Charl-Pierre Naudé.M M Walters – Apochrypha

Wat ’n onverdunde leesplesier. Ek het hierdie bundel gelees toe ek so agtien jaar oud was, maar kan my nie herinner dat dit my aangegryp het nie.

Óf die bundel óf ek het intussen grootgeword.

My geleende kopie is nog dieselfde geel omslag as die een wat ek by die biblioteek (toe biblioteke in Suid-Afrika nog genoegsaam bestaan het) in Nahoon in Oos-Londen as skolier uitgeneem het. André Brink gee tereg aan M.M. Walters ’n soort “gerehabiliteerde” (na blyke) erkenning in die nuutste Groot Verseboek. Dis ’n erkenning wat aan die Groot Verseboek luister verleen.

Walters is histories onnodig onderspeel in die Afrikaanse digkuns. En dit het waarskynlik te doen met sy aweregsheid, met sy eie sterk renons in die kleinburgerlikheid van enige sosiale aanvaarding, en dalk ook met die oorheersing van Calvinisme, selfs in die letterkunde.

Want Walters is nie ’n vriend is van die “gereformeerde gees” nie. Laasgenoemde kom beslis nié droogvoets deur Walters se Rooisee wat die pretensie van die essensie so flymskerp skei nie.

Dié digter is ’n genadelose sosiale kritikus. Ek sou sê sy digterlike gees is absoluut navolgenswaardig vir enige digter van Suid-Afrika se toekoms. Ons het sulke digters nodig. Jonger digters moet kennis neem van hierdie vakman. En watter vakman is hy nie!

Syne is ‘n sterk intellektuele digterskap (dis ’n aristokratiese digterskap wat hier aan die woord is), maar terselfdertyd heerlik toeganklik vir Jan en Alleman.

Die gedigte in Apochrypha het ‘n manier om die mees bekende faset van ‘n bepaalde, oorgelewerde Bybelverhaal te aktiveer dat ’n nuwe leser wat nóg voldoende vertroud is met die meesterteks nóg met die eietydse “weergawe” daarvan, die gedigte maklik kan ontsluit.

Elke gedig het dieselfde titel, maar met ’n ander Romeinse numering: Apochrypha I, Apochrypha II, III, ensovoorts. Die verhale wat elke gedig deur middel van ’n sitaat oproep, kom uit die Bybel. Die gedigte self raak maar rakelings aan die meersterteks; in die gedig is dis gewoonlik die een of ander tema wat heel onverwags, heel grillig, in ’n onverwagse rigting uitskiet.

Soms sal hy ‘n absoluut niksseggende, onbelangrike Bybelteks skoon uit konteks as siteer as kapstok, en dáárop sy eietydse mymering bou. Sódoende gee hy ’n memorabele illustrasie van ’n apokriewe ingesteldheid.

Die gedigte is meestal satiries van aard maar daar is ook van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans hier. Walters het ’n moeitelose hand met erotiese beskrywings.

Apochrypha is (veral) ’n satiriese tydsdokument wat die spot dryf met die hoogbloei van die (blanke) Afrikaanse kultuur tydens die Nasionale Party-bewindstydperk. Die gedigte het glad nie ge-date nie. Vir diegene wat terughunker na die vleispotte van apartheid, is hierdie bundel waarskynlik ’n moet, veral diegene wat nooit in daardie tyd gelewe het nie. Dit was NIE maanskyn en rose nie. Walters teken die verval van Rome hier in al die bose kleure van selfgenoegsame vergaan. As jy dink Julius Malema en sy soort is die eerste selfingenome plunderaars van Suid-Afrika, dink weer. Lees gerus die tydsdokumente.

