’n Bietjie meer as ’n maand gelede het die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) sy veertigste bestaansjaar met ’n dinee gevier.
By dié gesellige geleentheid moes ek dink aan een van die stigterslede daarvan: wyle mev. Helen Cilliers, kort- en vervolgverhaalskryfster vir tydskrifte soos Huisgenoot en Rooi Rose, doer in die negentien-sestiger- en -sewentigerjare. Sy’t vir my Engels gegee toe ek in standerds 8 en 9 was.
Lywige mens gewees. As suikersiektelyer nie altyd alte wel nie. Soms was sy verplig om vanagter haar tafel te sit en klasgee.
Haar spitsvondig- en wyshede, haar gebare- en taalratsheid het egter ons aandag só vasgegryp dat ons skaars die sittery agtergekom het. Soos ’n goeie toergids waarvan ’n mens naderhand vergeet dat hy ook die bus aan die bestuur is.
Dat heelparty van ons adolessente die pynlik mooie jeugliefde aan ‘t ontdek was, het sy goed geweet. Daarom kon sy ons met Shakespeare se Romeo and Juliet ongekende soetighede van taal laat smaak, al was ons Boerkind-tonge hóé onwennig met die Ingels.
This bud of love, by summer’s ripening breath,
May prove a beauteous flower when next we meet.
Hoe sy agtergekom het dat ek ’n literêre aanvoeling het, weet ek nie mooi nie. Uit my na vore gesukkelde Engelse opstelle sou sy dit nie kon raai nie.
Maar op ’n dag skenk sy my twee boeke: Eugène Marais se Dwaalstories en ’n bloemlesing Engelse vertalings van kortverhale deur Russiese meesters. En nooi my na ’n byeenkoms van die pas gestigte BSV.
Die dag ná die byeenkoms vra sy my hoe ek die aanhoor en bespreek van mekaar se skryfsels ervaar het. Skêrie, Miss, moes ek radbraak. Ek’t trouens die vorige aand toegeklamp soos ’n skulpdier.
“Language is a communal adventure,” het sy bo my vuurmaakplek gesê, “truly experienced in the individual minds of those who write and read.” Soms is dit nodig om te sien en hoor of jou skryfwerk iets uitrig, het sy ook gemaan.
Dit was daardie selfde tyd Die Jaar van Ons Groen Erfenis. Een van die bewusmaakprojekte het provinsiale opstelwedstryde vir skoliere behels, geborg deur Coca Cola. Ek’t stert gegooi diékant toe en daaikant toe, maar mev. Cilliers het deur my Afrikaansonderwyser aangedring ek moes inskryf.
En daar wen ek toe ’n prys. Aangekondig by ’n whaain-en-daain en als. Elke week, ses maande lank, kry ek ’n kissie met 24 King Size-botteltjies gaskoeldrank. Afgelewer by ons huis. Elke Vrydag moet die groot Coke-lorrie in elk geval op sy afleweringsrondte by die winkeltjies langs ry in die hoewekontreie om Bloemfontein, en dan draai hulle sommer by Oranjeweg ook in na ons plot toe.
By die eerste aflewering kry ons ’n volle besef van die gedoente. Want die tweespoorpaadjie na ons opstal het die laaste vyftig treë onder kersie- en amandelbome deur gelei waarvan die oorhangende takke bokant, in ’n soort katedraalnok, ontmoet het. Plek-plek heeltemal te laag vir die hoë vragmotor. Eers het ons probeer om, waar dit haak, die takke met harke en houte op te du, dat die gevaarte kan deurkom. Ten einde raad moes Pa egter ’n hele paar groot takke laat afsaag, homself getroostend dat dit in elk geval ’n spul uitheemse bome was.
Ander skade was op die grasperk waar die lorrie – die kissies op sy rug volgens verskillende koeldrankgeure op skuins rakke gestapel tot ’n rinkelende korf kleur – moes vorentoe, agtertoe, vorentoe om óm te kan draai grootpad toe.
