuwe komitee beoog om die Ingrid Jonker-prys in ’n reglement te formaliseer en die werking van die komitee voortaan meer deursigtig en verantwoordbaar te maak.

    ’n Tweetalige voorstel vir ’n reglement sal teen middel November bekend gemaak word.

    Daarna sal die publiek twee maande hê om kritiek en kommentaar te lewer.

  3. Dusty Wordsworth :

    I have followed this debate with interest. (And why was there no coverage of the matter in the English papers? Shame on you, Cape Times!)

    In fairness, it has to be noted that the quoted newspaper story above, which quotes the person who posted the quoted story :), wrongly creates the impression that the critics have achieved a victory over the Jonker committee and made them give in. Not so on at least the two most important points:
    1. That the prize not be awarded in future if the standard of work is not good enough.
    2. That a “constitution” be written for the prize before te next award be made.

    These are the two points that critics such as the above one contested. Neither the previous committee nor the present one have backed down in these points, and neither should they.
    Why does professor Hambidge create the impression that there was a walkover of the Jonker committee?

    Dream on.

  4. Joan Hambidge :

    Dusty

    Jou punte is belangrik. Ja, waar was die Engelse pers en die Engelse digters? Ek begelei net Afrikaanse digters en staan verstom dat Engelse digters nie opkom vir jong Engelse digters nie. Dit daargelaat.
    Die “walkover” waarvan jy praat, is ten minste tersaaklik in die sin dat daar beweging is. Sowel Kozain as sy voormalige komitee is verantwoordelik vir die impasse. Hoe het dit gebeur dat een persoon besluite kon afdwing? Sover ek dit verstaan, gaan die reglemente hersien word en, nota bene, kommentaar sal gevra word. So die Afrikaanse kritici sal nie toelaat dat hierdie prys verloeder word nie. Jy sou opgelet het dat verskeie digters soos Daniel Hugo, Johann Lodewyk Marais en Johann de Lange saam met my beswaar aangeteken het. Die “walkover” is in jou kop.
    Daar is net blydskap dat daar ten minste erken word dat daar wyer ongelukkigheid is oor ‘n lang sloerstaking en dat ‘n nuwe komitee aangewys is wat sake vorentoe sal neem. Ek kon met die beste wil nie begryp waarom dit solank moes neem om alles in plek te kry nie.
    Maar ten minste bly dat die nuwe komitee aan die werk is.

  •