Andries Bezuidenhout. Om jou land soos ʼn gedig te moet lees

ʼn Sin vir humor is nou nie juis iets wat ek met Marxiste assosieer nie. Ek het Terry Eagleton se boek How to Read a Poem dus met ʼn goeie dosis skeptisisme begin lees. Tot my verbasing hou ek nogal van sy stem – deurgaans baie krities, maar sonder om swaarwigtig te word. Ek hou van die behoudendheid van sy benadering. ʼn Aanhaling om te illustreer:

Literary criticism is at risk of reneging on both its traditional functions. If most of its practitioners have become less sensitive to literary form, some of them look with scepticism on the critic’s social and political responsibilities. In our time, much of this political enquiry has been offloaded on to cultural studies; but cultural studies, conversely, has too often ditched the traditional project of close formal analysis. Each branch of study has learned too little from the other.” (p. 16)

Hy maak verder die punt dat ondervinding in die verlede iets was wat die kommoditeitsvorm ondermyn het. Deesdae is ondervinding egter iets wat jy beleef, nie iets wat jy deur ervaring verkry nie. Experience becomes an experience. ʼn Ondervinding word verpak – jy doen die Groot Muur in China, jy doen die Tate Modern.

Om ʼn samelewing te “close read” en dan op grond van daardie ontleding ʼn opinie uit te spreek, blyk ook moeiliker te word. Het ons die nodige vaardighede vir ʼn ingeligte openbare gesprek? Het ons die spanwydte en diversiteit van inligting wat daarvoor belangrik is? Neem ʼn kritiese massa van die burgery daaraan deel?

Ek kan nie help om konstant te dink aan die joernalis wat onlangs Sol Plaatje se selfoonnommer wou hê nie. Soms wonder ek ook oor die vervlakking van gesprekke in die openbare ruimte – die uiteindelike gevolg van “inligting/informasie” in kommoditeitsvorm; iets wat verbruik word. Soms word die kommoditeitsvorm van nuus sommer ʼn etiese beginsel ook:

“Ons gee vir die verbruikers wat hulle wil hê, hoekom bevraagteken jy wat ons doen?”

Veral in die Afrikaanse wêreld.

Dis in tye wanneer die media, saam met die burgerlike samelewing, die staat moet aanvat oor pogings tot sensuur wat hierdie kommoditeitsgedrewe etiek een van die gevaarlikste wapens is wat teen ʼn oop gesprek gebruik kan word:

“Julle sê julle is die waghonde van die demokrasie, maar kyk wat doen julle – kyk hoe laag daal julle om geld te maak. Omdat julle lesers wit is, rapporteer julle net oor wit slagoffers van misdaad. Julle is maar net nog ʼn kapitalistiese maatskappy.”

Of ewe erg. Die lesers self stel meer belang in die huwelik van hierdie rugbyspeler of die gevroetel van daardie sanger. Hulle weet nie hoe werk die ekonomie nie. Hulle ken nie die geskiedenis nie. Hulle lees nie oor boeke nie en lees daarom nie boeke nie. Kompleksiteit word immers moeilik verpak en bemark.

Gaan ons populistiese president ʼn populistiese media op die markplein ontmoet in ʼn dodelike omhelsing?

Terry Eagleton

 

 

Verwysing:

Terry Eagleton. How to Read a Poem (Blackwell, 2008).

Bookmark and Share

16 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Om jou land soos ʼn gedig te moet lees”

  1. Desmond Painter :

    Andries, jy is lelik met die Marxiste, man! 🙂 Ek is mal oor Terry Eagleton, sedert ek sy boeke Literary Theory en veral Ideology as student gelees het. Laasgenoemde is nog steeds een van die beste inleidings tot ideologie wat ek ken. En sy resensie van Dawkins se The God Delusion was briljant EN snaaks (dit was destyds in Afrikaans ook gepubliseer, in Johann Rossouw se Die Vrye Afrikaan — ek weet mens is veronderstel om Johann tydig en ontydig, in romans en in gedigte en op kollokwia, sleg te s^e, maar Die Vrye Afrikaan was wel ‘n poging om ‘n meer diepgaande, minder gekommodifiseerde (?) openbare diskoers aan die gang te kry, en Johann is vandag 40 so kom ons wees hom genadig!)

  2. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, ja, ek het persoonlik nie juis appeltjies te skil met Johann Rossouw nie. Maar ek dink nie die Vrye Afrikaan het ‘n groot impak gehad nie, dalk juis omdat dit as alternatief tot die hoofstroom aangebied is.