Elke einde van die week, as alles oor was, lê die wielvore voor die huis. En staan die enkele kissie koeldrank daar.
Pa en Ma het gesê niemand anders raak aan daai koeldranke nie; dis mý gewin. Tog het ek gevra of ek maar mag uitdeel: aan ntate Pule wat die takke moes afsaag en die wielvore moes opvul; aan sy vrou Nuku en sy kinders Kamohelo, Sehabata en Makháti; aan my jonger broer wat saam met my die buitekamers bevolk het; skoolvriende wat dalk kom kuier het. Pa en Ma wou nie hê nie. Maar teen Saterdagmiddag was alles gewoonlik op.
Vir my was dit eintlik genoeg om die krag van die woord in die gedaante van daardie arriverende vragmotor te sien.
Bowendien, die beoordelaars van daardie opstelwedstryd het nie hulle storie goed geken nie. Byna ’n vyfde van my wenopstel – omtrent ál die treffendste passasies – was brokke oorgehewel uit ’n Kriskras-rubriekbydrae van Chris Barnard in Huisgenoot.
Die gedagte dat ek die wedstryd gewen het omdat ek gulsiger as die beoordelaars gelees het, het my gewete so byna gesus.
Golden Gate ken ek darem. Ek het vergeet. Die winterlig daar is baie, baie spesiaal. Ook maar onlangs leer ken. En Clarens, Fouriesburg. (Ek wou nog byvoeg voor ek jou gevra het, Bernard: behalwe daai dele van Oos-Vrystaat.:))
Maar daai ander plekke waarvan jy praat, skryf ek neer. Marquard klink of dit gemaak is om nommerpas op iets belangriks te rym, mens moet net uitvind wat.
Ek was eenmaal vir ‘n vakansie Golden Gate toe. Was wonderlik.
C-P, dankie.
Die Maselspoort-vakansieterrein buite Bloemfontein, op die oewer van die Modderrivier, bied verblyf teen redelike pryse. (Moenie dat die eiename jou ontmoedig nie; mens raak nie sommer siek of besmeer hier nie!)
Google (goegeloer, soos Joan sou s^e) ook ‘n bietjie vir verblyfgeriewe op Philippolis. Louis Esterhuizen sal met entoesiasme oor daai mooi dorp vir jou kan vertel – hy’t as kind ‘n hele paar somers daar by sy ouma deurgebring.
Dan’t Gariepdam-dorp onlangs die louere weggedra as toerismedorp van die jaar in die Vrystaat, en verlede jaar Marquard, Gilbert Gibson se skoolgaandorp. Lieflik daar ook.
As jy lus het vir sandsteenkranse en -koppe moet jy Clarens, Golden Gate of Harrismith toe. Johann Lodewyk Marais kan jou meer daaroor vertel.
Van die kontreie weswaarts van die lyn Bloemfontein-Winburg-Kroonstad praat die mense deesdae op Ingels as “Big Sky Country”. Vlaktes gras, mielies en koring, met bruin spruite hier en daar, en waterpanne waarop plate pienk flaminke hierdie tyd van die jaar waad. Opstalle tussen bloekomgeboomtes, sommige as gastehuise toeganklik.
Kom kuier as jy hierlangs kom.
Ek vind jou taferele oor die Vrystaat werklik besonders, Bernard. Of dit nou in gedigte is of in prosa. Miskien omdat ek die Vrystaat net ken van deurry (meestal). So dis ‘n hangende geur, vir my, niks meer, hoewel my ma daar grootgeword het. Weet jy van ‘n lekker plek waat mens ‘n Vrystaat-wegbreuk in Desember kan geniet? 🙂
Bly jy’s terug in Blogland, Bernard! Jou storie oor die kissie Coca-Cola laat my dink hierdie is jou eie nota uit empire… 🙂