Uitgefees …

Prof. Dorothea van Zyl

Prof. Dorothea van Zyl

Nou ja, toe. Daar is die 6de Versindaba nou ook afgehandel, afgestof, opgevou en weggepak. En watter fees was dit nie! Soos ek verlede week al laat blyk het in my voorskou, is dit ‘n onmoontlike taak om spesifieke hoogtepunte uit te sonder …

Wat ek wel onomwonde kan stel is dat daar hoegenaamd níks is wat selfs die mees krities ingesteldes van die etlike honderde mense wat die fees bygewoon het, by wyse van “dis net jammer dat …” sou kon opper nie. Van die keuse van lokale, saamstel van program, verwisseling tussen “harde” inhoud en “sagte(r)” inhoud, verversings, aanwysings, ensovoorts, ensovoorts. Nommerpas. Prof. Dorothea van Zyl, Melt Myburgh (wat in sy hoedanigheid as woordkuns projekbestuurder byna uitsluitlik verantwoordelik was vir die reëlings) en die res van die Woordfees-beheerspan (Eduard Rosenstrauch en Jana Hattingh) het hulle myns insiens uitstekend van hul taak gekwyt.

MM Walters

M.M. Walters

Maar hierdie Nuuswekker wil tog oor ‘n bepaalde hoogtepunt handel. En dan is dit beslis die huldeblyk aan M.M. Walters wat vroeër vanjaar 80 geword het. Net sy rustige teenwoordigheid in die saal was reeds besonders, maar dit was prof. Dorothea van Zyl se bondige huldeblyk wat ‘n mens opnuut laat besef het watter unieke en belangrike digter M.M. Walters inderdaad is. Haar huldeblyk is opgevolg met ‘n keur uit M.M. Walters se oeuvre wat deur die bekende woordkunstenaar, Johann Nel, voorgelees is.

Wat my egter van dié fees sal bybly, meer so as die uitstekende bydraes deur soveel deelnemers, is die opsigtelike plesier wat die bywoners aan alles gehad het. Die glimlaggende gesigte in die gehoor, waarderende applous. En ai, al die gesprekke! Almal opgewonde en entoesiasties oor die één ding wat ons hierdie naweek uit ons huise en ander skuilhoeke gelok het: die digkuns.

Watter voorreg was dit nie om deel hiervan te kon wees nie. Terloops, vir ‘n meer omvattende verslag van die fees kan jy gerus Willem de Vries se berig op Die Burger se Boekeblok gaan lees.

As verdere toegif plaas ek vanoggend M.M. Walters se skitterende vers “Skeepsverslag: Titanic” onder aan die Nuuswekker. (Hemel, watter impak het dié vers nie gehad toe Johann Nel dit voorgedra het nie!)

Lekker lees.

***

Sedert Vrydag het daar nuwe bydraes deur Desmond Painter en  Rustum Kozain bygekom. Desmond skryf oor die filosoof Jean-Luc Nancy en Rustum reageer verder op die Ingrid Jonker-debat. (Ons hoop om binne enkele dae nog nuus oor dié aangeleentheid te kan verskaf.)

Dan is dit ook Saterdagaand aangekondig dat Breyten Beytenbach vanjaar se wenner van die Proteaprys vir poësie is. Ons het dr. Nicol Stassen, hoofdirekteur van Protea Boekhuis, se persvrystelling geplaas, en ook Breyten Breytenbach se dankwoord. Inderdaad ‘n besonderse bekroning en welverdiend.

Geniet die week wat op hande is.

Mooi bly.

LE 

 

Skeepsverslag: Titanic

 

 

Hollanders het die skip beplan, maar dit was

Engelse wat gebou en uiteindelik geloods het –

en almal is tog ou kenners van die water.

Nietemin te veel was die geloof en selfversekering

dat niks hom kon laat sink nie:

het die beskermheer van skepe dan nie self

die projek gewil nie, dié invaar in die donker,

dié wit eiland van lig en glansende weerkaatsing…

 

Agterna gesien, was die toerusting onvoldoende.

Die skokkendste erkentenis: geen verkykers of soekligte.

Maar luukses was volop en uitspattig: marmer-

vuurmaakplekke, dubbele toilette, miniatuurgholfbane,

swembaddens, rye kroeë en hemelbeddens

waarin die rykes kon hoereer, selektief, privaat,

terwyl hul voortvaar na die beloofde land,

hulle skatte veilig in die kluise.

 

Sender van kleiner skepe het gewaarsku:

julle vaar in ʼn gevaarlike seisoen, daar’s ʼn kilte

in die lug, ysberge in die onbekende water

en vol verandering is die warrelende winde.

Maar die luuksereus was doof, sy antennes

ingestel op uitstraal, nie interpreteer nie.

Bowenal wou sy kaptein hom nie laat steur nie,

nié deur kapteintjies wat nie kaarte ken nie.

 

Die ysrots was nie sigbaar in die nag nie

en die staal móés skeur toe dit nie meer kon buig nie.

Chaos het geheers in offisierskajuite -reddingsbote

is nie eens almal neergelaat nie,

wanhopige passasiers het in die see gespring

en dié wat nie die moed had of bly hoop het,

het op die agterstewe saam met die orkes

bly sing: Nader my God by U – onverstaanbaar

sê enkele oorlewendes, omdat die woorde in Afrikaans was.

 

 

(c) M.M. Walters (Uit: Groot Verseboek, Deel 2, 2008: Tafelberg)

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Uitgefees …”

  1. maria :

    Die optredes van Scottsville se Piemp-digters was definitief vir my een van die hoogtepunte – ek wens hulle almal net die beste toe! Terese Hulme kan dalk ‘n boek skryf oor hoe sy haar ding daar gedoen het – ek dink sy het iets baie wonderlik reggekry. Daar is nog baie ander kinders wat wag vir sulke leiding en motivering, en baie onderwysers sal kan baat by ‘n paar praktiese rigtingwysers van haar. Om jongmense so lekker ‘slinks’ met taal en stralend te sien was baie mooi!

  •