Klein reis: 27 Okt. – 1 Nov.
“Memory, says Borges, is very much like forgetfulness.
It comes into and fades from focus.” – Ben Tery
die dood moet soos ‘n voëltjie wees
wanneer aandlig daal om die breë vloei
van die rivier in donkerwordende goud te doop,
en die voëltjie val
en dryf in ‘n nag van sterre
*
Op die platteland in België
Het ek deur die treinvenster
Gesien hoe mooi en fleurig
Getooi ‘n begraafplaas is.
Asof dit liefdevol soos
‘n Groentetuin bewerk word.
En waarom sou vleesakkers
Nie groentetuine en blomtuine
Wees nie? Die behoefte
Aan voedsel en aan skoonheid
Word al hoe groter
En die messtof en toegewyde
Aandag is dáár.
*
plant bome, struike, dié wat vinnig groei
om die grond waar ons asse en ander weggooi
begrawe lê die skyn van vastigheid te gee
ons gly so maklik weg in die vergetelheid
maak die paaie wyer as dit moet
dis goed dat mense op en neer kan loop
maar bou ‘n heining of span ‘n draad
óm daardie walle waar ons beendere
soms glinsterend uit die aardkors breek
sodat verbygangers na die toekoms
nie hulle voete sal sny met sterfskerwe nie
trek vir hulle spoggerige klere aan
geel baadjies, onderrokke met kant
om die naaktheid te bedek
terwyl hulle hier op en neer loop
asof niks ooit gebeur het nie
en alles vir altyd aan sal hou
*
Europese stede
vogtige keie
lug ‘n somber poep
en die dwarrelende blare
is die goud van vertederde gisters
*
Nederland, 2010
ou moffies met kaal hoofde
suwwe daggaverslaafdes
se oë is wyd van vervolgers sien
keurige jong fasciste
met gekapselde haardosse
serieus
en onmiddellik dekadent
*
I slept in the shadow of White Mountain
but around the high temples of the mountaintop
above the silvery bonnet of eternal snow
I could see wreaths of light shivering
this big this untouchable this white
this high my knowing will never reach
and through my fingers I tried to count
the prayer beads of scintillating stars
to liptaste your name once again
to capture as light raindrops your name
on my bitter tongue to plant your name
like an idol in the ground of my dreams
a god to bless my further journeys
for in calling your name blind on the way
with the blood of your name in the mouth
I crawl up ever steeper whitenesses of you
*
Die ou digter en die jong digter sit aan tafel, flets lig val oor die donker blad. Pura, die Meksikaanse vrou wat nou byna opgevreet is deur kanker, sy’s so petiet soos ‘n verhongerde mossie, net haar oë gloei nog groot van tussen die versreëls kyk in die dood, haar laaste opdrag is om vir haar seun wat ‘n baritonsanger is ‘n reeks lieder te skryf, het vir die ou digter vertel hierdie jongeling se totale doofheid kom van pampoentjies wat hy op sewejarige ouderdom gehad het. Die ou digter sukkel om die jong digter se uitspraak uit te maak. Hulle speel ‘n spel van name, van tye en getye en tradisies en klank gedra deur eeue se gedigte. Hóór die jong digter enigiets? Die name word geskommel en met skreefogies beloer, word triomfantlik soos wenkaarte op die bladspieël uitgepak.
“Wie is jou geliefde skrywers?”
“Vallejo. Lorca. Szymborska. Mandelstam. Du Fu…”
Elke naam bring ‘n snoer van verdere name.
“Ek gee vir jou twee Russe in ruil vir jou Chinees…”
“Wie is die digters wat jou aan die skryf sit?”
“Ha-ha-ha. Kavafi. Tsvetajewa. Celan…”
“Vertaal jy self jou verse vanuit Russies na Engels?” vra die ou digter.
“Emily Dickens het deurmekaar geraak met die grammatika, sy kon nie alles in die reëls insper nie,” antwoord die jong digter.
“Hou jy van Ritsos en Montale se werk?” vra die ou digter.
“Dis dalk waar,” antwoord die jong digter. “Maar Borges se verse werk goed in Russies, juis omdat dit so donker is.”
“Ken jy die werk van Lucebert?”
Sy donker oë is op die ou digter se lippe gevestig asof hy nog nooit ‘n mond van naderby gesien het nie.
“Ek kom van Odessa. Dis Babel se wêreld. Ek moet alles vóél.”
Is daar enigiets wat die jong digter kan hoor behalwe gedigte?
*
Toe die strate glimmend nat is buite in die donker nag lees Ilja Kaminski sy versreeks, “Dowe Republiek”, voor in die barok teatertjie La Bonbonnière waar blou en pienk verf afdop van die lyste se krulle. Eers het Elfi Sverdrup haar vreemde klankkonstruksies soos klonte voorgedra, die brullende opbreek van winde met asem soos ‘n duiwel se vloeke uit haar derms en buik totdat dit vasslaan teen die verhemelte. Een so ‘n knorknaag in die keelvel kom as dialoog van Inuït vroue wat met diep asemontploffings wedywer teen mekaar en die wat eerste lag verloor. Daarna lees Michael Krüger die brief wat God in die hemel vir Marx geskryf het, om te vra hoe dit gaan en waarmee hy hom deesdae besig hou. Marx hou nie van Bach nie.
