
Onlangs het Leon Retief ‘n wonderlike blog gelewer oor die Skotse digter William McGonagall, wat allerweë beskou word as die swakste digter wat ooit geleef het. Pas het daar nou ‘n biografie uit die pen van die historikus Norman Watson oor dié weergalose digter verskyn. Volgens ‘n berig op The Telegraph se webtuiste blyk dit nou dat McGonagall Asperger se sindroom onder lede gehad het.
Volgens die berig baseer Watson hierdie aanname grootliks op die volgende: “Dr Watson cites as evidence the poet’s indifference to public humiliation – he spent much of his career being pelted with flour, fish and eggs at public readings and on one occasion was knocked out by a brick – and ‘an astonishing repetition of phrases’ in his doggerel.” In Watson se eie woorde: “McGonagall showed significant difficulty in social interaction – he made people laugh but seemed to remain insensitive as to why. The lack of demonstrated empathy is said to be possibly the most dysfunctional aspect of Asperger’s, while not recognising a listener’s feelings or reactions is another form of social awkwardness associated with it.”
Die bekende Skotse sielkundige, professor Tommy MacKay, wat ‘n kenner is van outisme en hoogleraar aan die Strathclyde Universiteit, stem met Watson saam: “It’s certainly quite possible. People who have Asperger’s characterise it by impairments in reciprocal social interactions, so their ability to read the signals is very poor. They can come across as being very thick skinned and unable to read between the lines and sometimes even read the lines themselves.”
McGonagall was vir etlike jare verbonde aan die sirkus van Dundee. Sy optrede het uit die voordra van sy gedigte bestaan waartydens die gehoor hom uitgejou het en met eiers, meel, aartappels en wat nog gegooi het. Sy optredes het gewoonlik met soveel baldadigheid gepaard gegaan dat die stadsraad dit later glo verbied het.
Ai. En die arme man dog die heeltyd dat hy die mees vername digter naas Robert Burns is.
Gaan loer gerus weer na Leon Retief se stuk oor McGonagall vir voorbeelde van sy legendariese gedigte.
***
Vanoggend kan jy Daniel Hugo se bydrae tot Keelskoonmaak lees; ook Umuzi se uitnodiging vir bydraes tot ‘n bloemlesing wat hulle beoog na aanleiding van die onlangse US Kollokwium. Aan die blogkant van sake is daar bydraes deur Desmond Painter en Vrouwkje Tuinman.
Hê pret met alles hier in die middel van die week.
Mooi bly.
LE
Lewies, ek dink ook hulle kan maar dig en mal gaan. Maar meeste mense wat sit en jam by die huis met ‘n kitaar koop nou en dan ‘n CD; so dit is vreemd dat diegene wat sit en dig nie self nou en dan gedigte wil lees nie. Of dalk ook nie so vreemd nie: op skool is hulle seker ook maar ingeprent dat gedigte, soos wiskunde, droog en moeilik is… Toevallig was hulle oor wiskunde ook verkeerd, vermoed ek.
Sekerlik het elke verliefde jongmens se hormone hom of haar al tot die digkuns gedryf, dan kan ons aanvaar derduisende gedigte word elke dag geskryf. Die webwerf waarna ek verwys funksioneer meer soos ‘n sosiale netwerk , ‘n ontmoetingsplek vir geselsies en vriende maak as my afleiding korrek is. Ek wil darem nie pleit dat die massas moet ophou dig nie. Ek glo om te dig is maar deel van die mensdom se psige.
@Louis, sommige sal ek maar se amateur digters sal moontlik beter gedigte kan skryf as hulle wel gedigte lees, maar ek twyfel of meeste enige verbetering sal toon. Ek ken ten minste sommige van my beperkings, en dig is een van hulle. Maak nie saak hoeveel gedigte ek lees nie, dig sal ek nie kan dig nie.
Maar die vraag is dan steeds: waarom kies mense wat net ‘gevoelens’ wil uitstort dan juis die gedig as vorm; ten spyte van die feit dat hulle nie self moontlik nooit gedigte lees nie? Waarom skryf hulle nie eerder prosa of teken nie? Dalk agv die alomteenwoordigheid van poplirieke? “It’s ony words, and words are all I have…” en so aan…
Op ‘n ander noot. Ek het in Engeland gesien Faber & Faber (ek dink dit was hulle) gee sulke dun, goedkoop, sommer gekramde (eerder as gebinde) bundeltjies uit van veral jong digters — gewoonlik voor daardie digters genoeg verse het vir ‘n solobundel. Ek het nogal gehou van die terloopsheid en voorlopigheid van die formaat. Ek wens ons dit kon hier ook posvat, ‘n bundeltjie met bv. 15 verse teen bv. R40 ‘n kopie. ‘n Nuwe Stemme-reeks met individuele titels.
Wel, eintlik (en soos Wysneus sou weet) sou ek verkies dat die staat (dmv die Lotto) kuns en letterkunde tot so ‘n mate subsidieer dat ‘n mens sulke bundeltjies kon maak en teen R5 ‘n kopie in kafees verkoop, of dat dit in die oggend saam met die melk afgelewer word. O ja, die melk word nie meer afgelewer nie.
Twee opmerkings by wyse van klip-in-die-bos: In 2007 het Lina Spies tydens haar Dana Mouton gedenklesing die opmerking gemaak dat ‘n swak gedig nié poësie kan wees nie. Die implikasie van dié siening is dus dat daar nie iets soos swak poësie kan wees nie.
Tweedens, waarskynlik is daar die derduisende “digters” wat swak verse maak, júís omdat hulle nooit gedigte léés nie. Dit bly ‘n selfgesentreerde, selfbevredigende en selfbehepte aktiwiteit en die eindresultaat is presies dit. Spookasem.
Maar ai. Dink net as almal wat gedigte maak maar één bundel per jaar koop …
Leon, dit is nogal merkwaardig, ja. Die een kunsvorm waar daar meer produsente en produksie as ‘konsumpsie’ is…
@Desmond: Nee Desmond, dis nie jy nie 🙂
Oor Lewies se “woeste” plek op die internet – ek het so ‘n paar maande gelede daarop afgekom, heel per abuis. Het net ‘n paar dosyn “gedigte” gelees. My gunsteling begin so:
Die hartseer hang aan die boom se tak
Dit kry geen plek om vas te hou
Dat soveel mense gedigte probeer skryf maar tog nie digbundels koop nie is vir my eienaardig.
Daar is ‘n woeste plek op die internet, hul argief bevat 63708 gedigte, 378 nuwes is die laaste sewe dae bygevoeg. Eintlik ongelooflik as mens daaraan dink. Daar is heelwat juweeltjies soos hierdie paar reels van die mees onlangs geplaasde gedig;
(Ek sou my koninkryk gee..
as ek maar net kon)
want soos ‘n hardekoolvuur Hannie
wat gloei uit sy pit
brand my menswees vir jou
en ek mis jou verskriklik
en ek kan niks daaraan doen
en dis dit.
Leon, is dit ek? (Jy sien, ek val op die paranoide spektrum…)
Dankie Louis, interessant. Het nogal gewonder of hy nie iewers op die outisme-spektrum val nie maar wou nie spekuleer daaroor nie.
@Elize: Moet dit ‘n digter wees wat op papier publiseer? Ek het een wat op die internet publiseer opgespoor maar dit sal seker wreed wees om die arme ou se geskrifte hier ten toon te stel.
Dalk kan die mense wat vir Versindaba skryf ‘n debat hou oor wie die swakste Afrikaanse digter ooit was. Dit sal pret wees.