Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
29 October 20106 February 2011

Charl-Pierre Naudé.Kombersterme, tafeldoeke en die wonderlike verdwaaltoerusting van jou buitewestelike pastoriekok

Hoe versigtig word daar omgegaan met literêre terme? Ek praat nou van terme soos “surrealisme”, “magiese realisme”, ensovoorts?

     Na my gevoel, nie genoeg nie. Hieraan moes ek dink toe ek ‘n navraag aan die e-posdres van ’n mededigter gestuur het.  Wat verstaan jy onder die term “konkrete poesie”, was my vraag. Sy antwoord was iets in dier voege: Mens moet die gebruik van ’n term tot op hede in ag neem en veral let op die omskrywing wat die term histories aangedui het. Absoluut waar.       

     Maar mens moet ook bereid wees om soepel om te gaan met gevestigde terme. Dis hoe terme hul betekenis en toepasbaarheid uitbrei en hernuwe.

    En net hier, of daar, in die bereidheid waarna ek pas verwys het, lê die gevaar van slordige of inflasionêre gebruik van terme. Dis maklik om in ’n perdevy te trap wat so groot soos die grasperk is.

     Een van die mees misbruikte terme in die geskiedenis van die letterkunde moet sekerlik die term “magiese realisme” wees. Die omskrywing daarvan dui soms omtrent enige kombinasie van fantasie-elemente met mekaar, of met realisme, aan. Realisme is natuurlik ook nie ’n vasstaande gegewe nie en kan na meer as een soort inhoud verwys. (Die magic carpet ride ding is nou werklikwaar ’n bul van vloeibare water vir sommige kritici, hoor, en sy horings is kennelik van suiwer mis.)  

     “Magiese realisme” is in der waarheid ’n term wat ’n bepaalde greep in Suid-Amerikaanse letterkunde aandui. Dis ‘n term wat ’n baie spesifieke soort betrokkenheid by ’n baie bepaalde gegewe omringende sosiale werklikheid impliseer. Magiese realisme het ‘n swyende bagasie wat daarmee saamkom, wat die oogmerke daarvan en die lees-horison daarvan bepaal.    

     Mens sou soms sweer alles onder die son is “magies realisties” behalwe die annale van Binnelandse Sake. Dis eerder andersom.

     Behalwe vir die kostelike skryfwerk van enkele groot name, is dit soms ’n narratiewe truuk wat gebruik word in die plek van karakterontwikkeling of in die plek van oortuigende narratiewe kohesie in ’n verhaal. (En selfs die “groot name” is soms hieraan skuldig!)

    Maar verreweg nie alle kombinasies van fantasie en realisme kan as magies realisties beskryf word nie. Ek het al op geleentheid gelees dat Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie “magies realisties” is! Huh? Dink u nie dalk aan Milk of Magnesia nie, meneer/mevrou? Dis ’n purgeermiddel vir amnesia.

     Daar is ’n probleem met sulke oorkoepelende terme. Dis handig, maar meestal bedoel om spesifiek gebruik te word. Wanneer dit as sorteerterm aangewend word, is dit meestal ’n manier om die water te vertroebel (overgesetsynde: goeie Afrika-tradisie).  

    Neem byvoorbeeld die term “surrealisme”. Nou daar het jy ’n veelkoppige kopspelt, hoor! Oftewel ’n kombersterm wat die jare sestig, plus die fees van Woodstock, ruimskoots kan bedek. As ’n uitdrukking maar net ’n bietjie skeef glimlag, dan is dit kwansuis “surrealisties”.

     Ek het op ’n keer in ’n resensie ‘n digter se bundel as “surreëel” beskryf. Toe ek dieselfde resensie in die koerant lees, staan daar “surrealisties”. I kid you not. Die een of ander brain surgeon by die koerant het besluit om ter plaatse  ’n operasie op my woordgebruik uit te voer, en dit gelykgestel aan “surrealisties”. Die verskil tussen  “surreëel” en “surrealisties” is omtrent so groot soos die verskil tussen die linkerkant van die Rooisee en die regterkant nadat Moses die arme waterliggaam met ’n stok gedonder het. Dit lyk maar net dieselfde. God is my getuie!

     En so van “God” gepraat. Toe my eerste digbundel uitgekom het, jare gelede, het ’n skerpsinnige Protestant die hele bundel afgemaak as ‘n klakkelose naskrywing van “Breytenbach se surrealisme”. Wil jy nou meer (of minder). Die armsalige siel het klaarblyklik nog nooit surrealistiese digkuns gelees nie (behalwe die een geval in sy eie letterkunde, naamlik Breytenbach), of die verskil tussen elipties en surrealisties gesnap, en helaas ook nie geweet dat die huis van die surrealisme vele kamers het nie, not unlike sy Vader se mansion in die Reformasie.

