Die Virginia Quarterly Review is nie net een van die mees bekroonde literêre tydskrifte in die VSA nie, maar ook een van die invloedrykste. Einde Julie is die literêre sfeer van dié tydskrif egter tot in sy fondamente geskud toe Kevin Morrissey, uitvoerende redakteur van die VQR, selfmoord gepleeg het. Volgens ‘n berig wat kort hierna in die Chronicle for Higher Education verskyn het, is vingers gewys na Ted Genoways, hoofredakteur van die VQR, aangesien kollegas geglo het dat hy Morrissey tot dié drastiese daad gedryf het met sy bullebakhouding en boelieagtige bestuurstyl.
Pas het die Universiteit van Virginia egter die bevindinge van hul ondersoek na dié aangeleentheid bekend gemaak. Volgens hulle is daar geen grond vir sodanige aantygings jeens Genoways nie. Die verslag het soos volg na die klagtes wat in die maande vóór Morrissey se selfmoord by die owerhede ingedien was, verwys: “Earlier notifications this year consisted mostly of concerns about organizational structure and untimely management communication styles; more recent concerns encompassed a failure by the Editor to follow institutional procedures in a variety of areas. There were reports through the years of the Editor not being courteous or respectful with some contributors and colleagues, as well as problems with certain employees, but none ever seemed to rise to the level of a serious, on-going concern. The reports were mostly viewed by others as conflicts between a creative, innovative manager and persons who did not share the Editor’s aspirations.”
Vreemd genoeg word daar wel nou nuwe prosedures én “management control” deur die Universiteit op die redaksie, en hoofredakteur, van die VQR afgeforseer: “All members of VQR staff may remain in their current positions, although, as was outlined in the report, there will be a different management structure put in place. Staff members, who just learned about the recommendations of the report today, have been given the time they need to decide if they wish to remain with VQR or pursue other options.” Aldus Carolyn Wood, assistant-visepresident van Openbare Aangeleenthede by die Universiteit van Virginia.
Maar, heel tereg vra Carolyn Kellogg van Los Angeles Times, die volgende vraag aan die einde van haar berig: “How this matches with the report’s second recommendation – ‘Appropriate corrective action should be taken with regards to the Editor’ — remains to be seen.”
Mmm, ruik ek iets brand in die Koninkryk van Denemark? Nietemin, Ted Genoways se (vroeëre) reaksie kan hier gelees word.
***
Sedert Vrydag het daar heelwat nuwe plasings bygekom: Lize Viljoen vertel van Waikikistrand in Hawaii, Chris Coolsma lewer die derde aflewering in reeks oor wat Afrikaans vir hom beteken; Charl-Pierrre Naudé bespreek ‘n besonderse gedig van Gilbert Gibson en Johann Lodewyk Marais het die volgende twee aflewerings oor die wêreld van Eugène Marais geplaas. In sy gedigte kamer is daar ook nog 5 gedigte deur Fanie Olivier waaraan jy jou kan verlustig.
Ten slotte – Gesien in die lig daarvan dat Nuuswekker verlede week oor bepaalde prestasies van ander webtuistes berig het, wens ons vanoggend ook ons eie veertjie in die hoed te steek: Versindaba het naamlik gisteraand laat sy 300,000ste besoeker aan die webblad gehad … Inderdaad iets waaroor ons nie net uitermate opgewonde is nie, maar ook dankbaar. Veral vanweë die volgehoue steun en lojaliteit jeens hierdie inisiatief uit soveel oorde. Baie dankie daarvoor.
En geniet die week wat op hande is.
Mooi bly.
LE