  3. Desmond :

    Andries, nee ek dink ook nie dit het juis ‘n impak gehad nie. Dit is myns insiens nogtans jammer dat dit moes vou. Ek dink wel dat Johann se efforts te maklik afgeskryf word. Ek self vind die ‘gemeenskap’ retoriek a la Danie Goosen verdag at worst en onwerkbaar at best, maar Johann veral is darem ook nie Dan Roodt of Eugene Terre Blanche nie. Op Stellenbosch, eerder as om intellektueel met die idees om te gaan, was en bly die strategie om mense soos hy net eenvoudig te beledig en dood te gil. Ek self was eenkeer by ‘n geleentheid waar iemand geweier het om my selfs te groet omdat ek ‘n ‘rassis’ en ‘Afrikanernasionalis’ was (die persoon het uit haar pad gegaan om beledigings oor wit Afrikaner mans rond te slinger) — en die rede vir haar haat was gewoon omdat ek vriende is met Gerrit Brand!!! Maar nou ja, Stellenbosch is nou nie juis die bakermat van goeie openbare intellektuele diskoers nie. Ons verkies ander strategiee: flankeer met wie ook al mag het, maak ons vyande verdag, of trek terug in geprivatiseerde drome van tuinmaak, kook en gedigte skryf. Dis hoe ons is. OK ek het ‘n kopseer vanoggend en dis einde van die akademiese jaar, so neem dit alles maar met ‘n knippie sout.

  4. Andries Bezuidenhout :

    Soms raak ek heel sentimenteel en nostalgies oor die dae toe ek as student die Vrye Weekblad gekoop het, saam met ‘n 500ml melk en ‘n worsrol. Ek het sommer op die sypaadjie voor die kafee op die hoek van Duncanstraat en Lynwoodweg gesit en die koerant gelees. Daar was ook die Suid-Afrikaan, Insig, en De Kat (soms ernstiger as bloot die huise van celebs) om van te kies.
    Wat het ons nou?

  5. Desmond :

    Andries, na my gekla hierbo het ek drie Grandpas gaan drink en voel toe stukke beter. Maar ek het nogtans gedink Marlene van Niekerk se ‘stekies’ na Rossouw in Memorandum en in die Brief aan SA was, juis omdat hulle waarskynlik spruit uit persoonlike irritasies, onnodig en ‘jarring’. Selle met opmerkings wat Koos Kombuis destyds oor Rossouw gemaak het in Die Dieper Dors (?).

    Jislaaik, jy vat my nou terug!! Ek het Vrye Weekblad in St 9 begin koop, maw in 1991, en in my eerste jaar, 1993, was my grootste plesier om Vrydagmiddae na klas Die Vrye Weekblad en Weekly Mail te koop en dan deeglik te lees. Ek het gewoonlik ‘n bordjie chips en ‘n koffie in die Neelsie gekoop en dan gelees terwyl ek gewag het vir ‘n vriend om sy fisika praktikums vir die middag af te handel.

    Dit was nog die ou Neelsie, nie die mini-mall van vandag nie. Ek mis die ou Neelsie.

    Destyds het daai koerante my ‘n paar dae lank gehou; deesdae is daar min plaaslike koerante wat meer as ‘n uur besig hou.

    Ek het al my ou Vrye Weekblaaie en Suid-Afrikane hier in ‘n kas in my kantoor. Ek moet miskien van die voorblaaie raam of iets.

  6. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, ek het ook nog ‘n klomp Vrye Weekblaaie. Dis seker ‘n bietjie sad. Hierdie is dalk ‘n goeie reaksie op Johann rakende sy lees van Agaat: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=93394&cat_id=1905
    Maar dalk is ek nie objektief nie.

  7. Desmond :

    Andries, Irma se artikel is sekerlik die beste ding nog oor Agaat; en sy is beslis korrek oor die tekortkominge van Johann se politieke lees van die boek. Ek bedoel maar net: of mens met hulle saamstem of nie, ek dink nie Johann en ook Danie Goosen se bydraes tot die openbare debatte van die afgelope dekade was sinies en afbrekend op die manier wat bv. Dan Roodt is nie, en dat die woede, irritasie en persoonlike karakteraanvalle wat hulle soms in veral Stellenbosch ontlok het, vir my vreemd is. Goed, emosies het hoog geloop oor die taaldebat; en ek weet sommige van die destydse Groep van 63 het Marlene van Niekerk as a-polities gekritiseer in ‘n ope brief of iets in Rapport. Maar nogtans, om mense soos Johann, Danie Goosen en Pieter Duvenhage se politiek as ‘n soort lunatic fringe uit te beeld, is ‘n bietjie onrealisties. Juis daarom is Irma se reaksie op Johann se lees van Agaat soveel meer bevredigend as bv. Anton van Niekerk s’n destyds; dit maak erns met die politieke dimensie van Agaat en toon die beperkinge van Johann se lees analities aan eerder as om sommer net terug te val op ‘name calling’. Maar nou ja, ten minste kan Johann eendag vir sy kinders s^e sy naam is verewig in klassieke tekste soos die van Marlene van Niekerk!! 🙂 Wie sal nou nie in iets soos Memorandum beledig wil word nie?!

  8. Charl-Pierre Naude :

    Hallo, Desmond en Andries. Onthou, dis Pieter Duvenage, sonder ‘n “h”. En hy is sonder twyfel een van die beter filosowe in ‘n land sonder die idee van openbare diskoers.

  9. Desmond Painter :

    Hallo Charl-Pierre. Oeps, ja, ek het Pieter se van verkeerd gespel! Pieter Duvenage is inderdaad ‘n dinamiese denker en ‘n baie aangename en intellektueel vrygewige mens op die koop toe. Ek het myself nooit juis polities tuis gevoel in die ‘gemeenskap van gemeenskappe’ diskoers nie, maar ek het ‘n baie groot waardering gehad vir wat Pieter, Danie, Johann en ander in die domein van openbare diskoers probeer vermag het met Fragmente, die Groep van 63 e-poslys, hulle koerantbydraes, radiopraatjies (Johann Rossouw saam met Johann Botha op RSG byvoorbeeld — was dit Spookstasie?), en Die Vrye Afrikaan.

  10. Wysneus :

    Andries, was jou worsrol dalk ‘n footlong van Varsity Bakeries?

  11. Andries Bezuidenhout :

    Wysneus, ken ek jou dalk?

  12. Wysneus :

    Andries, neewat, ek dink nie so nie. Maar ek was omtrent ‘n dekade lank op Tuks, so dit kan wees. Ek het meer footlongs geëet as wat moontlik goed vir ‘n mens kan wees.

  13. Andries Bezuidenhout :

    En arme ek het daai footlongs verkoop by Varsity Bakery se kiosk in Tukkiewerf, om my klasgeld te betaal en om na Koos Kombuis en Valiant Swart se gigs in Navigators toe te kan gaan. Dis nou na ek ophou werk het as gids by die Willem Prinsloo Landboumuseum. Wat ‘n mens nie alles as student sal doen vir geld nie!

  14. Desmond :

    Ek het vakansies vir geld by Eskom gewerk, in die streek se hoofkantoor in Bellville. Met die oopplan ‘kantore’ en vreemde mense saam met wie ek in die finansiele afdeling gewerk het, was dit NET soos Ricky Gervais se The Office. Toe ek daai program die eerste keer sien het ek nie geweet of ek moet lag of PTSD kry nie. Dis toe dat ek besluit het om nooit weer die universiteit te verlaat nie…

  15. Wysneus :

    Desmond, ‘n sosioloog sou tien verhandelinge kon skryf oor die verskille tussen die Britse en Amerikaanse The Offices as kristallisering van kontraste tusse daai twee kulture.

    En dink: Belville is darem nou nie Slough nie. Dit kon Boksburg, Benoni, of Springs gewees het.

    My persoonlike Damaskus was die Yskor-fabriek in Vanderbijlpark. Toe hulle vir my na ‘n week vertel die roesbruin duiwe is geneties wit, het ek begin twyfel. Maar toe ek die eerste keer die bloedrooi vuurvaste kouse by die groenspanspek-groen uniform aantrek, het die skille van oë afgeval.

  16. Desmond Painter :

    Wysneus, ja, om die twee sistematies te vergelyk sal fassinerend wees… en nee, Bellville is inderdaad darem nie Slough nie! Om die waarheid te s^e, die beste ding van my maande by Eskom was om oor middagete in Voortrekkerweg op en af te loop. Destyds was daar ook nog ‘n redelik goeie Juta (of dalk Van Schaik) daar, en ek kon dus heelwat boeke koop. Al my Sheila Cussons is daar gekoop, op uitverkoping, met Eskom geld.

  •