En nou is dit die groot, lomp, dowe jong Ilja se beurt. Hy buig sy aansienlike bo-lyf in die losse trui oor die mikrofoon, haal sy bril af en bring die bladsye tot dig aan sy oë. En begin skandeer. “Hy praat nie soos ‘n dowe nie,” sê Pura. “Hy verwoord doofheid.” Aan die begin kan mens nie uitmaak of hy in Russies of Engels lees nie. Sy stem klim soos dié van ‘n wenende wolf. En tjank. So het Brodski ook gelees. Dit moet ‘n bepaalde Russiese ekstase wees. Vroeër die dag het hy gesê Brodski se raad was dat indien jy in die Empire lewe dit ver van die hoofstad moet wees, by die see.
*
Terwyl haar man slaap, vertel Sonja ‘n storie
… reg in die pad van die aankomende trein
naai ‘n vrou en ‘n man in die sneeu.
Oorweeg dit, my siel, hierdie tekstuur van koppigheid en wees stil:
terwyl sy sak en styg bo hom in die lug,
begeer hy haar en hy begeer haar nie, hy wil haar hê
met die belofte van daardie volheid.
Oorweeg hierdie aankomende trein
waarin die kondukteur fluit, die klok lui en skree
asof hy weier om te glo hulle is doof
Oorweeg, my siel, die doofheid
en die man, sy aardse voertuig.
Die trein hou stil, die kondukteur fluister
Mag julle die lotery wen en dit alles uitgee op dokters!
Die vrou trek haar jas reg, en lag –
“Een van ons moes eerste stop, meneer. Ek kon nie.”
*
Met die skielike koue vlamme van herfs begin gesels die bome teen die beboste heuwels met mekaar. Daar is so te sê ‘n knettering vurige herinneringe. Spatsels woede ook. En baie berou aan liefde.
Voor die stomtyd.
*
gister was ek ‘n Joegoslaaf
vandag is ek ‘n Belg
môre is ek ‘n engel in die hemel
één van onder tot bo
*
bo die slaapslangrivier
tussen geel en rooi bome
uitgeputte mynhope
soos piramidegrafte vir die armes
geen swart vlees
meer gepeul ondergronds, net
skagte hol aanwesigheid
ook in dorpies is skoorstene dood
*
die digtersfees
kyk na die digters
hulle kom uit verskeurde lande
met kole in die oë
en neergestuifde skilfers op kraag
en mou, sommige het vlae
van betrokkenheid geviervou
tot die inperking en samevatting
van ‘n teks in ‘n skraal bundel
wat hulle onder kalklig vanaf ‘n kateder sal mompel
vir ‘n yl gehoor wat niks verstaan nie
kyk hoe hulle in lomp danspassies
al sirkelende mekaar probeer bekoor
hoe hulle in romantiese verblinding
soek na die verleiding van die ander se lyf
hoe morsig en kortstondig eensaam
is die liefde
luister hoe hulle luister na mekaar
se voorlesing uit verse
asof dit die belangrikste nagnuus is
wat môre vroeg fladderend
sal wegvlermuis tot niks
slaap piekanienie die vee’s in die kraal
kyk hoe vergas hulle mekaar
met gefatsoeneerde klankdrolle,
‘n familietwis, ontroue bemindes,
vergete vaders, ‘n grepie onderdrukking,
die versugting na stilte in die grond
kyk hoe drink die digters
die drank wat ander betaal
observeer die skeefgetrapte skoene
die liprooisel wat bysiende aangeverf is
hoe hulle op die toilet die blokkiesraaisel
probeer invul van die koerant
wat gratis voor die hotelkamerdeur gelos is
kyk hoe onthou die digters die name
van dese en gene wat laasjaar
nog hier was gekruk op ‘n kierie
of laatnag besope en natgepis in ‘n gang
kyk hoe belangrik is die digters
elk voor eie spieël
wanneer die gloeilampie swak is
kyk hoe dun is hulle beursies
kyk hoe vernaam neem hulle afskeid
om te verdwyn in ‘n reële wêreld
onsigbaar soos bedelaars
met geheime opdragte
wie se stemme nie gehoor word nie
*
paraprosdokian – a phrase or a sentence that leads us down a garden path to an unexpected ending
© Breyten Breytenbach. November 2010
_____________________________________________________________
Breyten, ek is so bly dat ek deur lange jare ekstase beleef as ek jou gedigte lees. Baie dankie dat jy hierdie verse met ons deel. Melanie Grobler
So evokatief is die werke wat aanhou eggo deur die landskappe en stede van die verbeelding. Baie dele voel handgeskryf op nou verouderende geel papier wat bros uitmekaar trek en die gebeendere van betekenis laat deursteek- die “sterfskerwe” waaraan ons ons voete kan sny. Die gevoel is so Oos-Europees, vol broosheid en verglydende verlies wat ook die vergetelheid binnesypel. Die dwarse lewe van ironie, humor wat lomp dans op die uitkalwerende walle van die dood. Dis meesterlike vergangklikheid en vergetelheid. Die gees klop steeds soos ‘n hart deur dit alles, onsterflik kwesbaar.
Verbysterend.