Walters is ooglopend deur Van Wyk Louw beïnvloed, maar nooit derivatief nie. Sy resonerende beeldgebruik, die effens losser metra (maar nie minder sekuur nie), die moeitelose wyse waarop die “stellasies van die vers” soos ’n voubiljet in die bestek van een of twee reëls roekeloos kan uitflapper en net daarna weer “invou”, kamstig ingetoë, dis alles dinge wat sy eie is. Trouens Walters is ’n koordloper van allerlei fyngespanne balanse, nie die minste in hoe hy klassieke bowetone met hedendaagse platvloersheid saamweef nie. Dis ’n truuk wat die Latynse en Griekse digters, veral die Latynse, baie goed geken het. Want die Romeine het baie ooreenkomste met die Afrikaners, waarvan die mengsel van aristokratiese ideaal en die landelike, dikwels platvloerse afkoms, maar een is. Nie verniet nie het ek Walters saam met M. D’Hane-Scheltema se briljante Nederlandse vertaling Metamorphosen, van Ovidius, gelees nie.

Walters gee te kenne dat hy deur die Latynse satirikus Juvenalis beïnvloed is.

Wat betref versmetrum kan M. M. Walters as emblematies geag word. Selfs meer so as N.P. van Wyk Louw of Opperman. Ek vind Walters veel soepelder as beide die twee Afrikaanse meesters. Die hedendaagse vertellende vers kan gerus gaan afkyk by sy loslit metriese tegniek. Dis verse binne die retoriese tradisie, maar genoegsaam vry, selfs roekeloos, om leidrade aan hedendaagse “geselstrant”-digters te verskaf.

Waarvan die vernaamste leidraad waarskynlik die volgende kan wees: Roekeloosheid in die woordkuns vra dikwels om die allerstrengste dissipline.

En een ding wat Walters se Apochrypha nie is nie: dis nie formalisties nie, soos soms van die vaster verse wat byvoorbeeld deur sogenaamde “tagtiger-digters” gelewer is. Ek het reeds ’n bloginskrywing gehad oor wat ek verstaan onder formalisties. Dis wanneer die leser die gevoel kry dat ’n gedig in ’n dwangbuis van vorm geplaas is, of dat die inhoud nie veelvlakkig genoeg sinchroniseer met die gekose vorm hetsy sonnet of pantoen of villanelle of watse frikkadel ook al. Met ander woorde, so tipies van die verbruikerskultuur: gebottelde en geblikte gedigte.

Walters stoot die retoriese tradisie tot aan die rand van die geselsvers. Hy doen dit oënskynlik deur in die  op metrum (veral), assonansie en alliterasie te konsentreer eerder as op ryme, halryme en binnerym en dergelike ander vaste vormelemente. Wanneer hy wel rym gebruik is dit heeltemal onderhewig aan die metrum en gee die rym ‘n indruk van toevalligheid. Die gevolg is die leser kry ’n gevoel van ’n voortstromende, uiters beweeglike vers – maar immer-elegant.

Dis gedigte wat gemaak is om voorgedra te word. Die Afrikaanse eksplosiewe (klanke) maak musiek op hierdie bladsye hoor, soos min.

Die titel beteken apokriewe weergawes. Die apochrypha is evangeliese of Christelike boeke wat alternatiewe weergawes van die Christusverhaal bevat en dikwels die Bybel weerspreek. Apochrypha bekragtig die uitkringende metaforiese toepasbaarheid van die meesterteks terwyl dit puristiese en fundamentalistiese belewenisse daarvan (mens kan selfs sê onkritiese gelowige belewenisse) met ’n lag en ’n traan verdoem.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Charl-Pierre Naudé.M M Walters – Apochrypha”

  1. Desmond :

    Fassinerend. Ek ken Walters se werk omtrent glad nie. Ek sit hom op my leeslys.

  2. Charl-Pierre Naude :

    Walters was voor my tyd. So ek herinner my dalk verkeerdelik dat in die een of ander bundel genoem, of in die trant van, “Gesprekke met skrywers”, hy apologeet van aspekte van die vorige regime blyk te gewees het. Dit ontkrag myns insiens egter nie wesenlik die politieke en sosiale satires in Apochrypha nie.

  •