
Nou ja, toe. Via The Guardian land ek op googleresearch se webblad waar daar ‘n artikel deur Dmitriy Genzel, ‘n sagteware ontwikkelaar by Google, is met ‘n verstommende aankondiging: Google is naamlik besig om ‘n program te ontwikkel wat gedigte metries sal kan vertaal … “Robert Frost once said, ‘Poetry is what gets lost in translation.’ Translating poetry is a very hard task even for humans, and is clearly beyond the capability of current machine translation systems. We therefore, out of academic curiosity, set about testing the limits of translating poetry and were pleasantly surprised with the results!”
In sy artikel wys hy op ‘n uitspraak deur Vladimir Nabokov wat beweer het dat dit nie moontlik is om die vorm én inhoud van ‘n gedig akkuraat te vertaal nie. Sy aanbeveling was dat ‘n vertaling veeleer op die korrekte weergee van inhoud moet konsentreer en dat die vorm in die vertaling versaak moet word. Die teendeel was egter deur Douglas Hofstadter gepostuleer en volgens Genzel was dit sy uitspraak wat as inspirasie gedien het vir Google se nuutste inisiatief: “Preserving the form is very important to maintaining the feeling and the sound of a poem. It is in this spirit that we decided to experiment with translating not only poetic meaning, but form as well.”
Enkele voorbeeld van die resultate wat reeds behaal is, is die volgende:
‘n Strofe uit Essai monographique sur les Dianthus des Pyrénées françaises deur Edouard Timbal-Lagrave vertaal in koeplette in iambiese tetrameter:
So here’s the dear child under land,
will not reflect her beauty and
besides the Great, no alter dark,
the pure ray, fronts elected mark.
Voltaire se La Henriade, vertaal as koeplet in daktiliese tetrameter:
These words compassion forced the small to lift her head
gently and tell him to whisper: “I’m not dead.”
Vir my was die hoogtepunt van Genzel se aankondiging egter die tong-in-die-kies kopknik na Edgar Allan Poe waarmee hy sy relaas begin:
Once upon a midnight dreary, long we pondered weak and weary,
Over many a quaint and curious volume of translation lore.
When our system does translation, lifeless prose is its creation;
Making verse with inspiration no machine has done before.
So we want to boldly go where no machine has gone before.
Quoth now Google, “Nevermore!”
***
En, ai. Vanoggend is daar niks nuuts om aan te kondig nie; die ideale tyd om in te haal op jou agterstallige leeswerk, dus. En die naweek met oorgawe te geniet.
Ons hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE
Ek dink nou terug aan die dae toe persoonlike rekenaars nog ‘n nuutjie was, net so voor die verskyning van klankkaarte soos Soundblaster, toe ek ‘n Afrikaanse spraaksintetiseerder probeer skryf het wat deur die piepklein luidsprekertjie gepraat het. Ons het sinne soos “Die bok skop die melkemmer om” ingetik en ure se pret gehad!
Ek glo darem nie mense soos Daniel Hugo hoef slapelose nagte oor die rekenaars se vertalings te hê nie. Daar is net eenvoudig te veel dinge wat in een taal gesê kan word, wat eintlik in geen ander taal gesê kan word nie. Dit kan mens sommer in Daniel Hugo se vertalings van Herman de Coninck sien waar die oorspronklike gewoonlik saam met die vertaling afgedruk is. Ook uit eie ondervinding met die enigste vertaling uit Engels wat ek nog probeer maak het, Archibald MacLeish se Ars Poetica, was daar ‘n paar dinge wat eenvoudig nie sommer net so vertaal kan word nie. So bv. het ek maple leaf met boegoeblaar vertaal. Daardie tipe van sprong dink ek sal net onmoontlik wees om in ‘n rekenaarprogram in te bou.
Wat ek wel wil toegee dat die rekenaar wel goed ingespan kan word om te help om die maklikste dele van die vertaling klaar te kry, en vir die moeilike dele om idees te genereer.
Maar wag, hier net voor middernag steek ‘n donderstorm op in Johannesburg – selfs daarteen is die ding nie bestand nie – ek moet uitprop!