     ’n Interessante voorbeeld is ‘n onlangse beskrywing van T.T. Cloete se digkuns as simbolisties. Die fout kan vergewe word. (As ek reg is om dit as fout te benader, wat ek natuurlik is, omdat dit ek is wat hierdie blog skryf en nie iemand anders nie.) Maar dit kan nie aanvaar word nie.

     Cloete werk met simboliese betekenisse, ja, en ook meestal baie goed. Die intrinsieke bestanddeel van die begrip “simbolisme” is egter ’n marge van vryswewendheid wat glad nie, maar glad nie, by Cloete voorkom. Dink: Heisenberg. Apostoliese klippe bak is één ding (al word dit daarna hoe mooi geverf vir die opdis), katolieke snuf in die neus is glads iets ánders. (En met “katoliek” bedoel ek nie religie nie.)

     Mens moet lekker doekvoet wees by die opdoek van terme, oftewel by die afdek van tafeldoeke. (Ja, oukei, ek praat ook met myself.)

     Mens kan nie nét “kook en geniet” nie.

     

          

    

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

3e gedagtes oor “Charl-Pierre Naudé.Kombersterme, tafeldoeke en die wonderlike verdwaaltoerusting van jou buitewestelike pastoriekok”

  1. Charl-Pierre says:
    31 October 2010 at 11:01

    Beste lesers van my blog. Vir die soveelste keer het ek nou al kommentare by my blogs gekry wat onhoudbaar armoedig is in inhoud. Ek moes ‘n hele rits skrap. As dit nie ‘n kleingeestige, onvergenoegde mededigter is wat ‘n vertoonkas maak van die infantiliteit en snedigheid waartoe Afrikaanse kultuur soms ter helle kan neerdaal nie, is dit die een of ander persoon wat die ruimte klotter met ontersaaklike selfbehepte pogings tot humor. Die idee is om in gesprek te tree. Hierdie is die laaste inskrywing wat ek ooplaat vir opmerkings. Alle toekomstige bloginskrywings van my kant af sal gesluit wees vir opmerkings. Die mense wat die welkomste is om kommentaar te lewer, het nie die nodigheid om dit te doen nie. Ek bedank egter mense soos Desmond Painter en ander vir waardevolle en leersame opmerkings in die tyd waarin ek hierdie blog geskryf het.

  2. Charl-Pierre says:
    31 October 2010 at 10:53

    Ek wil ‘n voetnota plaas by my verwysing na “apostoliese klippe” hierbo. Dis in ligte trant bedoel. Daar is meer as een vorm van fokus, van strengheid, daar is baie vorme, natuurlik, en die soort strengheid (”rigour”) wat mens kry by “apostoliese klippe” kan op sy beste net so mooi en “engaging” wees soos by “katolieke vryswewendheid

  3. Desmond Painter says:
    29 October 2010 at 15:46

    Of “postmodernisties”/”postmodernisme”. Begrippe wat dalk geheel en al uit sirkulasie gehaal moet word.

Kommentaar is gesluit.

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Resensie: “’n Ander wêreld” (Eunice Basson)
  • Anne-Marie Bartie. alpha centauri
  • Anne-Marie Bartie
  • Stephan du Toit. Witgatboom

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Brief, 10 November 2025
  • Carina van der Walt. Paryse dagboek
  • Joan Hambidge. Philip de Vos – die boek op die regte oomblik
  • Nuwe publikasie: “Troilus and Criseyde” in Afrikaans vert. deur Johan Boje
  • Digtersprofiel: Mari Grobler

Nuutste kommentaar

  1. Peet van Schalkwyk on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek10 November 2025

    Baie dankie Vds

  2. VDS Brink on Peet van Schalkwyk. Camdeboo, Van der Waltshoek8 November 2025

    Peet, dit is aangrypend mooi!

  3. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)3 November 2025

    Dankie, Joan.

  4. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)31 October 2025

    Was es ist! Puik vertaal.

  5. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Erich Fried (1921-1988)30 October 2025

    Dankie, Willemien du Preez. Fried skryf verrassend boeiende gedigte vol abstrakte selfstandige naamwoorde - dit waarteen gewoonlik gewaarsku word deur…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d