Charl-Pierre Naudé.Nuttelose begrippe vir die poësiekritiek (2)

Oftewel opportunistiese begrippe.

My eerste aflewering oor nuttelose begrippe in die poësiekritiek het enkele maande gelede verskyn. Dit het krities gestaan teenoor die maatstaf  “getal bundels gepubliseer” as na bewering positief bydraend tot ’n digter se “waarde”.

In daardie blog het ek geargumenteer dis ’n irrelevante maatstaf, inderdaad ’n sinnelose dwaling, om te oorweeg as maatstaf van poëtiese bydrae.

As digkuns ‘n godsdiens was, wat dit wel vir sommige piëtistiese siele is (mag hul sole altyd bles wees, met ander woorde geseënd van onder af boontoe), sou mens kon praat van ‘n dwaalleer.

My tweede aflewering vandag handel oor die sogenaamde maatstaf “tematiese vernuwing”. (Verskoon enige didaktiese toon, ek skryf ’n blog en dit impliseer ’n mate van telegramstyl.)

Mens lees dikwels So-en-so het “tematiese vernuwing” (sic) in die digkuns gebring. Hoe so, vra mens. “Nee”, kom die antwoord, “daar het nie eintlik in onlangse tye ekologieverse verskyn nie.” Of: “So-en-so, en sus-en-sus, het die gay tema in die Afrikaanse digkuns ingelui.” Dan kry jy sommer as gepubliseerde opstel in ‘n boek van die kritiek, iets in dier voege: “Die gay tema as vernuwing in die digkuns”!

Nog so ’n voorbeeld is “reisgedigte” of “natuurgedigte”. Dan is daar die welbekende onlangse aanwyser, “ex-pat gedigte”. Vernuwend? Omdat dit handel oor dolosse en nie oor eiers nie?

Nou die dag lees ek ’n heel pikante voorbeeld raak: So-en-so het so pas vernuwing gebring deur die eerste ware nekrofiliese verse in Afrikaans te skryf. Ek dink die bewoording was boonop “die eerste” om die tema van nekrofilie “aan te raak” (sic). 

Werklik? 

(Terloops, die tema van nekrofilie is nie onlangs in Afrikaans nie, dis al redelik breedvoerig as tema deur Breytenbach “aangeraak”. Miskien op meer metaforiese wyse.)

Die probleem met tematiese wendings as kategorie is dat tematiese wendings nie inherent aan die digkuns is nie.  Temas word deur verskeie dissiplines behandel en te berde gebring, waarvan die digkuns maar een van vele dissiplines is.

Ten einde enigsins poëties aanwysend te wees, sal die aanspreek van sulke  temas eerstens op die een of ander poëtiese manier moet gebeur. En die kritikus sal moet gaan aantoon hoe daardie bepaalde poëtiese manier “vernuwend” is en dit wel aantoon deur middel van die bespreking van bona fide poëtiese aspekte. Met “bona fide poëtiese aspekte” bedoel ek aspekte wat inherent is aan die digkuns, en nie ontleen is aan, of gedeel word deur, die een of ander ander dissipline soos die natuurwetenskap of die godsdiens, of reisagentskappe, nie.

(’n Effens moedswillige voorbeeld: Wat is die verskil tussen T.T. Cloete se tematiese vernuwing in sy “natuur-/plek-/reisgedigte” en haas enige reisbrosjure? Ek sou reken reisbrosjures is ’n hele paar tree voor, en behoort  Cloete summier in Groot Verseboek te vervang.)

Met ander woorde, tematiese behandeling in die digkuns is ten beste ’n tweede-orde aanwyser van enige iets. En dis slegs van waarde as dergelike tema inherente aspekte van die poësie aktiveer om anders te lyk (as synde poëtiese aspekte).

Dit sal beteken (myns insiens) dat ‘n digter nie poeties vernuwend kan wees weens (byvoorbeeld) sy gekose “ex-pat”-tema nie,  maar wel weens die modusse/wyse/stem/styl waarin hy/sy daardie tema uitdruk.

Wat is eerste-orde aanwysers dan? Hoe lyk dit? Dit sal aanwysers wees wat te doen het met modusse van waarneming + uitdrukking. Mens kan gaan kyk na die benamings wat sekere strominge gekry het: die simbolisme, akmeisme (Rusland), sensitiwisme, ensovoorts. Daar is vele.

Vir die doeleindes van hierdie skrywe, sou ek die digkuns in die volgende terme kon beskryf: Waarneming + uitdrukking = gekommunikeerde ervaring.

Temas dui wel ervaringsvelde aan, maar dit dui nie noodwendig gekommunikeerde ervaring aan nie, in elk geval nie poëtiese kommunikasie nie. Vir die digkuns is die kommunikasie van die ervaring integraal belangrik.

Wanneer ’n tema in die digkunskritiek sonder meer gelykgestel word aan vernuwing, word dit by implikasie gelykgestel aan gekommunikeerde ervaring, en  sonder om die wyses van kommunikasie in ag te neem.

Met ander woorde, dit slaan een van die kardinale terme in bogenoemde “formule” oor.

En dis myns insiens ongeldig.    

   

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •